Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Heffing op uitvoer-motors is ‘dubbele belasting’

Ná ’n goeie uitvoerjaar vir die motorbedryf is daar ’n swaard oor die bedryf oor ’n geskil oor geld wat die regering op vervaardigers hef.

Nuwe Mercedes-Benz-motors wag vir uitvoer by die hawe in die Oos-Kaap in dié argieffoto. Foto: Roger Bosch, Media Club South Africa

Dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa), sê Desember het ’n klein afname op ’n jaargrondslag getoon, maar dis hoofsaaklik weens die hoë basis in Desember 2018.

Vir die volle 2019 is 10,2% (386 863) meer motors uitgevoer as in 2018.

Maar nou is daar ’n geskil tussen die voertuigbedryf en die nasionale reguleerder van verpligte spesifikasies, ’n staatsagentskap wat moet reguleer dat voertuie wat in die plaaslike mark verkoop word, aan die nodige standaarde en spesifikasies vir Suid-Afrikaanse toestande voldoen. ’n Heffing is deur vervaardigers betaalbaar vir dié diens.

Die reguleerder het begin om die heffing ook toe te pas op voertuie wat uitgevoer word, maar die motorbedryf sê dit kom neer op ’n dubbele belasting omdat die voertuie in hul bestemmingsland getoets moet word aan die invoerland se standaarde.

Daniel Ramarumo van die reguleerder het aan Rapport gesê die reguleerder se interpretasie van wetgewing is dat álle motors – selfs al gaan dit nie in Suid-Afrika gebruik word nie – onderhewig is aan die heffing.

“Wetgewing oor verpligte standaarde onderskei nie tussen ’n plaaslike en ’n uitvoerproduk nie. Solank as die produk binne die bestek van ons verpligte spesifikasies val, moet dit aan die wet en regulasies voldoen en is vervaardigers verplig om heffings op sulke produkte te betaal.”

Mike Mabasa, uitvoerende hoof van Naamsa, sê die reguleerder se nuwe interpretasie van die wet is “verkeerd, onbillik, ongeregverdig en onredelik” – onder meer omdat die reguleerder nie enige regulerende aktiwiteit verskaf vir produkte wat vir uitvoer vervaardig word nie en dat die voertuigbedryf dus ’n belasting moet betaal vir ’n diens wat die reguleerder nie lewer nie.

Naamsa wil hê alle vervaardigers van oorspronklike toerusting en onderdelevervaardigers wat geraak word, moet kwytgeskeld word van uitstaande heffings wat die reguleerder reeds gehef het.

Hy sê dit gaan nie vir die bedryf oor die geld nie, maar oor die beginsel. “Die regering kan nie heffings van maatskappye vra vir dienste wat hy nie lewer nie. Dit is so eenvoudig soos dit.”

Die departement van handel en nywerheid bemiddel nou tussen die reguleerder en die bedryf.

Meer oor:  Naamsa  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Belasting  |  Motorvervaardiging  |  Uitvoer  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.