Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hawens in KZN funksioneer weer ‘normaal’

Transnet sê die hawens van Durban en Richardsbaai het sedert Maandag normale bedryfsvlakke bereik en personeel is terug om die agterstand in te haal wat die onrus die afgelope week veroorsaak het.

Sitruskartonne word voorheen in die Durban-hawe gelaai vir verskeping. Foto: Sitruskwekersvereniging

Alle werknemers het vir hul skofte aangemeld, sê Ayanda Shezi, woordvoerder van die staatsonderneming, in ’n verklaring aan sy skuldbriefbeleggers.

Die bedrywighede by hawens het toegeneem vandat die verskaffingsketting op die belangrike nasionale paaie – die N2 en N3 – weer aan die gang is.

Die twee hawens het gedurende die onluste verlede week oopgebly, maar bedrywighede is aansienlik beïnvloed deur pakhuise en koelkamers wat gesluit is en die gebrek aan openbare vervoer, sowel as vragvervoer wat beperk is, volgens Shezi.

Sowel hoenderinvoerders as sitrusuitvoerders het die afgelope week gewaarsku daar is oponthoude in die hawens, selfs al is hulle weer oop.

Sowat 20 000 ton ingevoerde hoendervleis kan weens vertragings en struikelblokke ná verlede week se onluste nie vanaf Durban se hawe versprei word nie.

LEES OOK: Tonne ingevoerde hoender sit op vragskepe in Durban

In Richardsbaai het die terminale wat ’n verskeidenheid produkte en droë grootmaatprodukte hanteer die naweek sewe vaartuie behartig.

Pier 2 in die hawe van Durban het vier vaartuie bedien, terwyl Pier 1 voortgaan om die vaartuie te bedien wat normaalweg hanteer word.

“Transnet het gedurende dié tyd met alle klante geskakel wat geraak is om te verseker dat dienste so vinnig as moontlik hervat word, en om waar nodig, die bottelnekke wat deur die betogings veroorsaak is, op te los,” sê Shezi.

Die spoorwegnetwerk tussen Gauteng en Durban wat negatief geraak is deur die onluste, is heropen en treindienste is sedert Vrydag weer aan die gang.

Transnet Freight Rail het sedert die heropening Vrydag 42 treine gehad wat geloop het en die treine word vermeerder om die belangrike roete te stabiliseer.

Intussen veroorsaak kabeldiefstal steeds probleme en alle treine sal vergesel word deur veiligheidsbeamptes sodat dienslewering nie daardeur onderbreek word nie, beloof Transnet.

Transnet Pipelines se netwerk bly in bedryf.

Addisionele patrollies is ontplooi oor die hele netwerk heen. Vier mense is in hegtenis geneem nadat hulle met die pyplyn gepeuter het. Dit hou glo nie met die onluste verband nie, volgens Transnet.

“Transnet bly op ’n gereedheidsgrondslag en die beskerming van kritieke infrastruktuur oor die land heen bly in plek.”

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Kzn-Herstel  |  Plundery En Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.