Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Herstel van kitskos-bedryf stadig, sê Libstar
Libstar, wat verskeie kosprodusente besit, hoop tuisgemaakte kos of minstens voorbereide maaltye wat tuis gaargemaak word, gaan op die spyskaart bly.

Die landwye gebak en brou veral tydens die strengste fases van die staat van inperking was goeie nuus vir kosprodusente. Die groot vraag is nou of Suid-Afrikaners dit genoeg geniet het om aan te hou tuis kosmaak selfs nadat die meeste Covid-19-inperkingsregulasies opgehef is.

Die genoteerde firma Libstar, wat verskeie kosprodusente besit, hoop inderdaad tuisgemaakte kos of minstens voorbereide maaltye wat tuis gaargemaak word, gaan op die spyskaart bly.

Dit kom terwyl die ander groot verkoopsbeen van Libstar se sake – die lewering van suiwel- en vleisprodukte aan kitskosrestaurante – baie langtand begin herstel sedert kitskos weer in Junie vryelik gekoop kan word. Die groep voorsien ’n “stadige en geleidelike” herstel, veral in die lig van druk op verbruikers.

Libstar besit onder meer Lancewood, Denny, Cape Herb & Spice, Rialto Foods, Ambassador Foods, Millennium Foods en Finlar Fine Foods. Tussen hulle verskaf hulle kos wat onder hul eie naam of supermarkte se naam verkoop word aan onder meer Woolworths, Shoprite, Pick n Pay en Spar, asook hamburgerfrikkadelle vir McDonald’s.

Benewens tuis kosmaak, merk Libstar ook op dat mense nou anders inkopies doen. Hulle gaan minder gereeld winkel toe en koop eerder meer op ’n slag. Baie mense verkies daarom groter verpakkings van niebederfbare kos.

Ondanks die Covid-19-krisis het Libstar-filiale die afgelope ses maande 88 nuwe produkte bekend gestel en 36 produkte aangepas. Onder die nuwe produkte is nuwe Lancewood-jogurts, insluitend suiker- en laktosevrye produkte en nuwe geure, en Denny se sampioenbiltong en -skyfies.

As verskaffer van noodsaaklike produkte kon Libstar regdeur die inperking sake doen en het hy voordeel getrek uit ’n skerp styging in die vraag na kos. Verkope aan die klein- en groothandel het met 10,7% gestyg teenoor dieselfde tyd in 2019. Net in die tweede kwartaal van die jaar was dié verkope 14,2% hoër.

Daarteenoor het verkope aan kitskosrestaurante met 34,5% gedaal, en met 63,2% net in die tweede kwartaal.

As verskaffer van noodsaaklike produkte kon Libstar regdeur die inperking sake doen en het hy voordeel getrek uit ’n skerp styging in die vraag na kos.

Die uitvoer van veral speserye het vasgeval weens die krisis by die Kaapstadse hawe, waar die kwarantyn van werknemers weens Covid-19-simptome tot enorme personeeltekorte gelei het. Dit het uitvoer met 8% laat daal. Dit was in die eerste kwartaal ’n stewige 12,3% hoër as in 2019, maar het toe in die tweede kwartaal met 26,3% geval.

In totaal het die groep se inkomste met 1,9% tot R4,7 miljard gestyg.

Andries van Rensburg, uitvoerende hoof, het Woensdag met die voorlegging van die groep se tussentydse resultate, vir die ses maande tot einde Junie, gesê gegewe die druk op verbruikers se inkomste is dit moeilik om te voorspel wat die res van sy boekjaar inhou.

Die tweede helfte van die groep se boekjaar is gewoonlik sterker as die eerste helfte, maar in die nadraai van die Covid-19-krisis is dit moeilik om te raai hoeveel sterker dit vanjaar gaan wees.

Die groep het vanjaar sy verkope volgens verkoopskanaal (groot- en kleinhandel, restaurante, uitvoer en vervaardiging) uiteengesit juis om aan te toon hoe verskillend hulle deur die inperking geraak is. Hulle doen egter steeds verslag in sy vyf kategorieë, waarvan vier kos is: bederfbare kos, kruideniersware, versnaperinge, bakprodukte en huishoudelike en persoonlike sorg. Verkope van drie uit die vyf afdelings het skerp gestyg, maar bederfbare kos en kruideniersware is geraak deur die sluiting van restaurante.

In syfers
  • Inkomste styg met 1,9% tot R4,7 miljard.
  • Bruto winsgrens styg met 0,2 van ’n persentasiepunt tot 23,4%.
  • Genormaliseerde verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings daal met 5,4% tot R457 miljoen. As buitengewone bedryfsuitgawes wat met Covid-19 te make het, weggelaat word, styg dit met 3,7% tot R501 miljoen.
  • Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel daal met 17,7% tot 24,2c.
  • Die groep keer nooit ’n tussentydse dividend uit nie. Die betaling van die voljaardividend van 25c per aandeel vir 2019 is in Maart weens die onsekerheid oor die Covid-19-krisis opgeskort, maar die groep het nou besluit om dit tog uit te betaal. Dis 13,8% hoër as 2018 se 22c per aandeel.

Bederfbare kos

Dié kategorie verteenwoordig die grootste deel van Libstar se inkomste (46%) en sluit Denny, Lancewood, Rialto, Finlar en Millennium in. Selfs ondanks die skerp styging in kosverkope in winkels, het dié afdeling se verkope met 1,7% gedaal weens die sluiting van kitskosrestaurante in April en gedeeltelike heropening in Mei.

Kruideniersware

Dié afdeling sluit filiale in soos Dickon Hall Foods, Montagu Foods en Cecil Vinegar Works wat souse, bymiddels en blikkieskos vervaardig, asook Cape Herb & Spice. Verkope het met 2,1% gedaal, weer eens weens die sluiting van kitskosrestaurante en ’n trae vraag van die maatskappye waarvoor Libstar souse vervaardig.

Versnaperinge

Dié afdeling sluit Ambassador Foods in Witrivier in wat neute en droëvrugte en net- en gesondheidstafies aan onder meer Woolworths lewer. Dit sluit ook K Snacks in, die filiaal wat Pringles en Kellogg’s-noedels vervaardig. Verkope het met 18,1% gestyg, maar dit word grootliks daaraan toegeskryf dat K Snacks nou vir die eerste keer deel is van die syfers.

Bakprodukte

Verkope van dié produkte het met 22,9% opgeskiet soos Suid-Afrikaners hul bakvernuf beproef het of hulself met koekies en beskuit bederf het. Dié afdeling sluit in die bakkery Amaro, wat goed soos rolletjies vir Woolworths maak, Cani Artisan Bakers, wat beskuit en koekies bak, en Retailer Brands, wat onder meer gis, bakpoeier en geur- en kleurmiddels vervaardig.

Huishoudelike en persoonlike sorg

Dié afdeling vervaardig onder meer waspoeiers, watte en ander skoonmaakmiddels en toiletware. Verkope het met 11,5% opgeskiet, maar Libstar wys daarop dat dit beslis nie weens onbillike prysstygings vir dinge soos ontsmettingsmiddels is nie. Die afdeling begin nou eerder voordeel trek uit die herstruktureringsproses wat al twee jaar gelede begin het waardeur vervaardiging op een plek saamgetrek is, asook uit ’n meer winsgewende produkmengsel. Daar word nou byvoorbeeld minder staatgemaak op waspoeier, ’n produk met ’n baie lae winsgrens.

    Meer oor:  Libstar  |  Lancewood  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Restaurante  |  Kosgroep  |  Kitskos
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.