Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hier is die redes vir die teenkanting teen Wiese

Beleggers het die afgelope week vir die eerste keer sedert einde 2017 se skouspelagtige ineenstorting van die genoteerde meubelgroep Steinhoff die kans gehad om vir die herverkiesing van Christo Wiese (78) tot die direksie van Shoprite-groep te stem.

Wiese
Christo Wiese (78) Maandagoggend voor Shoprite-groep se jaarvergadering begin het. Hy is al 28 jaar voorsitter van die groep. Foto: Nellie Brand-Jonker

Shoprite en Steinhoff het teen einde 2017 ’n paar dinge in gemeen gehad. Wiese was albei se grootste aandeelhouer en voorsitter. Boonop was daar ’n plan wat daartoe sou lei dat Steinhoff beheer van Shoprite sou kry – ’n treinongeluk wat rakelings vermy is.

Gewone beleggers het Maandag op Shoprite se jaarvergadering duidelik getoon hulle wil Wiese nie meer as direkteur hê nie.

Sowat 61% van hulle het teen sy herverkiesing gestem.

Tog is hy herverkies danksy sy spesiale hoëstemaandele. Hoewel hy sedert die Steinhoff-bom van sy Shoprite-aandele moes verkoop is hy steeds die aandeelhouer met die grootste stemreg – altesame sowat 42,8%.

Ons het teen die herverkiesing gestem weens kommer oor die gebeure rondom Steinhoff, gegewe sy senioriteit en gegewe sy ampstermyn op die direksie.
Lewenson

Robert Lewenson, hoof van die eenheid van Old Mutual Investment Group wat besluit hoe gestem word namens beleggers op grond van korporatiewebestuurkwessies, sê hulle het teen Wiese se herverkiesing gestem.

Steinhoff, Steinhoff

Daar is drie redes: “Ons het teen die herverkiesing gestem weens kommer oor die gebeure rondom Steinhoff, gegewe sy senioriteit en gegewe sy ampstermyn op die direksie.”

“Die aard van die kwessies by Steinhoff laat wesenlike vrae oor Wiese se vermoë om effektief toesig te hou oor die bestuur en die beste belange van die aandeelhouers van Shoprite te dien.”

Coronation het geweier om vrae te antwoord oor hoe gestem is en hoekom.

Allan Gray het gesê hulle gaan nie reageer nie omdat hulle nie aandele hou in Shoprite nie.

Marlo Scholtz, hoof van aandelenavorsing en ’n portefeuljebestuurder van Sanlam Investment Management (SIM), het gesê hulle het ook teen sy herverkiesing gestem.

Solank daar twyfel bestaan of hy in belang van minderheidsaandeelhouers sal optree is dit moeilik vir ons om sy aanstelling te steun. Dit is duidelik dat Wiese die vertroue van minderheidsaandeelhouers verloor het.
Meintjes

Volgens hom is die besluit geneem op grond van SIM se beleid oor korporatiewe bestuur en verantwoordelike belegging wat in ag geneem word wanneer op jaarvergaderings namens beleggers gestem word.

Dit sluit in hoe lank ’n direkteur reeds in ’n direksie is en hoe oud hy is.

“Ons hou nie daarvan as iemand vir langer as drie termyne in die direksie bly nie en Wiese is al langer in die direksie.”

Wiese se ouderdom het ook teen hom getel omdat hy al bo 70 is. Dit laat vrae ontstaan oor energie en werketiek en of iemand nog sy rol kan vervul.

Sekere faktore word dan oorweeg, insluitend of ’n persoon se vaardighede so uniek is dat dit ’n waarde het en hoe goed ’n persoon se prestasie rekord in die verlede (as direkteur) was, volgens Scholtz.

“Ten opsigte van sy prestasie rekord in die kort termyn was dit nie die wonderlikste gewees die afgelope jare as jy kyk na Brait en Steinhoff nie.”

Jan Meintjes, ’n portefeuljebestuurder van Denker Capital, sê hulle het ook teen sy aanstelling gestem.

“Ons sal gewoonlik vroeë entrepreneurs en stigters van maatskappye bly ondersteun vir lang tye solank ons glo hulle voeg waarde toe.

“Normaalweg sou ons nie ’n probleem gehad het met Wiese wat voortgaan om ’n direkteur te wees nie.

“Daar was verskeie transaksies oor die laaste klompie jare waar dit duidelik was dat Wiese se belange en die van minderheidsaandeelhouers nie belyn was nie. Dit sluit in transaksies by Steinhoff, Pepkor, Brait en Shoprite.

“In hierdie omstandighede dink ons nie dit is gepas dat hy as voorsitter van Shoprite dien nie. Solank daar twyfel bestaan of hy in belang van minderheidsaandeelhouers sal optree is dit moeilik vir ons om sy aanstelling te steun. Dit is duidelik dat Wiese die vertroue van minderheidsaandeelhouers verloor het.”

Wiese het ná die jaarvergadering Maandag by navraag oor die groot teenkanting teen hom gesê dit hou verband met ’n toenemende neiging van institusionele aandeelhouers om onafhanklike voorsitters te soek.

Of dit gaan oor wantroue in hom ná die Steinhoff-debakel, het hy gesê dit tel nie werklik nie, maar wat tel is die geloof in die bestuurspan en hoe hy met die bestuurspan saamwerk.

LEES OOK: Shoprite: Wiese sê waarom baie teen hom stem

Stap in verkeerde rigting

Wiese is reeds 28 jaar lank die voorsitter van Shoprite-groep.

Hoe lank hy voorsitter gaan bly was ná die jaarvergadering ’n groot vraag weens die groot persentasie gewone aandeelhouers wat teen hom gestem het.

Hy is egter Maandag op ’n direksievergadering ná die jaarvergadering as voorsitter herverkies.

Ons sien haar bedanking as ’n stap in die verkeerde rigting vir die maatskappy.
Lewenson

Prof. Shirley Zinn, hoof- onafhanklike direkteur, het aan Netwerk24 bevestig die direksie het Wiese eenparig herverkies as voorsitter. “Ons het na die syfers en stempersentasies gekyk en gedink om voort te gaan met sy herverkiesing en terselfdertyd dadelik ’n opvolgproses te begin.

“Ons is van voorneme om met ’n formele keuringsproses te begin om ’n opvolger met onmiddellike effek te identifiseer.”

Wanneer dié nuus aandeelhouers sou bereik is egter nou onseker want Woensdagmiddag het Zinn onverwags bedank. Dit was ses maande nadat sy in Mei as hoof- onafhanklike direkteur aangestel is. (Lees onder hoe sy die belang van haar rol in die jaarverslag verduidelik)

LEES OOK: Shoprite: Skokbedanking ná omstrede vergadering

Lewenson het oor Zinn se bedanking gesê dit is ongelukkig. “Sy is ’n baie gerespekteerde direkteur en kampvegter vir korporatiewe bestuur en beklee baie belangrike posisies by ander genoteerde maatskappye.”

“Haar posisie as onafhanklike hoofdirekteur, voorsitter van die vergoedingskomitee en lid van die nominasiekomitee beteken dat sy veral ’n belangrike rol gespeel het om beter korporatiewe bestuur en vergoedingspraktyke te bepleit.

“Ons sien haar bedanking as ’n stap in die verkeerde rigting vir die maatskappy,” het Lewenson gesê.

Meintjes sê hoewel Denker Capital ook nie weet wat die presiese omstandighede was van haar bedanking nie sou ’n mens “verwag dat sy baie sensitief sou wees in gevalle waar direkteure se onafhanklikheid ter sprake sou kom”. “Ons kan net bespiegel, maar gegewe haar spesifieke rol in hierdie opsig en die vrae wat reeds bestaan oor onafhanklikheid in die direksie, is dit moeilik om tot ’n ander gevolgtrekking te kom as dat sy skielik baie ongemaklik gevoel het in haar rol. Dit is duidelik ongesond vir ’n openbare maatskappy as een of meer direkteure ’n wesenlike disproporsionele hoeveelheid mag en invloed in ’n direksie kan uitoefen.”

Wat is ’n hoof- onafhanklike direkteur?

’n Hoof- onafhanklike direkteur is veral belangrik waar die voorsitter nie onafhanklik van die maatskappy is nie, soos die geval met Christo Wiese is.

Hy is nie onafhanklik nie weens sy groot belang in die groep.

Die rol van so ’n direkteur is om in die direksie ’n “toepaslike magsbalans te handhaaf sodat oorheersing deur ’n enkele persoon vermy word”, skryf Zinn in Shoprite se jaarverslag in die verklaring van die hoof- onafhanklike direkteur.

Sy skryf die hoof- onafhanklike direkteur het vergaderings gelei waar die voorsitter (Wiese) belangebotsing gehad het. Dit het ingesluit die voorgestelde transaksie van vroeër vanjaar om weg te doen met die hoër stemaandele wat Wiese hou.

LEES OOK: ‘Buitensporige’ prys sink Shoprite se plan

Die Instituut van Direkteure van Suider-Afrika het in riglyne oor King IV gesê ’n hoof- onafhanklike direkteur is nodig “veral as daar ’n oorheersende voorsitter is”, om ’n magsbalans te bereik, meganismes vir aanspreeklikheid in die direksie te versterk en om konflik en disfunksie in die direksie te bemiddel waar die voorsitter betrokke is.

Meer oor:  Denker  |  Steinhoff  |  Allan Gray  |  Sanlam  |  Shoprite  |  Old Mutual  |  Coronation  |  Jan Meintjes  |  Marlo Scholtz  |  Robert Lewenson  |  Christo Wiese  |  Korporatiewe Beheer  |  Direkteur  |  Jaarvergadering  |  Voorsitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.