Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tito soek reeds nuwe OBK-direkteure

Tito Mboweni, minister van finansies, het die bedanking van die hele OBK-direksie aanvaar en gaan “as alles goedgaan” reeds volgende week ’n nuwe direksie aanwys.

Jabulani Sikhakhane, Mboweni se woordvoerder, het dit net ná 21:00 aan Netwerk24 bevestig nadat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se hele direksie van nege mense Vrydagmiddag laat bedank het.

Die direkteure - Mondli Gungubele, voorsitter en adjunkminister van finansies, dr. Xolani Mkhwanazi, dr. Truman Goba, Pitsi Moloto, Mathukana Mokoko, Dudu Hlatshwayo, Sandra Beswick, Sibisisiwe Zulu en Lindiwe Toyi - het Mboweni Vrydag in ’n brief wat hulle almal onderteken het, versoek om hulle van hul pligte te onthef.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Foto: Deon Raath

In die brief skryf hulle dat daar ooglopend ’n georkestreerde veldtog is om die direksie te diskrediteer en die organisasie lam te lê.

In die lig daarvan vra hulle “nederig” dat die minister hulle “dringend” ontslaan. Hulle sal aanbly totdat ’n nuwe direksie aangewys is.

Die direksie skryf aan Mboweni daar is die afgelope tyd bewerings geslinger na vier direkteure en dat die gebeure van die afgelope tyd ongetwyfeld die instelling “gedestabiliseer” het. “Ons assessering is dat dit nie die einde is nie.”

Lees die volledige brief hieronder.

Hulle skryf ook:  “Die gebeure was vir ons as individue onhoudbaar en het ongetwyfeld ’n negatiewe uitwerking op ons professionele integriteit gehad.”

Die direksie sluit af met die sin: “Ons is dankbaar dat ons by dié instelling kon dien. Ons het geleer en bygedra, en ons glo dis die regte tyd om die aflosstokkie oor te gee, ter wille van die OBK, ons kliënte, en die land as geheel.”

Die besluit om te bedank is glo geneem ná ’n geskeduleerde direksievergadering. Die direkteure sê hulle het die gebeure van die afgelope week in camera bespreek nadat die gewone verrigtinge van die direksievergadering afgehandel is.

Die OBK belê hoofsaaklik die staatspensioenfonds (GEPF) se geld; sy totale beleggings beloop meer as R2 000 miljard. Die OBK is die afgelope weke onder die vergrootglas in die Mpati-kommissie van ondersoek.

Die afgelope week is bewerings van korrupsie teen Zulu, Gungubele en Matshepo More, waarnemende uitvoerende hoof, deur ’n persoon met ’n skuilnaam, James Noku, gemaak.

Daarna het Gungubele aan Netwerk24 gesê hy is nié van plan om as direkteur uit te tree nie, tensy die minister hom vra om dit te doen. Hy het ook volgehou dat hy onskuldig is en glo dat sy naam in ere herstel sal word.

Hy het ook ontken dat sy posisie met hom bespreek is deur Mboweni óf pres. Cyril Ramaphosa, wat die Mpati-kommissie aangestel het.

Die Mpati-kommissie het die afgelope week gehoor die direksie se beleggingskomitee is nie verplig om beleggings goed te keur nie, hoe groot ook al. Die gebrek aan oorsig is deels waarom ’n belegging van R43 miljard in Ayo Technology Solutions deurgevoer is nadat dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof, dit glo goedgekeur het sonder dat ’n noulettendheidsondersoek eens gedoen is.

Meer oor:  Obk  |  Motshepo More  |  Tito Mboweni  |  Daniel Matjila  |  Mondli Gungubele  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.