Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hawe-krisis: Lenteklere gaan laat op die rak wees

Al kan alle klerereekse nog nie in winkels uitgestal word nie, hoef Suid-Afrikaanse kopers nie bekommerd te wees dat die nuutste modes nooit hier gaan opdaag nie.

Hoewel sommige mode-artikels nie nou al op rakke gaan wees nie weens die vertragings by hawens, sal Suid-Afrikaners hopelik oor twee weke hul lente-aankope kan aanpak. Foto: Pixabay

Die afgelope week se drama en oponthoud by die land se hawens nadat kuberkrakers Transnet se stelsels aangeval het, het groot vertragings in skeepsvervoer tot gevolg.

Verbruikersprodukte soos klere, skoene en handsakke wat van oorsee ingevoer word, is ook van die menigte vragte wat iewers ter see of in hawens wag om afgelaai en versprei te word.

Lawrence Pillay, groephoof van Woolworths se internasionale aankope, innovasie en gehalte, sê daar is gelukkig geen rede tot kommer oor die beskikbaarheid van klere en modebykomstighede nie.

Volgens hom is die enigste impak van die oponthoud met vragvervoer dat Woolworths met twee weke se ekstra voorraad in sy winkels gaan sit.

“Daar is geen gevaar dat ons winkels leeg gaan wees nie, daar is genoeg voorraad,” sê hy. “Ons voorraad is net met ongeveer twee weke vertraag.”

Ons klante gaan dus net ’n bietjie langer moet wag vir die nuwe klere en bykomstighede wat ons graag nou sou wou bekendstel.
Lawrence Pillay van Woolworths

Woolworths koop die helfte van sy klere in Suider-Afrika en voer die res vanaf die Ooste in. Daar is dus genoeg voorraad klere en bykomstighede, hoewel dit nie op die oomblik die nuutste modes is wat die groep nou op sy rakke sou wou sit nie.

“Die produkte wat ons nou op die rakke wou pak en in winkels wou uitstal, gaan eers sowat twee weke later in die land aankom,” sê Pillay.

“Dit beteken dat dié voorraad se verkoopsvenster egter nou verlore is. Ons klante gaan dus net ’n bietjie langer moet wag vir die nuwe klere en bykomstighede wat ons graag nou sou wou bekendstel.”

Hy sê skepe word steeds in die Ooste gelaai met voorraad op pad na Suid-Afrika en die twee weke wat wel verlore is, is geen rede tot kommer nie aangesien Woolworths se waardeketting nie deur die kuberaanval verlam is nie.

“Of die situasie gaan vererger of vinnig opgelos word, sal afhang van hoe effektief Transnet dit nou bestuur,” sê Pillay.

Transnet het Woensdag in ’n verklaring gesê die meeste van sy stelsels is nou weer aanlyn.

LEES OOK: Hawens: Sekere stelsels weer aanlyn

Netwerk24 het ook met verskeie kosvervaardigers en ander kleinhandelaars gesels om uit te vind of verbruikers bekommerd moet wees oor die beskikbaarheid van sekere produkte.

Dit lyk op die oomblik of die haweprobleme nie ’n impak gaan hê op die meeste kosprodukte nie.

Daar mag wel te min verwerkte kouevleisprodukte soos polonie en Weense worsies wees aangesien invoerders van hoenderprodukte sukkel om die gevriesde hoender wat hiervoor gebruik word, uit hawens vervoer te kry na vervaardigingsaanlegte.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Vragskepe  |  Infrastruktuur  |  Kuberkrakers  |  Logistiek  |  Vragvervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.