Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hare waai op Comair se jaarvergadering

Die leierskapkonsultasiefirma Metaco voer steeds ’n media-oorlog teen die lugdiensgroep Comair met taai vrae aan die Comair-direksie op Comair se onlangse jaarvergadering.

comair
Comair, wat kulula.com en British Airways in Suid-Afrika bedryf, sal sy direksie se onafhanklikheid moet verbeter, het sy nuwe voorsitter gesê.

Danny Tuckwood, direkteur van Metaco en ’n aandeelhouer van Comair, het op verlede week se Comair-jaarvergadering gevra waarom Piet van Hoven, wat pas as voorsitter uitgetree het maar nou as hoof- onafhanklike nie-uitvoerende direkteur aangewys is, ’n vergoeding van R1,68 miljoen per jaar kry.

Dít vergeleke met die voorsitter van Bidvest, ’n veel groter maatskappy, wat ’n vergoeding van R1,5 miljoen kry.

Van Hoven het in 1965 by Comair begin werk en was tot 2006 28 jaar lank die besturende direkteur van die groep, wat tans British Airways se plaaslike franchise en die laekostelugdiens kulula.com bedryf.

Van Hoven het luidens ’n mediaverklaring, wat Metaco ná die tyd uitgestuur het, op die vergadering gesê die vergoeding van die voorsitter word nie deur homself bepaal nie.

Comair het Dinsdag by navraag gesê die vergoeding van die voorsitter word tans deur die direksie en die vergoedingskomitee hersien en sal op hul volgende vergadering bespreek word.

Lindsay Ralphs, nuwe voorsitter van Comair.

Lindsay Ralphs, uitvoerende hoof van Bidvest, wat ’n belang van 27,2% in Comair het, is op die jaarvergadering as nuwe voorsitter aangewys.

Onafhanklikheid

Dit is reeds bekend dat Bidvest oor die onafhanklikheid van die huidige Comair-direksie bekommerd is. Van Hoven was dekades lank die hoof van Comair, maar word steeds deur die direksie as ’n onafhanklike direkteur beskryf.

Tuckwood het op die jaarvergadering ook die onafhanklikheid van die direkteure Martin Moritz, Rodney Sacks en dr. Peter Welgemoed bevraagteken want, volgens hom, dien hulle al onderskeidelik 40, 39 en 25 jaar in Comair se direksie. Boonop dien Van Hoven, Moritz en Welgemoed op sowel die direksie se nominasiekomitee as die vergoedingskomitee.

Luidens Metaco se verklaring het Ralphs sy ernstige kommer oor die gebrek aan onafhanklikheid van die direksie uitgespreek en aanbeveel dat dit hersien word. Dit maak Bidvest as groot aandeelhouer “ongemaklik”.

Ouditeure

Tuckwood was ook krities dat Comair al 52 jaar lank dieselfde ouditeursfirma gebruik terwyl dit gesonde korporatiewe bestuurspraktyk is om ouditeure te roteer, al word dit nie wetlik opgedwing nie.

Hierop het Comair by navraag gesê hy verkies om by ’n ouditeur te bly wat die lugvaartbedryf ken. Die individuele ouditeure in die ouditeursfirma word wel geroteer, het Comair gesê.

Metaco het tans ’n skadevergoedingseis teen Comair omdat hy meen Comair het te kwader trou opgetree toe hy (Metaco) verlede jaar vir R30,3 miljoen gekoop is, maar toe is sy bedrywighede met 80% gesny en nou wil Comair hom nie meer hê nie.

Comair ontken op sy beurt enige kwaadwilligheid en het vroeër gesê nie alle samesmeltings en vennootskappe werk altyd uit nie.

Stemming op jaarvergadering

Op die jaarvergadering het 32,3% van die aandeelhouers teen die heraanstelling van die ouditeure gestem. Meer as 31% het teen die herverkiesing van Martin Louw as ’n direkteur gestem. Meer as 1% het teen die herverkiesing van Njabulo Sithole en Naran Maharahj as lede van die Comair-direksie se ouditkomitee gestem.

Meer as 31% van aandeelhouers het ook teen Comair se vergoedingsbeleid gestem.

Comair het gesê omdat meer as 25% van die aandeelhouers teen die vergoedingsbeleid gestem het, gaan die maatskappy die besorgde aandeelhouers vir ’n vergadering nooi.

Meer oor:  Metaco  |  Bidvest  |  Comair  |  Lindsay Ralph  |  Danny Tuckwood  |  Piet Van Hoven  |  Vergoeding  |  Voorsitter  |  Jaarvergadering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.