Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hef drankverbod op, sê PnP saam met drankbedryf

Dit is tyd dat die drankverbod gelig word.

Hoe gouer dit gebeur, hoe beter sal dit wees vir die land se ekonomie – veral ook nou ná die geweldige impak van die onlangse onluste en plundering.

Gaan pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand die verbod op drankverkope lig? Indien wel, sien die drankbedryf uit daarna dat mense weer trollies vol drank kan koop.

Dit is die soveelste noodkreet wat Donderdag uit die drankbedryf opgeklink het, maar dié keer voeg een van die land se grootste winkelgroepe ook sy stem by en vra dat die drankverbod gelig word.

Pieter Boone, uitvoerende hoof van Pick n Pay, sê in ’n verklaring die groep voel dat die drankverbod nou gelig moet word.

In KwaZulu-Natal en Gauteng het 76 van die groep se drankwinkels onder plunderaars deurgeloop.

Netwerk24 het Woensdag berig altesame 136 winkels van Pick n Pay wat kos, kruideniersware, klere en boumateriaal verkoop, is ook gestroop en in brande beskadig.

Twee van die groep se verspreidingsentrums in KwaZulu-Natal het ook ernstige skade opgedoen.

LEES OOK: PnP: 212 winkels vernietig; moraal bly hoog

Boone sê hy het verskeie van die groep se beskadigde winkels besoek.

“Die omvang van die skade en die aard daarvan breek ’n mens se hart,” sê hy.

“Ná gesprekke met onafhanklike handelaars en van die franchise-eienaars in die geteisterde gebiede, glo ek dit is nou die tyd vir pres. Cyril Ramaphosa om die drankverbod op te hef. Onder normale omstandighede is onafhanklike winkeleienaars afhanklik van drankverkope om hul ondernemings aan die gang te hou. Baie van hulle gaan nie nog ’n verlengde drankverbod oorleef nie.”

Pieter Boone, uitvoerende hoof van Pick n Pay, het vroeër vanjaar dié rol by Richard Braser oorgeneem.

Boone sê die skade van die opstande en plundering het baie van die eienaars net nog ’n slag toegedien, terwyl die sluikhandel weer sterker word.

“Die opstande het ook nou baie drank in die sluikhandelsmark laat beland,” sê hy.

“Die hele land sal dit verwelkom as die drankverbod opgehef word. Dit sal ook ’n positiewe stap wees in die regte rigting om van die afgelope dae se gebeure te herstel.”

Hulle is reeds hard aan die werk in afwagting daarop dat die drankverbod moontlik gelig kan word.

“Teen einde aanstaande week sal ons reeds 28 van die 76 beskadigde drankwinkels kan heropen.”

Drankbedryf vra weer vir afskaffing van die drankverbod, terwyl sluikhandel gedy

Verskeie ander instansies in die drankbedryf het ook in ’n gesamentlike verklaring gevra dat die drankverbod opgehef moet word.

As die drankverbod verleng word, kan dit daartoe lei dat baie mense hul ondernemings vir goed sluit.

“Dit is moeilik om beplanning vir vervaardiging en verspreiding in die huidige omstandighede te doen. Besluite oor toekomstige beleggings is net so moeilik,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van die vereniging van eienaars van drankhandelsname (Salba).

“Die regering gee bitter min tot geen inligting oor watter inligting gebruik word wanneer daar oor die instel van ’n drankverbod besluit word.”

Hy sê die bedryf se lot word aan besluitnemers oorgelaat wie se besluite duisende werksgeleenthede raak, terwyl hulle min begrip vir die implikasies van die besluit het.

“En dit word onder die beskerming van die Wet op Rampbestuur gedoen.”

Die bedryf bevraagteken al ’n geruime tyd die regering se standpunt en teorie dat ’n drankverbod tot minder traumagevalle by hospitale bydra.

Volgens Salba staan die verlies aan inkomste weens die verbod op die verkoop van alkohol reeds op R45,1 miljard.

“Dit is gelykstaande aan 15,8% van die bedryf se geraamde verkope vir 2020 en 2021,” sê Mngadi.

“Sonder om die impak van die opstande en plundering van verlede week by te reken, kan 248 759 mense hul werk verloor weens die besluit om elke keer ’n drankverbod in te stel.”

Patricia Pillay, uitvoerende hoof van die biervereniging van Suid-Afrika (Basa), waarsku die plundering het die druk op die bedryf verhoog.

“Dit het ook die sluikhandel in drank aangehelp met gesteelde drank wat nou in baie gemeenskappe beskikbaar is en verkoop word.”

Die bedryfsliggaam Vinpro het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad gevra dat die Wes-Kaap self moet kan besluit oor afwykings van die nasionale drankverbod. Hoewel Vinpro dit duidelik gemaak het dat die saak dringend is, is uitspraak voorbehou.

LEES OOK: Hof hoor drankverbod te laat hier, te vroeg daar

Vinpro het vroeër gewaarsku die wynbedryf staan op die randjie van ’n afgrond en die hofaansoek was ’n desperate poging om die wynbedryf te help.

Die drankbedryf doen ook ’n beroep op die regering om praktiese stappe te doen om die bedryf, ondernemings en mense wat daarvan afhanklik is vir lewensmiddele, te beskerm en te help om weer op hul voete te kom.

LEES OOK: Drankbedryf: 10 000 poste verlore, waar is Patel

Uit die bedryf word die regering daarvan beskuldig dat hy nie daarin belang stel om hulle oor die drankverbod te konsulteer nie.

Die departement van handel en nywerheid het luidens berigte gesê die verskeie hofsake wat reeds aan die gang is, maak dit moeilik om nou met die drankbedryf te gesels.

Meer oor:  Nltc  |  Pick N Pay  |  Salba  |  Inentings  |  Inperkingmaatreëls  |  Vlak 4  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Vinpro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.