Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hawens: Sekere stelsels weer aanlyn

Die land se hawens is besig om weer op dreef te kom nadat Transnet ’n week lank verlam is deur ’n verwoestende kuberaanval.

Tientalle vragmotors staan op Woensdag 27 Julie tou om by Kaapstad se hawe te probeer inkom nadat Transnet se IT-probleme die hawe se bedrywighede verlam het. Foto: Jaco Marais

Transnet sê Woensdag sy belangrike Navis-stelsel vir besprekings en die verwerking van vrag is weer by alle hawens aanlyn, en invoerders en uitvoerders kan vraghouers nou weer aanlyn bespreek.

Ander dienste is egter steeds verlam deur die kuberaanval van Donderdag.

Transnet sê sy EDI-stelsel, wat die verskeping van vrag hanteer, is nog nie aanlyn nie en daardie werk word steeds met die hand gedoen.

Ander stelsels wat nog van lyn is, is onder meer die radionetwerk, e-pos en die versendingstelsel.

Transnet glo dié stelsels sal teen Vrydag op die laatste weer aanlyn wees.

David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die effek van die kuberaanval op Transnet en die alom belangrike funksionering van veral die Kaapse hawe.

“Ons is baie bekommerd oor die effek van IT-onderbrekings op die prestasie in die hawe van Kaapstad. Ons gaan voort met die bestuur van die hawe en ons is ingelig dat hulle hard werk om die invloed te verminder,” het Maynier Dinsdag op ’n vergadering van belanghebbendes van die Kaapse hawe gesê.

“Ons is meegedeel dat Transnet, vandat die uitdagings met die IT-stelsel ontstaan het, na ’n proses omgeskakel het om met die hand te werk en daarin geslaag het om vier skepe te voltooi en meer as 2 200 houers in die hawe te verwerk.”

Deidré Baartman, DA-LP, sê in haar eie verklaring die onderbreking van die dienste op hawens is nog ’n voorbeeld (ná die onluste van verlede week) van hoe die land se intelligensiedienste versuim om hul werk te doen.

“Die onlangse kuberaanval op Transnet se IT-stelsel is ’n verdere voorbeeld van die mislukking van nasionale staatsveiligheid-intelligensie om ons sleutelsektore te beskerm.

“Hoewel Transnet dit as ’n force majeure kan beskou, kan die nalatigheid van staatsveiligheid gesien word in die mate dat ’n kuberaanval die skeepsvaartroetes om Suid-Afrika kan ontwrig.

“Dit is amper ’n week sedert die aanval en die IT-stelsel moet nog aanlyn kom. Meer skepe en internasionale maatskappye sal ons kus vermy as Transnet hulle nie die nodige veiligheid en sekerheid kan bied nie.”

Volgens Baartman gaan miljarde rande se handel nou verlore in ’n tyd waarin die Wes-Kaapse ekonomie reeds gebuk gaan onder die pandemie en staat van inperking.

“Wat nodig is, is dat die nasionale regering sy IT-stelsels en staatsveiligheidsmaatreëls moet prioritiseer om te verseker dat ons ekonomie en die lewensbestaan van ons inwoners beskerm word.

“Ons hoop dat dít nou ’n finale wekroep is wat deur die nasionale regering en sy intelligensie-apparaat ter harte geneem sal word.”

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Vragskepe  |  Infrastruktuur  |  Kuberkrakers  |  Logistiek  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Vragvervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.