Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hassen Adams tree ná moeilike jaar uit by GPI

Hassen Adams, voorsitter van Grand Parade Investments (GPI), gaan uittree.

Hassen Adams, voorsitter van Grand Parade Investments, wat Burger King Suid-Afrika toe gebring het. Foto: Lerato Maduna

GPI hou die meesterlisensie vir Burger King in Suid-Afrika.

Adams, medestigter van dié Kaapse bemagtigingsgroep wat steeds duisende aandeelhouers uit arm gebiede op die Kaapse Vlakte het, het in Junie vanjaar reeds uitgetree as uitvoerende voorsitter, en gaan nog tot voor volgende jaar se jaarvergadering as nie-uitvoerende voorsitter aanbly.

Hy het sy uittrede op Donderdagaand se jaarvergadering van GPI aangekondig.

Adams sal wel aanbly in die direksie van Burger King Suid-Afrika en van SunWest.

Die besluit kom ná groot onenigheid onder aandeelhouers die afgelope jaar wat Adams onder meer daarvan beskuldig het dat hy te veel inmeng by bestuursbesluite. Die maatskappy het verskeie senior personeellede, insluitend uitvoerende hoofde, gewissel die afgelope paar jaar.

GPI het aanvanklik in casino’s en dobbelbedrywighede begin belê toe dit in 1997 gestig is, maar het mettertyd na restaurantondernemings soos Burger King uitgebrei.

Hoewel sy belegging in Burger King besig is om vrugte af te werp, onderhandel GPI tans om ’n deel van sy belang in die plaaslike franchise te verkoop. Hy wil ’n minderheidsbelang behou waar hy nie in die dag-tot-dagbedrywighede van die onderneming betrokke is nie.

Dit sal GPI in staat stel om te migreer na ’n suiwer beleggingsmaatskappy, het Adams in sy voorsittersverslag gesê.

Adams het die afgelope jaar met sy gesondheid gesukkel. Hy meen GPI se toekoms lyk blink en namate die maatskappy hom herskik tot ’n beleggingsmaatskappy glo hy die aandeelprys op die JSE sal nader aan die intrinsieke netto batewaarde skuif.

GPI se aandeelhouers het Donderdagaand ten gunste van die verkoop van sy oorblywende 30%-belang in Sun Slots aan Sun International gestem. Die wins uit die transaksie sal gebruik word om skuld af te betaal en ’n spesiale dividend uit te keer.

Adams vertel GPI is in 1997 gestig met die hulp van meer as 20 000 individuele aandeelhouers uit meestal voorheen agtergeblewe gemeenskappe, met aanvangskapitaal van R28 miljoen.

Die maatskappy het oor die 22 jaar ontwikkel tot ’n multimiljardrand-maatskappy, sê Adams.

Hoewel hy onsuksesvol was met die plaaslike franchises vir Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins, waarvan al die takke gesluit is, het die groep steeds waarde geskep vir aandeelhouers, en begin sy belegging in die plaaslike franchise vir Burger King vrugte afwerp.

GPI was aanvanklik ’n bemagtigingsvennoot in die restaurantgroep Spur, maar hy het nou sy 10%-belang in Spur verkoop.

GPI se aandeelprys was Vrydag op R3,80 en het oor die afgelope 12 maande ’n opbrengs van 26% gelewer, volgens inligting van Bloomberg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.