Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hamleys: Nuwe plan om SA deure oop te hou
Hamleys se winkel in die Waterfront in Kaapstad.Foto: Argief

’n Kinkel in die Hamleys-kabel het ’n swartbemagtigingsgroep die geleentheid gegee om die plaaslike franchise vir dié speelgoedgroep te bekom.

Hoewel Netwerk24 in Junie berig het dat Toy Kingdom ’n aanbod van R23 miljoen gemaak het om die franchise te koop, het Hamleys se nuwe internasionale eienaar dié aanbod van die hand gewys.

Hamleys, wat in Brittanje gesetel is, is in Mei vir £68 miljoen deur Reliance Brands bekom.

Reliance se grootste aandeelhouer is Mukesh Ambani, ’n Indiese sakeman en die rykste man in Asië.

“Nadat Reliance Hamleys oorgeneem het, het hy daarop aangedring dat maatskappye wat belangstel om die plaaslike franchise te koop, eers ’n voorlegging aan hom doen,” sê Stefan Steyn, sakeredder van Business Rescue Practitioners, wat aangestel is om die sakeredding van Hamleys in Suid-Afrika te behartig.

Reliance het Antares, ’n private maatskappy wat aangebied het om eerder die hele franchise te herkapitaliseer en ooreengekomde uitstaande skuld aan debiteure te betaal, as koper gekies.

Antares word besit deur Rand Outfitters, ’n familieonderneming wat skoene by ses takke aan die Oos-Rand verkoop, en Osbro, ’n kleinhandelaar wat huisware in die suide van Johannesburg verkoop.

Antares het ’n 100%-belang in Hamleys vir R1 bekom in ruil vir die herkapitalisering van die franchise.

Die franchise het voorheen aan Ensolor behoort.

“Hierdie is die beste uitkoms waarvoor ons kon hoop,” sê Steyn aan Netwerk24.

Uitdagings

Van die groot uitdagings wat die nuwe eienaar het, is om uitstaande skuld, soos waarop ooreengekom is, te betaal.

Steyn het voorheen gesê die groep se skuld beloop sowat R144 miljoen.

Die nuwe eienaars gaan ook voort om ’n nuwe winkel oop te maak in Fourways, Johannesburg.

Steyn sê hoewel Antares ook Hamleys se hoofkantoor, in die Bedfordsentrum in Bedfordview, Johannesburg, na die groep se pakhuis wil skuif, gaan dit waarskynlik nou eers in November gebeur.

Soos voorheen voorgestel, sal Derek Kohler, afgetrede direkteur van kleinhandelbedrywighede by Truworths, die nuwe eienaars in die oorgangstydperk help.

Krediteure

“Die krediteure het reeds die sakereddingsplan goedgekeur.

“Antares is ook reeds besig om met verhuurders oor ruimte vir kantore en winkels te onderhandel,” sê hy.

Steyn sê wat Antares se aanbod bo dié van Toy Kingdom s’n laat uitstaan het, is juis omdat krediteure ten minste ’n deel van die geld wat hulle geskuld word, gaan terugkry.

“As Toy Kingdom die franchise sou koop, sou krediteure niks kry nie. Hulle sou ook niks kry sou Hamleys gelikwideer word nie,” sê hy.

Steyn sê dat buiten dat die bestaande Hamleys-speelgoedwinkels nou definitief hul deure gaan oophou, het hy en die nuwe eienaars ook die onderneming van Reliance dat hulle verdere ontwikkeling van nuwe winkels in Suid-Afrika gaan ondersteun.

Vorige eienaar

Van die vorige eienaar, Philip Paphitis, die hoof van Ensolor, sê Steyn is daar nog geen teken nie.

Steyn beskuldig vir Paphitis daarvan dat hy R20,3 miljoen aan die einde van 2018 by die groep gesteel het.

Paphitis het dié bewerings heftig in ’n e-pos aan Netwerk24 ontken.

Paphitis het aan Netwerk24 gesê hy is “oorsee”.

Steyn sê die groep oorweeg steeds regstappe teen Paphitis.

Meer oor:  Hamleys  |  Philip Paphitis  |  Kleinhandelaar  |  Speelgoed  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.