Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Guptas het glo met aandeleprys gekul
Die Shiva-uraanmyn wat aan die Gupta-familie behoort.

Die Gupta-familie het die aandeleprys van ’n maatskappy wat hulle beheer het tydens sy debuut op die JSE kunsmatig verhoog.

Hulle het glo geld aan ’n maatskappy wat in Singapoer gebaseer is, geleen om met aandele handel te dryf. Dit was voordat hy begin planne maak het om ’n uraanmyn te bekom.

Die Guptas het glo in November 2014 ingestem om $1 miljoen uit Dubaise bankrekeninge te onttrek en aan Unlimited Electronics & Computers (UEC) van Singapoer te leen.

UEC het dieselfde maand nog $928 146 aan Oakbay Resources and Energy betaal.

Die twee maatskappye het ’n kontrak gehad wat UEC toegang tot 18,5 miljoen van Oakbay se aandele teen R10 per aandeel gegee het.

Dit is volgens e-posse wat op 20 November gestuur is en joernaliste van Bloomberg het hierdie e-posse gesien.

Die 2,31% belang in Oakbay was sowat R185 miljoen werd.

Ronica Ragavan, ’n werknemer by Oakbay, het op 27 November 2014 ’n e-pos aan Kamran Gani, direkteur by UEC, gestuur en gesê hulle moet 10 000 aandele teen R10,05 elk verkoop.

Hulle moes voor 5 Desember nog 10 000 aandele teen R10,08 verkoop.

Sy het die e-pos ’n dag voordat Oakbay op die JSE genoteer het, gestuur.

Die 20 000 aandele waarmee daar tydens Oakbay se debuut verhandel is, het hom ’n aandeleprys van R10,08 gegee.

Dit het die maatskappy ’n markwaarde van meer as R8 miljard gegee, wat meer as 48 keer sy voljaar inkomste was.

Die meeste mynmaatskappye wat in Johannesburg gebaseer is, het ’n inkomste wat meer is as sy markwaarde.

Die volume aandele waarmee daar op die dag van Oakbay se notering verhandel is, was die meeste tot nog toe vir dié aandeel.

Dit het ’n prysaanduiding vir toekomstige fondsinsameling bepaal. Dit het ook bepaal hoeveel aandele nodig sal wees om ’n lening wat deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) verskaf is, af te betaal.

Skandaal

“Handel is veronderstel om eerlik te wees. ’n Eerlike prys moet gestel word,” sê Clinton van Loggerenberg, ’n direkteur by die regsfirma ENSafrica.

“Dit klink na iets wat uit beginsel verder ondersoek moet word.”

Die kommunikasie tussen Ragavan en UEC en hoe daar met aandele verhandel is, is nog ’n voorbeeld van hoe die Gupta-familie by bewerings van korrupsie betrokke geraak het.

Die Guptas word nou verbind met pres. Jacob Zuma en sy seun Duduzane – al drie partye ontken skuld.

Uraanmyn

Oakbay het in ’n verklaring op 21 November 2014 voor sy notering op die JSE gesê hy gaan binne agt maande na die notering R800 miljoen by beleggers moet insamel om met bedrywighede by die uraanmyn te begin.

Hy het gesê die Guptas is bereid om hulle belang in hul beleggingsmaatskappy te verminder om dit reg te kry.

Nadat die NOK in 2010 R250 miljoen aan Oakbay geleen het, was hy bereid om sy belegging in aandele teen 10% afslag te omskep wanneer Oakbay op die JSE begin verhandel.

Die NOK sê UEC se belegging het gehelp om hom gerus te stel oor die waarde van die maatskappy.

“Die NOK is verseker dat UEC in daardie stadium geen skakels met aandeelhouers in Oakbay gehad het nie,” sê hy in ’n verklaring aan Bloomberg.

Oakbay het vanjaar gedenoteer nadat direkteure bedank het, en albei sy borg en oordragsekretaris weens mediaberigte oor die Guptas se verhouding met Zuma bedank het.

Gary Naidoo, ’n woordvoerder vir die Guptas en Ragavan, wou nie kommentaar lewer nie.

Nicky Newton-King, uitvoerende hoof van die JSE, het vroeër vanjaar gesê “die JSE se afdeling vir markregulasie het besluit om inligting oor verhandeling net na die notering aan die direksie vir markmisbruik vir verdere ondersoek te oorhandig.

Dié direksie vorm deel van die Raad op Finansiële Dienste.

– Bloomberg, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.