Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hier is onveiligste motor in SA

Dit was g’n maklik om te aanskou nie – die vervorming van ’n eens glansblink ryding tot ’n rommelhoop van glas en metaal.

En in twee van die botsings gedeeltelik van voor sou die gevolg waarskynlik noodlottig vir die bestuurder en voorste insittende gewees het.

Dié botsingtoetse, uitgevoer op vyf gewilde plaaslike intreevlakmotors, is gedoen as deel van die bekendstelling van die globale nuwemotor-evaluasieprogram (Global NCAP) en die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) se #SaferCarsForAfrica-veldtog, wat Donderdag in Kaapstad aangekondig is.

Die uitslae van die botstoetse – die eerste onafhanklike NCAP-gegradeerde toetse nóg op passasiersmotors spesifiek vir die plaaslike mark – het ’n skokkend wye graad van padbotsingveiligheid tussen die vyf toetsmodelle uitgewys; wisselend van vier tot nul sterre vir volwassene- en kinderbeskerming.

Die modelle wat in Europa deur die gerekende Duitse ADAC-organisasie getoets is, was die plaaslik vervaardigde Volkswagen Polo Vivo, Suid-Afrika se topverkoper-passasiersmotor, die Datsun Go+ en Toyota Etios wat albei van Indië hierheen ingevoer word, die Roemeens geboude Renault Sandero en die Chery QQ, wat van China ingevoer word.

Die gekombineerde verkope van hierdie modelle verteenwoordig sowat 65% van alle nuwe motors wat verlede jaar plaaslik verkoop is. Global NCAP het die intreevlak-weergawe van elke model aan die botsingtoets onderwerp – wat beteken een model, die Chery QQ, het geen lugsakke nie, wyl die Datsun Go+ net met ’n bestuurderlugsak toegerus is.

David Ward, sekretaris-generaal van Global NCAP (links) en Collins Khumalo, uitvoerende hoofamptenaar van die Automobiel-Assosiasie. Die twee motors is die Toyota Etios (links) en Chery QQ (regs).

Die toetsuitslae het duidelik die verskil in strukturele integriteit van die verskillende modelle uitgewys, met die QQ se veiligheidstruktuur wat heeltemal deur die botsingkragte vervorm is, terwyl die Go+ se struktuurvervorming aan die onaanvaarbare gegrens het.

(Die Go+ is gebou op dieselfde onderstel as die Renault Kwid – wat drie keer aan NCAP-toetse in Indië onderwerp is alvorens dit ’n driester-gradering kon vermag.)

Volgens David Ward, sekretaris-generaal van Global NCAP, is dit goed om ’n vierster-gradering in die eerste botstoetsuitslae in Afrika te sien. “Dis egter teleurstellend dat daar ook ’n nulster-gradering is.

“Sulke swak uitslae wys waarom dit so belangrik is vir lande soos Suid-Afrika – waar meer as 14 000 mense jaarliks op die paaie sterf – om die Verenigde Nasies se botsingtoets-standaarde te aanvaar.

“Motorkopers benodig klinkklare vergelykende botstoetsinligting om ’n ingeligte koopbesluit te kan neem. Daarom steun Global NCAP die idee om die aandui van botstoets-inligting op alle nuwe motors in Suid-Afrika verpligtend te maak.”

Saul Billingsley, uitvoerende hoof van die FIA-stigting, het gesê die eerste onafhanklike botstoetse in Afrika is ’n mylpaal in motorveiligheid vir die vasteland wat met trots deur die stigting gesteun word.

Die toetse

Behalwe die veiligheidsgraad vir volwassenes ken NCAP ’n aparte punt toe vir kinderveiligheid om die verskillende vlakke van voertuigbeskerming vir agterste passasiers te beklemtoon.

Doelontwerpte kinderstoeltjies is van uiterste belang in hierdie opsig. In die evaluerings is gevind dat sommige van die kinderstoeltjies wat deur die vervaardigers aanbeveel is, onversoenbaar met die voertuig se veiligheidsgordelstelsel was.

Daar was geen driepuntgordel vir die middelsitplek in die Polo Vivo, Chery QQ3 en Datsun GO+ nie, en dus geen manier om ’n kinderstoel daar aan te bring nie. Net die Toyota Etios en Renault Sandero het Isofix-ankerpunte as standaard-toerusting gehad.

“Die reeks uitslae wys dat kopers ’n keuse het, en met toegang tot die regte inligting kan hulle hul koopkrag gebruik om motorvervaardigers te beloon wat veiligheid voorop stel.”

Hy het daarop gewys dat sowat 1,3 miljoen mense jaarliks wêreldwyd in motorbotsings sterf en dat die VN dit ten doel gestel het om hierdie syfer teen 2020 te halveer. Tog het 20% van die nuwe 72 miljoen voertuie op die wêreld se paaie verlede jaar steeds nie aan minimum veiligheidstandaarde voldoen nie.

Om padbotsingsterftes en -beserings in Suid-Afrika – wat die land jaarliks R142 miljard (sowat 3,5% van BNP) kos – te verminder, beteken veiliger voertuie moet ’n hoofprioriteit wees, sê Collins Khumalo, uitvoerende hoof van die AA in Suid-Afrika.

“Die botstoetse is ’n belangrike stap vorentoe vir padveiligheid in Suid-Afrika. Ons meen gebruikers het ’n reg om te weet hoe veilig die voertuie is wat hulle wil aanskaf, en hierdie uitslae is van kritieke belang om kopers te bemagtig om ’n ingeligte besluit te neem.

“Die AA steun die voorstel om, net soos wat uitlaatgasvlakke en brandstofverbruiksyfers nou op motors vertoon word, ook botsveiligheidsgraderings te vertoon, en ons is van mening dis nie ’n groot uitdaging om dit te vermag nie.

“Die betrokkenheid van Global NCAP, die FIA-stigting en Bloomberg Philanthropy om hierdie veldtog in Afrika te begin, wys hul erns met padveiligheid, en ons as Suid-Afrikaners behoort dit net so ernstig te bejeën.”

Khumalo het gesê die AA is in gesprek met die departement van vervoer en ander rolspelers om voertuig- en padveiligheid in die land verder te bevorder.

  • Toyota Etios (2 lugsakke)

Die Etios het ’n vierster-gradering vir volwassene-beskerming in die botstoets van voor teen 64 km/h ontvang. Die voertuigstruktuur is as stabiel aangedui, met goeie volwassene-beskerming. Met kinderstoele deur Toyota aanbeveel, het die Etios ’n driester-gradering vir kinderpassasierbeskerming ontvang.

  • Renault Sandero (2 lugsakke)

Die Sandero het ’n driester-gradering vir volwassene-beskerming ontvang. Die voertuigstruktuur is as stabiel aangedui. Die motor het nie voorafstyftrekgordels nie. Met stoeltjies deur Renault aanbeveel, het die Sandero ’n vierster-gradering vir kinderpassasierbeskerming ontvang.

  • Volkswagen Polo Vivo (2 lugsakke)

Die Polo Vivo het ’n driester-gradering vir volwassene-beskerming ontvang. Die voertuigstruktuur is as stabiel aangedui. Die motor het nie voorafstyftrekgordels nie, en met stoeltjies deur Volkswagen aanbeveel, het die Polo Vivo ’n driester-gradering vir kinderpassasierbeskerming ontvang.

  • Datsun Go+ (1 lugsak)

Die Go+ het net ’n eenster-gradering vir volwassene-beskerming ontvang. Die voertuigstruktuur is as onstabiel aangedui, met stuurwielbeweging wat ten spyte van ’n lugsak hoë druk op die bors van die insittende geplaas het. Die Go+ het ’n tweester-gradering vir kinderpassasierbeskerming ontvang.

  • Chery QQ3 (geen lugsakke)

Die QQ3 het ’n nulster-gradering vir volwassene-beskerming ontvang. Die voertuigstruktuur is as onstabiel aangedui, met die stuurwiel wat gebreek het en erge kop- en borsbeserings op die toetspoppe aangedui het. Die QQ3 het ook ’n nulster-gradering vir kinderpassasierbeskerming ontvang.

Meer oor:  Renault  |  Global Ncap  |  Toyota  |  Automobiel Assosiasie  |  Aa  |  Datsun  |  Volkswagen  |  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorvervaardiging  |  Padveiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.