
H&M oorweeg dit glo om Suid-Afrikaanse verskaffers aan te stel.Foto: Bloomberg
Die kleinhandelaar H&M loer glo na Suid-Afrikaanse klerevervaardigers om te sien of hulle hom in die toekoms van klere vir sy winkels kan verskaf.
Die bestuur besoek glo dié week verskeie groot stede.
Die besoek is glo deur die staat gereël as deel van ’n poging om die plaaslike tekstielsektor ’n hupstoot te gee.
Dié sektor ly swaar onder goedkoop invoer vanuit veral China.
H&M is in Januarie erg gekritiseer toe hy ’n foto van ’n swart kind wat ’n baadjie met die woorde “Coolest monkey in the jungle” dra in ’n advertensie gebruik het.
Die kleinhandelaar het om verskoning gevra en die advertensie onttrek.
Lees ook: H&M jammer oor advertensie
“Ons het ná hul verskoning voorgestel hulle hul berou op ’n praktiese manier toon deur goedere vanuit Suid-Afrika te bekom,” sê Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling.
Amelia-May Woudstra, woordvoerder van H&M in Suid-Afrika, sê direkteure sal Kaapstad, Johannesburg en Durban besoek. Sy het egter gewaarsku dat die assessering om vennootskappe met plaaslike vervaardigers te sluit nog in ’n vroeë stadium is.
“Ons het begin met ’n aanslag van Suid-Afrika as ’n potensiële verkrygingsmark,” sê sy.
H&M het 18 winkels in Suid-Afrika.
“As H&M klerasie vanuit Suid-Afrika bekom, sal dit ’n groot hupstoot vir vertroue in dié sektor wees. Ons het definitief die plaaslike kapasiteit om aan hulle te verskaf, veral wanneer dit by basiese artikels soos onderklere kom,” sê ’n bron wat in die sektor werk.
Volgens dié persoon word daar ook reeds met ander internasionale kleinhandelaars soos Cotton On en Zara oor plaaslike verskaffing gepraat.
– Reuters