Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hartaanval eis bekende in bankwese, rugby

Dr. Theunie Lategan (63), bekende sakeman en medestigter van die sportagentskap Megapro, is Woensdagoggend in Johannesburg aan ’n hartaanval dood.

Megapro, wat hy in 1986 saam met ander gestig het en waarvan hy nog ’n nie-uitvoerende direkteur was, het sy dood op Twitter aangekondig.

“Theunie was ’n uiters intelligente sakeman, met ’n ongelooflike hoeveelheid energie en geesdrif vir wat hy gedoen het,” lui ’n verklaring op Megapro se webtuiste.

 George Rautenbach, voorsitter van Megapro, saam met Lategan een van die stigterslede, sê hulle was jare lange vriende en het mekaar in 1970 by Paul Roos Gimnasium leer ken.

“Dit is maar ’n moeilike tyd. Hy was ’n wonderlike ou, ’n wonderlike vriend, pa en eggenoot,” het Rautenbach gesê.

Van links is die stigters van Megapro, wyle Ockie Oosthuizen, George Rautenbach en dr. Theunie Lategan.Foto: Megapro

Volgens Rautenbach het Lategan ’n doktorsgraad in belasting.

Lategan was twee jaar gelede in die nuus toe hy begin 2018 ná die ineenstorting van Steinhoff as jare lange nie-uitvoerende direkteur bedank het.

“Steinhoff het vir hom sleg geëindig, maar hy was nooit ’n heeltydse amptenaar nie. Sy groot loopbaan was by FirstRand,” het Rautenbach gesê.

Lategan is in Port Elizabeth gebore en sy pa was die Springbok-rugbyspeler Tjol Lategan, wat in 2015 dood is.

LEES OOK: Tjol ‘ ’n rugbyman deur en deur’

Lategan het in 1983 as geoktrooieerde rekenmeester aan die Universiteit Stellenbosch gekwalifiseer.

Daarna was hy ’n lektor by die Universiteit van Johannesburg in boekhou en belasting tot in 1987 voordat hy by PricewaterhouseCoopers as belastingvennoot aangesluit het.

Hy het in 1994 by Rand Merchant Bank begin werk en later die hoof van die eenheid vir gestruktureerde finansiering geword.

In 1999 het hy uitvoerende hoof van die eenheid vir korporatiewe bankwese van First National Bank geword.

In 2004 is hy op die uitvoerende bestuurskomitee van die FirstRand-groep aangestel.

Hy is in 2005 as uitvoerende hoof van FirstRand Africa en opkomende markte aangestel.

Hy het in Julie 2010 by die FirstRand-groep afgetree.

Hy het van 2004 af as ’n lid van die raad van die Universiteit van die Witwatersrand gedien en was van 2013 tot 2018 nie-uitvoerende ondervoorsitter van Absa Corporate Bank.

Lategan was sedert September 2011 lid van die direksie van die Suid-Afrikaanse Steinhoff voordat die beheermaatskappy in Nederland geregistreer is.

Hy is toe in die toesighoudende direksie van die internasionale Steinhoff aangestel en het 28 Februarie 2018 afgetree, waar hy ook voorsitter van die menslikehulpbronne-en-vergoedingskomitee en ’n lid van die oudit-en-risikokomitee was, luidens die 2017-jaarverslag van die groep.

Hy was ook van 2004 sowat ’n jaar lank voorsitter van die direksie van SA Rugby in ’n onstuimige tyd, wat tot sy bedanking gelei het.

LEES OOK: Lategan: I’m done with rugby

Hy word oorleef deur sy vrou, Antoinette, en twee kinders, Theuns en Ilse.

Meer oor:  Rand Merchant Bank  |  Sa Rugby  |  Steinhoff  |  Firstrand  |  Hartaanval  |  Sterf  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.