Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Herbespreek jou vlug gratis by SAL, Mango, ander
Toonbanke van die Suid-Afrikaanse Lugdiens op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan passasiers een gratis verandering aan ’n vlugbespreking toelaat vir sekere internasionale vlugte wat tussen nou en einde April bespreek word, het die lugdiens aangekondig.

Die herbespreekte vlugte moet teen einde September onderneem word.

Dit is as ’n vergunning aangebied weens onsekerheid rondom die koronavirus en grootskaalse reisbeperkings, kansellasies en die uitstel van verskeie sportgeleenthede, toere en konferensies.

Die SAL sê die roetes waar die gratis veranderings geld, is dié tussen Johannesburg en New York, Washington DC, Frankfurt, München en Londen.

Die herbesprekings moet teen einde April gedoen word.

“Ons verbind ons daartoe by die SAL om tydens die koronavirus-pandemie eerstens na ons passasiers en personeel te kyk. Dit is waarom ons passasiers help met hierdie spesiale herbesprekingsbeleid. Ons sal ons beleid tydens hierdie moeilike tyd gereeld hersien om te verseker ons passasiers kan steeds met gerustheid reis,” sê Philip Saunders, handelshoof van die lugdiens, in ’n verklaring.

LEES OOK: SAL doen sy deel om virus te keer

Die herbesprekings moet vir dieselfde klas, byvoorbeeld ekonomiese klas of besigheidsklas, wees. As daar nie ’n kaartjie in dieselfde klas beskikbaar is nie, sal daar ’n opgradering wees na die naaste toepaslike klas, maar ekstra kaartjiekoste en belasting sal dan geld.

Die spesiale beleid sluit nie terugbetalings in nie, en passasiers wat voorheen nie opgedaag het vir ’n bespreekte vlug nie, sal nie in aanmerking kom nie.

Die beleid is net van toepassing op SAL-vlugte, en nie vir vlugte van Mango, SA Express of Airlink nie. Mango het Vrydag sy eie beleid ingestel en sal gratis veranderinge aan vlugte toelaat vir vlugte wat tussen 14 Maart en 30 April 2020 bespreek is. 

Comair, wat kulula.com en British Airways bedryf, sal passasiers ook toelaat om kaartjies gratis te herbespreek, maar ’n tarief is dalk betaalbaar as die kaartjies in prys verskil.

kulula.com sal passasiers ook vergoed as hulle vlugte kanselleer. Hierdie passasiers sal krediet ontvang wat hulle binne 12 maande op ’n ander Kulula-vlug moet gebruik.

Die Duitse lugdiens Lufthansa het ook vroeër aangekondig hy sal passasiers tegemoet kom deur ’n gratis besprekingsverandering toe te laat vir enige vlugte wat tot einde Maart bespreek is. Die vlugte kan dan vir enige tyd tot en met einde Desember sonder enige koste herbespreek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.