Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Guptas se vliegtuig steeds op Lanseria

Die peperduur 2015-model Bombardier Global 6000-vliegtuig wat aan die Guptas behoort het, staan steeds op Lanseria-lughawe, wes van Johannesburg.

Die ZS-OAK is die Bombardier Global 6000-vliegtuig wat aan die Guptas behoort het. Foto: Argief

Netwerk24 het Woensdag met die lughawe bevestig dat die vliegtuig nog daar geparkeer is.

Die vliegtuig het, net soos sy eienaars destyds, die aandag getrek toe ’n advertensie om hom te verkoop in September verlede jaar in koerante verskyn het.

Die vliegtuig het laatnag op 13 April 2018 op Lanseria geland nadat regter Fayeeza Kathree-Setiloane in Maart 2018 beveel het dat dit aan Export Development Canada (EDC) terugbesorg moet word.

Die vliegtuig staan sedertdien op dié lughawe.

LEES OOK: Vlieg soos ’n Gupta – vir R440 miljoen

Die luukse vliegtuig kan 14 passasiers vervoer en het selfs Wi-Fi aan boord.

Daar is voorheen verwag dat die vliegtuig vir soveel as $30 miljoen verkoop kan word. Dit was in September sowat R400 miljoen teen die wisselkoers wat toe gegeld het.

Teen die huidige wisselkoers van R17,26 teenoor die dollar beloop dit ’n aardige R518 miljoen.

Die Guptas het aanvanklik die vliegtuig in 2015 met behulp van EDC, ’n Kanadese bank vir in- en uitvoer, dié vliegtuig gekoop. EDC het $41 miljoen aan die Guptas geleen.

’n Woordvoerder van die Lanseria-lughawe het aan Netwerk24 gesê die vliegtuig is nog nie verkoop nie “weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie”.

Jetcraft, wat voorheen die vliegtuig geadverteer het, bied hom nie meer te koop aan nie.

Danie Joubert van Jetcraft sê hy was egter onder die indruk dat die vliegtuig wel al verkoop is, en dat die transaksie afgehandel sal word die oomblik wanneer die vliegtuig geskuif kan word.

Jetcraft het egter nie die transaksie beklink nie.

Daar kon nie ’n advertensie vir die vliegtuig op enige ander webtuistes waar vliegtuie te koop aangebied word, gevind word nie.

EDC in Kanada kon nie onmiddellik vrae oor die vliegtuig beantwoord nie, aangesien Woensdag ’n nasionale vakansiedag in dié land is.

Meer oor:  Guptas  |  Lanseria  |  Lughawens  |  Staatskaping  |  Lugdienste  |  Bombardier  |  Vliegtuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.