Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Handgeskrewe nota van Markus in Steinhoff-eis

’n Handgeskrewe nota van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, vorm deel van die bewyse waarop Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, ’n eis teen ’n plaaslike filiaal van die groep grond.

Verlede jaar met Star se notering op die JSE is van links Jayendra Naidoo, voorsitter, Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben la Grange, toe uitvoerende hoof van Star. Foto: Verskaf

Steinhoff Africa Retail (Star) het Maandag aangekondig hy het die dagvaarding van die voormalige verkopers van Tekkie Town oor ’n prestasiebonus ontvang.

Die eis teen Star moenie verwar word met die eis van €120 miljoen wat die oorspronklike verkopers van Tekkie Town teen Steinhoff gebring het nie.

Steinhoff het in 2016 vir Tekkie Town gekoop. Van Huyssteen en van die bestuur van Tekkie Town het Steinhoff-aandele ontvang wat nou amper niks werd is nie.

Die eis teen Star hou verband met ’n prestasiebonus wat die ou bestuur van Tekkie Town (wat hulle ná die transaksie met Steinhoff by die maatskappy aangesluit het) aanvoer hulle sou kry op grond van sekere winsteikens wat oor ’n tydperk van drie jaar bereik moes word.

Die “handgeskrewe nota” van Markus Jooste wat aan die verkopers van Tekkie Town se eis teen Star aangeheg is. Dit toon glo onder andere hoe die bonus-ooreenkoms bereken sou word. Foto:
Nog ’n gedeelte van die handgeskrewe nota. Onder meer die naam van die private-ekwiteitsgroep Actis kan uitgemaak word. Foto:

Die eis is gebring omdat Star ontken dat daar so ’n ooreenkoms bestaan en dat dit opgedwing kan word en ’n dispuut ontstaan het.

Die eisers voer in die hofaansoek aan die “gedeeltelik geskrewe, gedeeltelik mondelinge ooreenkoms” oor die bonus is tussen Februarie en April 2016 ooreengekom.

Hulle voer aan by die ontmoeting was Van Huyssteen, wat toe uitvoerende voorsitter van Tekkie Town was, Bernard Mostert, voorheen uitvoerende hoof van Tekkie Town, Jooste, Pieter Ferreira, ’n direkteur van Steinhoff, Ben la Grange, toe nog finansiële hoof van die Steinhoff-groep, en Philip Robinson, bestuurder van verkrygings van Steinhoff, teenwoordig.

’n E-pos tussen Braam van Huyssteen en Markus Jooste van 29 Februarie 2016 is aangeheg om te toon daar is toe reeds mondelings ooreengekom oor ’n “agterskot” soos Van Huyssteen die bonus-ooreenkoms noem. Netwerk24 het die adresse uitgehaal. Foto:

Die ooreenkoms was onderhewig aan die voltooiing en inwerkingstelling van die verkryging van Tekkie Town deur Steinhoff.

Hulle voer aan die “geskrewe dele van die bonusooreenkoms” is onder meer:

  • ’n Handgeskrewe nota van Jooste van 26 Februarie 2016.
  • E-posse tussen Van Huyssteen en Jooste op 28 en 29 Februarie 2016.
  • E-posse tussen Ferreira, Van Huyssteen en Mostert op 14 en 15 April 2016.

Die transaksie met Tekkie Town is omstreeks 29 Augustus 2016 voltooi. Daarna is die transaksie van Oktober tot Januarie 2017 in werking gestel.

Steinhoff het daarna besluit om Star te stig en Steinhoff se bates in Afrika aan dié maatskappy oor te dra. Dit sluit die Pepkor-groep in. Dit het in Julie 2017 gebeur.

Agterskot die perd

Van Huyssteen is bekend as ’n liefhebber van renperde.

Hy het reeds onlangs in ’n radio-onderhoud gesê hy het vir Markus Jooste, wat ’n groot perdeienaar was, langs die renbane ontmoet.

Hy verwys in die hofaansoek in die brief aan Jooste (wat in Afrikaans is) na die bonusooreenkoms as die agterskot en noem terloops dat hy ’n perd het wat Agterskot heet.

“Bonusooreenkoms is seker beter Afrikaans,” het hy by navraag aan Netwerk24 gesê. “(Maar) Bonusooreenkoms is nie so mooi naam vir ’n perd nie,” het hy geskerts.

Volgens hom is die perd Agterskot reeds so vernoem na die oorspronklike ooreenkoms in 2016. 

Agterskot het onlangs in Port Elizabeth by Fairview 'n wedren gewen en het daarna afgetree. 

Die perd was in vennootskap met  Greg Bortz en Hedley Mcgrath besit.   

“Star het Tekkie Town met agterskot en al geërf,” het Van Huyssteen gesê.

Star is in September verlede jaar genoteer.

Die eisers voer aan van Oktober tot November verlede jaar het Star soos verteenwoordig deur La Grange (wat toe die uitvoerende hoof van Star was) en Van Huyssteen ’n “gedeeltelik geskrewe en gedeeltelik mondelinge wysiging” aan die bonusooreenkoms aangebring.

Van Huyssteen sê La Grange het twee wysigings gemaak – die aanvangsdatum is verskuif na 1 Oktober 2017 en die verdeling van die bonus is verander sodat 75% na die oorspronklike verkopers gaan en 25% na die bestuur van die groter afdeling.

’n Uitknipsel van die e-pos van Ben La Grange wat volledig aangeheg is wat toon watter wysigings hy wou maak aan die ooreenkoms. Foto:

Die bewyse vir die geskrewe dele van die ooreenkoms met Star, voer hulle aan, sluit in:

  • E-posse tussen Van Huyssteen en La Grange van 25 Oktober 2017.
  • E-posse tussen Mostert, Van Huyssteen en La Grange van 7 November 2017.

Die laaste e-pos was presies ’n maand voordat die bom by Steinhoff gebars het en Jooste onverwags bedank het. Die maatskappy het toe aangekondig hy kan nie sy resultate vir die boekjaar tot einde September uitreik nie omdat rekenkundige onreëlmatighede ontdek is.

Braam van Huyssteen (middel) vroeër vanjaar na ’n wedren. Foto: Adrian de Kock

Daar is nie in die koopkontrak wat by die hofstukke aangeheg is ’n verwysing na die bonusooreenkoms nie.

Van Huyssteen het by navraag gesê die bonusooreenkoms was ’n aparte ooreenkoms net met die bestuur van Tekkie Town en nie met die private-ekwiteitsmaatskappy Actis, by wie Steinhoff ’n deel van die maatskappy in 2016 gekoop het, nie.

Actis is R1,5 miljard kontant vir sy belang betaal, toon die koopooreenkoms.

Jayendra Naidoo, voorsitter van Star, het Maandag gesê die maatskappy het nooit so ’n ooreenkoms met hulle gesluit nie.

Lees ook: Star: 'Kontrak met Braam bestaan nie'

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Star  |  Braam Van Huyssteen  |  Markus Jooste  |  Jayendra Naidoo  |  Ben La Grange  |  Ooreenkoms  |  Kleinhandelaars  |  Hofaansoek  |  Kleinhandel  |  Bonus  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.