Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hoeveel ventilators het private hospitale regtig?

Dit word wyd aanvaar dat staatshospitale in Suid-Afrika nie genoeg ventilators het om verwagte getal Covid-19-pasiënte te help nie, maar het private hospitale genoeg?

koronavirus
Noodpersoneel versorg 'n persoon wat in Dresden in Duitsland met 'n ambulans by 'n hospitaal opgedaag het. Foto: REUTERS

Daar is wêreldwyd ’n tekort aan ventilators omdat mense wat ernstig siek raak aan Covid-19 asemhalingsprobleme ontwikkel.

Die Suid-Afrikaanse regering het die afgelope naweek ’n dringende projek stapel gestuur om te sorg dat die land teen einde Junie 10 000 ventilators vervaardig het om die verwagte tekort aan te vul.

LEES OOK: Só wil Suid-Afrika vinnig 10 000 ventilators bou

Prof. Alex van den Heever, ’n gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê daar is geen amptelike inligting beskikbaar oor hoeveel ventilators daar altesame in die land is nie.

Popo Maja, ’n woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, het Donderdag by navraag gesê hulle stel nog vas wat die land se vermoë ten opsigte van ventilators en beddens in waakeenhede is.

“Ons fokus is om te verseker dat mense die staat van inperking en ander voorkomingsmaatreëls gehoorsaam ten einde die behoefte aan beddens en ventilators te minimaliseer.”

Mediclinic wou by navraag nie sê hoeveel ventilators hy het nie weens vrees “dat die getalle verkeerd vertolk sal word”.

Ook die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) kon nie syfers verskaf nie en sê die private hospitale wat sy lede is, verskaf elkeen dié inligting afsonderlik aan die departement.

Mark Peach, woordvoerder van Hasa, sê inligting oor die totale en beskikbare getal beddens in algemene sale, hoësorg- en waakeenhede en die verwante toerusting, word aan die departement verskaf.

Netcare gee wel syfers

Die enigste hospitaalgroep wat by navraag spesifieke inligting aan Netwerk24 gegee het, is Netcare.

Netcare het einde Maart aangekondig hy gaan R150 miljoen bestee om veiligheidsklere vir sy personeel en ventilators aan te koop.

LEES OOK: Netcare gaan staatspasiënte met virus opneem

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof, sê Netcare het meer as 1 000 ventilators en het nog 100 bestel.

Dit kan met nog 600 opgestoot word as die toerusting wat vir narkosemasjiene in teaters gebruik word, in ventilators omgeskep word, wat Netcare se totale vermoë dan op 1 700 te staan sal bring.

Die produkte wat ingevoer word, sal einde April of begin Mei in die land opdaag.

“Gelukkig kon ons die ventilators kry teen pryse wat nie veel verskil van voor Covid-19 nie, maar die prys van veiligheidsklere het ongelukkig baie gestyg.”

Netcare se ventilators is landwyd in sy hospitale met waakeenhede, dus in feitlik al sy hospitale.

Op die vraag of dit genoeg is, sê hy dit is nog te vroeg om te sê omdat niemand weet waarheen die infeksiesyfers in Suid-Afrika op pad is nie. Die hoë syfers wat alom verwag word, het nog nie gerealiseer nie, maar dit kan nog kom.

Ander syfers

hospitaal
Netcare se Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. Netcare het meer as 1 000 ventilators en het nog 100 bestel. Foto: Nellie Brand-Jonker

Life Healthcare sê hy het 49 hospitale in sewe provinsies en een in Botswana.

Volgens dr. Charl van Loggerenberg, hoof van noodmedisyne van Life Healthcare, het die groep 1 050 beddens in waakeenhede vir volwassenes.

“Dit is moeilik om te bepaal of dit voldoende sal wees omdat ons nog nie weet wat die impak van Covid-19 oor die volgende weke en maande gaan wees nie.

“Nie alle beddens in waakeenhede is met ventilators toegerus nie omdat dit tot op hede nie nodig was nie. Voor die Covid-19-pandemie het ons genoeg toerusting gehad om pasiënte met asemhalingsprobleme te versorg.”

Van Loggerenberg sê ’n span van Life Healthcare ondersoek die groep se kapasiteit, waaronder sy toerusting, ten einde te verseker dat sy hospitale en personeel landwyd die regte hulpbronne het.

Bykomende toerusting is aangekoop, maar Van Loggerenberg het nie gesê wanneer dit ontvang gaan word nie. Hy sê Life Healthcare werk saam met ander hospitaalgroepe om gesamentlik verskaffers te kry.

Mediclinic

Mediclinic sê hy kan nie die totale getal ventilators wat hy het, bevestig nie.

“Ons werk deurentyd aan die uitbreiding van ons vermoë om pasiënte te behandel wat waaksorg benodig, en die verkryging van nog ventilators is deel daarvan,” sê dr. Stefan Smuts, hoof- kliniese beampte van Mediclinic in Suider-Afrika.

Hy sê Mediclinic wil nie die syfer oor ventilators verskaf nie omdat hulle glo “ ’n fokus op syfers” kan nie gebruik word om ’n hospitaal se vermoë regstreeks te vertolk nie. “Dit skep ruimte vir onakkurate afleidings. Ons prioriteit is om te verseker dat ons geskikte hulpbronne het om ons pasiënte ten beste te ondersteun tydens die pandemie.”

Dr. Neil Nair, hoof van die Nasionale Hospitaal Netwerk, het by navraag gesê hul hospitale het tans 7 447 geregistreerde beddens waarvan 738 in waakeenhede is, 356 in hoësorgeenhede en 142 vir isolasie en oordraagbare siektes. Hulle het altesame 362 ventilators.

Van den Heever het vroeër in ’n podsending aan Netwerk24 gesê die staat het die afgelope 20 jaar opgehou belê in waak-, kritieke en hoësorg en eerder belê in primêre gesondheidsorg.

LUISTER OOK: Covid-19 – Groot kommer oor ventilators

Volgens hom het die private sektor weer meer belê in dié beddens.

“Dank die Vader, want die beddens wat die staatsektor het, is heeltemal te min.”

Netwerk24 het voorheen berig Van den Heever glo private hospitale sal hul deure vir staatspasiënte moet open want daar is nie genoeg beddens in staatshospitale vir mense wat kritieke sorg nodig gaan kry nie.

LEES OOK: Virus: ‘Private hospitale sal deure moet open’

Altesame 15% van mense wat die virus opdoen word ernstig siek en benodig suurstof terwyl 5% kritiek siek word en opname in waakeenhede met ventilators verg.

Pasiënte wat ventilators benodig moet gemiddeld drie weke daaraan gekoppel wees.

Van den Heever sê die standaardaanname is dat elke bed in ’n waakeenheid ’n ventilator het en dat beddens in hoësorgeenhede nie ventilators het nie, hoewel hulle ook beddens is wat vir kritieke sorg gebruik word.

Volgens sy syfers is daar sowat 6 000 beddens in private en staatshospitale in waak- en hoësorg-eenhede.

Hier is sy syfers vir staatshospitale:

  • Waakeenhede: 1 178 beddens waarvan net 236 beskikbaar is gegrond op standaardbesettingsyfers.
  • Hoësorgeenhede: 1 082 beddens waarvan 216 beskikbaar is.

Syfers vir private hospitale:

  • Waakeenhede: 2 140 beddens waarvan 1 070 beskikbaar is.
  • Hoësorgeenhede: 1 640 beddens waarvan 820 beskikbaar is.

Gegrond op dié syfers en die aanname dat net beddens in waakeenhede gewoonlik ventilators het, kom dit neer op ’n geraamde 3 300 ventilators in die land.

Van den Heever sê dit is wel so dat sowel die staat as die private sektor tans operasies uitstel om beddens oop te hou. Die huidige besettingsyfer kan dus laer wees.

Dié getal is baie minder as wat tot dusver in ander mediaberigte genoem is.

Rapport het Sondag berig Suid-Afrikaanse hospitale beskik na raming oor sowat 6 000 ventilators (4 000 in private hospitale en 2 000 in staatshospitale).

News24 noem dieselfde syfer wat hy kry by ’n bron in die gesondheidsbedryf “wat betrokke is by hoëvlakgesprekke met die regering”.

Meer oor:  Netcare  |  Life Healthcare  |  Mediclinic  |  Ventilators  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.