Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hele Edcon, of dele daarvan, dalk te koop
Die skuldbelaaide Edcon besit onder meer Edgars, Jet, Jet Mart, Legit en ook CNA.

Die eienaar van die Suid-Afrikaanse winkelgroep Edcon – wat Edgars, Jet, Boardmans en CNA in sy stal het – soek glo kopers vir dele van die maatskappy, of vir die hele maatskappy.

Edcon sukkel met ’n reuse- skuldlas sedert die Amerikaanse beleggingsmaatskappy Bain Capital in 2007 ander aandeelhouers uitgekoop het. Die transaksie is met skuld gefinansier.

Bloomberg berig twee bronne het gesê Bain het skuldbriefhouers gevra dat hy die rentebetalings op van die skuldbriewe tot einde vanjaar uitstel. Die uitstel sal glo vir Bain ’n blaaskans gee om sy opsies te ondersoek om die hele onderneming of ­sekere dele daarvan te verkoop.

Edcon se bruto skuld beloop sowat R26 miljard.

Die stap raak blykbaar skuldbriewe wat in Maart 2018 terugbetaal moet word. Dit beloop amper R14 miljard se skuld in euro en dollar.

Edcon het in Maart die rentebetaling van sowat $45 miljoen hierop oorgeslaan. Die maatskappy het ’n grasietydperk van 30 dae gekry om die rente te ­betaal en dit loop vandag tot ’n einde. ’n Woordvoerder van ­Edcon het gister gesê gesprekke met skuldbriefhouers oor die herstrukturering van die skuld duur voort.

Nico Smuts, ’n ontleder van 36One Batebestuur, sê Edcon ly steeds onder Bain se ­besluit om ’n groot skuldlas op die maatskappy te plaas toe hy dit in 2007 gekoop het. “Meer as die helfte van die skuld is in euro of dollar gedenomineer, met die gevolg dat die randwaarde van die rentebetalings toeneem wanneer die rand verswak. Hierdie styging in rentebetalings is die laaste strooi vir Edcon.”

Edcon ly steeds onder Bain se ­besluit om ’n groot skuldlas op die maatskappy te plaas toe hy dit in 2007 gekoop het.

As ’n ooreenkoms nie betyds bereik word nie, kan skuldbriefhouers begin met regstappe om die betaling te kry. “Ek dink die mees realistiese opsie vir Edcon is om skuldbriefhouers te nader vir nog grasie terwyl hy probeer om kopers vir ’n paar van sy onderliggende ­ondernemings te vind.”

Joachim Kotze, ’n aandele-ontleder van Denker Capital, sê Edcon het hopeloos te veel skuld. “Al die kontantvloei van bedrywighede word gebruik om die skuldpaaiemente te betaal. As gevolg daarvan word hy baie benadeel uit ’n mededingingsoogpunt, want hy kan nie kapitaal in sy winkels belê nie. Dit veroorsaak ’n bose kringloop, want hy verloor voete teenoor mededingers terwyl die skuldpaaiemente dieselfde bly.

“Ek is nie seker of die verkoop van CNA en/of Boardmans ’n groot genoeg verskil aan die skuldvlakke sal maak nie,” het hy gesê in antwoord op ’n navraag oor bespiegelinge deur ontleders dat dit ’n opsie is.

“ ’n Kapitaalinspuiting of ’n herstrukturering van die kapitaalstruktuur word benodig om die onderneming op gelyke voet te bring.”

Meer oor:  Edcon  |  Edgars  |  Maatskappye  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.