Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hamleys: SA baas vat glo pad met miljoene

Die grootbaas van Hamleys in Suid-Afrika het glo in Desember die groep speelgoedwinkels se bankrekeninge leeggemaak en al die kontant by die winkels gevat.

philip paphitis
Philip Paphitis, baas van die speelgoedgroep Hamleys in Suid-Afrika. Foto: Facebook

Philip Paphitis, uitvoerende hoof van Ensolor en ook die maatskappy se enigste direkteur, het sedertdien na bewering spoorloos met al die geld verdwyn. Ensolor is die maatskappy wat Hamleys in Suid-Afrika bedryf.

Stefan Steyn van Business Rescue Practitioners, wat aangestel is om Ensolor se sakeredding te behartig, het dié onthulling in ’n onderhoud met Netwerk24 gedoen.

“Hy het die groep rot en kaal besteel en die pad met sowat R20,3 miljoen gevat,” sê Steyn.

Hy sê nie hy as sakeredder of enige van die partye wat deel het in die sakeredding het enige idee wat van Paphitis geword het nie. Hulle vermoed hy bevind hom moontlik in Siprus.

Steyn het Dinsdag die voorgestelde sakereddingsplan aan al die krediteure van die maatskappy voorgelê.

In dié plan word die gebeure wat na bewering in Desember 2018 plaasgevind het as volg beskryf:

“Terwyl die hoofbestuurder (van Hamleys) by sy broer oorsee vakansie gehou het, het Paphitis al die regte van betroubare bestuurders verwyder wat die maatskappy se bankrekeninge betref.

“Hy het toe, oor ’n tydperk van twee weke van middel tot laat Desember 2018, stelselmatig al die geld uit die maatskappy se rekeninge na sy eie persoonlike rekening oorgeplaas. Hy het sowat R18 miljoen van die maatskappy se rekeninge na sy eie oorgeplaas.

“Hy het ook al die winkelbestuurders aangesê om kontant wat die winkel verdien, persoonlik vir hom in kontant te gee en dit nié in ’n rekening in te betaal soos voorheen gedoen is nie. Hy het op dié manier meer as R2 miljoen by die winkels gevat.

“Al dié dinge is gedoen ten spyte daarvan dat Phafitis die skuldeisers persoonlik belowe het hy sal ná die Kerstyd – wat tipies ’n hoogtepunt is vir speelgoedverkope – betalings doen,” luidens die sakereddingsplan.

Toe die hoofbestuurder in Januarie by die hoofkantoor terugkom ná sy vakansie, kon hy op ’n video-opname sien hoe Phafitis die kantoor binnekom met ’n trollie en toe die kameras afsit sodat sy verdere bedrywighede nie afgeneem kon word nie.

Hy het glo toe verskeie belangrike dokumente en al sy persoonlike besittings uit die kantoor verwyder.

Daar is tóé besef wat Paphitis gedoen het, luidens die sakeredddingsplan.

As hy [Paphitis] nié vervolg word nie, watter boodskap stuur dit aan buitelandse maatskappye wat hier wil kom sake doen?
Stefan Steyn van Business Rescue Pratitioners

Paphitis reageer glo glad nie op sy e-pos nie en beantwoord ook nie foonoproepe nie.

Steyn het bevestig hulle gaan ’n strafregtelike klag teen Paphitis by die polisie indien.

“As hy (Paphitis) nié vervolg word nie, watter boodskap stuur dit aan buitelandse maatskappye wat hier wil kom sake doen?” vra Steyn.

Hamleys Suid-Afrika is ’n franchise van die Britse speelgoedgroep met dieselfde naam.

“Hamleys in Brittanje is geweldig ondersteunend in die hele proses, al is hulle glad nie by die bedryf van die maatskappy in Suid-Afrika betrokke nie,” sê Steyn.

“Die maatskappy is baie gesteld op sy goeie reputasie in die mark en doen moeite om die probleme hier te help oplos.”

Luidens die sakereddingsplan is Paphitis sedertdien finaal gesekwestreer.

“Die sakeredder werk saam met die trustees van Paphitis se boedel om geld vir die maatskappy en ander krediteure van sy insolvente boedel te verhaal.”

Dit blyk uit die sakereddingsplan dat Paphitis al voordat hy met die miljoene verdwyn het, die speelgoedwinkels gebruik het om vir ’n luukse leefstyl te betaal.

Hy het glo ’n Range Rover gehad wat die maatskappy betaal het en het besigheidsklas gereis, glo selfs as die doel van die reis niks met die bedrywighede van Hamleys te doen gehad het nie.

Hamleys het ook sy lewensversekeringspolis en ander versekering betaal “wat nie relevant is tot die onderneming nie”.

  • Paphitis het Vrydagaand 19 April op 'n navraag deur Netwerk24 oor die beweringe wat in die sakereddingsplan gemaak word gereageer. Hy ontken alle beweringe. Hy sê in 'n e-pos die bewering wat in die sakereddingsplan gemaak word is "vol gate". Paphitis gee geen verdere besonderhede nie.
Meer oor:  Hamleys  |  Philip Paphitis  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.