Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Het Musk die wet met sy Tesla-twiet oortree?

Elon Musk, die uitvoerende hoof van die motorvervaardiger Tesla, het verlede week ’n hele paar wenkbroue laat lig toe hy in ’n twiet gesuggereer het hy wil die maatskappy privatiseer.

Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla. Foto: Reuters

Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) is volgens The Wall Street Journal bekommerd oor Musk se uitlatings en omdat hy dit nie amptelik aangekondig het in pas met wetgewing nie.

Musk het verlede Dinsdag beleggers stomgeslaan toe hy op Twitter aankondig hy oorweeg dit om Tesla te denoteer in ’n transaksie van nagenoeg $72 miljard. Volgens Musk is die “finansiering” reeds gevind.

Die beleërde hoof het geen verdere besonderhede verskaf oor die bron van die finansiering nie, wat beleggers en die breër mark laat skarrel het vir meer inligting.

Daar was ook kommer oor of Musk enigsins die waarheid praat en of hy doelbewus aandeelhouers probeer mislei. Nietemin het Tesla se aandeelprys oor die afgelope paar dae met tot 11% gestyg.

Dis egter die ongewone manier waarop Musk die nuus aangekondig het, wat die grootste kommer wek. Volgens Amerikaanse regulasies moet ’n genoteerde maatskappy, soos Tesla, minstens vier dae voor ’n groot aankondiging ’n sogenaamde 8-K-vorm by die SEC indien.

Die feit dat Musk dit gesystap het, laat vrae ontstaan oor hoe maatskappye sosiale media gebruik om nuus te deel wat die mark regstreeks kan beïnvloed.

“Verkrygings deur bestuurders en ander private transaksies in maatskappye ly reeds aan ernstige inligtingstekorte tussen bestuur en aandeelhouers,” sê Gabriel Rauterberg, ’n regskenner en professor aan die Universiteit van Michigan.

Verskeie kenners meen egter Musk se twiet is nie genoeg van ’n aankondiging om die invul van ’n 8-K-vorm te regverdig nie.

Volgens David Axelrod, ’n vennoot by die regsfirma Ballard Spahr, sou dit wel wys gewees het vir Tesla om só vorm in te vul aangesien dit meer besonderhede sou verskaf.

“Dit sal aandui in watter stadium die onderhandelinge is,” sê hy. “Dit bied beslis meer inligting as wat in ’n twiet van 53 karakters vervat is.”

SEC-riglyne laat maatskappye en hul uitvoerende hoofde toe om sosiale media te gebruik om wesenlike inligting te versprei, mits beleggers vooraf gewaarsku word.

Maar sulke bekendmakings moet volledig en regverdig wees, ongeag die platform waarop dit plaasvind. Musk se twiet het waarskynlik nie aan hierdie vereiste voldoen nie.

“Twitter is nie ontwerp om ’n eerlike en volledige bekendmaking te verskaf nie,” sê Zachary Fallon, ’n voormalige prokureur by die SEC.

Nie Tesla of die SEC het op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Musk is bekend om sy grappige twiets oor Tesla en om die platform te gebruik om sy kritici uit te lok. Dit het tot gevolg gehad dat sy uitlatings op Twitter meestal met ’n knippie sout geneem word, daarom het baie beleggers aanvanklik gedink Dinsdag se uitlatings is net nog ’n grap.

“Musk se oneerbiedigheid en windmakerigheid is dalk deel van die Tesla-handelsmerk, en ek begryp dit. Maar ek dink nie wetgewing gaan saamstem nie,” sê Fallon. – Reuters

Meer oor:  Tesla  |  Elon Musk  |  Tegnologie  |  Elektriese Motors  |  Motors  |  Motorvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.