Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Heineken en Distell: Dís dalk redes vir gesprekke

Hoewel sommige ontleders in hul oggendkoffie gestik het, was dit vir ander geen verrassing nie dat Heineken daarin belang stel om Distell te koop.

Dit sal die Nederlandse maatskappy se produkaanbod aansienlik uitbrei en hom rat vir groei. Boonop is samesmeltings in die drankbedryf glad nie vreemd nie.

Heineken het vroeër vanjaar gesê die groep wil sy produkaanbieding uitbrei na onder meer harde seltzer, ’n mark met groot groeipotensiaal. Foto: Unsplash

Dís die gevoel in die mark nadat Distell en sy grootste aandeelhouer, Remgro, Dinsdagoggend aangekondig het hy is in gesprekke oor ’n oorname met Heineken.

Al drie die maatskappye het egter gewaarsku gesprekke is nog in ’n voorlopige stadium en ’n transaksie is nie gewaarborg nie.

Heineken is die wêreld se tweede grootste bierbrouery; net Anheuser-Busch InBev (AB InBev) is groter.

Die aktivistiese aandeelhouer Chris Logan, uitvoerende hoof van Opportune Investments, sê daar is al sowat 18 maande lank bespiegeling dat Heineken Distell beloer. 

Hy glo die kans is goed dat die transaksie sal slaag. “Daar was die afgelope 18 maande volgehoue  gerugte en nou is hier amptelike bevestiging daarvan. Heineken is ’n goeie maatskappy en met sy aankondiging in Februarie dat 8 000 mense afgelê word, wys dit hy is ernstig oor ’n ‘kultuur van kostebesparing’ en wil dit voorkom asof Heineken nou die groeiknoppie begin druk.”

Ander is onkant gevang.

“Hoewel Dinsdagoggend se nuus oor die moontlike transaksie ’n verrassing is, is dit nie ’n ongewone oorweging vir Heineken nie,” sê Claude van Cuyck, portefeuljebestuurder van Denker Capital.

Volgens hom is daar internasionaal ’n tendens dat groot drankmaatskappye begin om hul produkreeks uit te brei.

“Baie maatskappye reageer op die verandering in verbruikers se alkoholverbruik. Dit maak dus sin dat ’n groot internasionale biermaatskappy soos Heineken ook sal kyk om sy aanbiedinge uit te brei.”

Volgens Van Cuyck beplan Heineken heel waarskynlik om sy voetspoor internasionaal te vergroot met die uitbreiding van handelsmerke en ander drankies soos harde seltzers en sider wat toenemend gekoop word.

Volgens hom sal dit sin maak dat Heineken wil uitbrei in Suid-Afrika, waar hy reeds ’n groot markaandeel het.

Heineken het klaar meer as 300 handelsmerke wêreldwyd, waaronder Amstel. Sy alkoholvrye bier, Heineken 0.0, is die markleier in Suid-Afrika.

Anthony Clark, ’n onafhanklike markontleder, sê ook Dinsdagoggend se aankondig het uit die bloute gekom.

“As ’n mens kyk hoe Distell se aandeelprys die afgelope paar dae beweeg het, is dit dalk ook moontlik dat mense reeds vooraf van die samesprekings geweet het; wie sal weet?

“Wat interessant is, is dat Heineken ’n paar jaar gelede weggeloop het van planne om ’n brouery in Suid-Afrika te bou en nou kyk hulle weer daarna om Distell-aandele te koop.”

Heineken het in Augustus 2020 aangekondig hy laat vaar sy plan om ’n brouery van R6 miljard in KwaZulu-Natal te bou en hy het in Januarie aangekondig hy gaan 70 van sy nagenoeg 1 000 Suid-Afrikaanse personeellede aflê as deel van die groter herstrukturering wêreldwyd.

Clark stem saam die stap is moontlik deel van Heineken se planne om die internasionale neiging van drankmaatskappye te volg wat hul aanbod begin konsolideer.

Distell se twee grootste aandeelhouers is die Remgro-groep en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en hulle sal moet instem tot so ’n transaksie, volgens Clark.

“ ’n Mens moet jouself afvra hoekom die twee magtige aandeelhouers sal instem tot ’n transaksie deur ’n internasionale maatskappy soos Heineken.”

Een rede wat hy aanvoer, is dat daar waarskynlik moontlike gesprekke oor groter werkskepping in Suid-Afrika was.

Van Cuyck sê Remgro, as ’n langtermynbelegger, sal heel moontlik die ooreenkoms as gunstig beskou omdat dit waarde kan ontsluit. Johann Rupert is die voorsitter van Remgro, wat ook belange in onder meer Mediclinic, Vumatel en RCL Foods het.

Die Mededingingskommissie het in vorige gevalle wanneer internasionale maatskappye plaaslike maatskappye wil koop, streng voorwaardes gestel oor onder meer die ontwikkeling van plaaslike verskaffers, werkskepping en gemeenskapsontwikkeling. Dit het gegeld onder meer toe AB InBev in 2016 vir SABMiller gekoop het, toe die konsortium Milco in 2018 vir Clover gekoop het, en toe PepsiCo in 2020 vir Pioneer gekoop het.

Van Cuyck voorsien nie groot teenstand vir so ’n ooreenkoms nie, want Distell is nie in die plaaslike biermark doenig nie. “Daar kan dalk vanuit die plaaslike sider-mark moontlike teenkanting kom, maar dis te vroeg om te sê.”

Harde seltzers

Dolf van der Brink, Heineken se uitvoerende hoof, het in Februarie met die uitreiking van die maatskappy se voljaarresultate opgemerk Heineken onderskat dalk die seltzer-mark en wil daarna kyk aangesien die mark volgens hom baie innoverend is.

Die seltzer-mark het reeds groot opskudding in Amerika veroorsaak en verbruikers se lus daarvoor is besig om wêreldwyd toe te neem.

Harde seltzers verwys na alkoholiese gasdrankies wat met verskillende vrugtegeure gemeng word. Die alkohol wat gebruik word, is gewoonlik jenewer, wodka of tequila.

In Suid-Afrika word dié drankies reeds verkoop, soos SAB se Flying Fish-seltzers.

Siders

Nog ’n rede vir die moontlike transaksie kan wees dat Heineken sy aandeel in die sider-mark wil uitbrei.

Heineken het ook reeds verlede jaar ’n transaksie in Australië beklink toe hy Strongbow by Asahi gekoop het. Distell besit Hunter’s Dry en Savanna.

Aandeelprys

Distell se aandeelprys styg die afgelope twee dae skerp. Kort ná die aankondiging het dit opgeskiet tot R158 en teen namiddag was dit steeds 4,7% hoër op R149,74.

Dit het amper die vlak van Julie 2018 gehaal.

Die aandeel het die afgelope jaar reeds met byna 79% gestyg.

Distell se markwaarde is nagenoeg R31,9 miljard.

Meer oor:  Drank  |  Maatskappye  |  Verkryging  |  Heineken  |  Drankbedryf  |  Distell  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.