Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hoe betaal ‘platsak’ Dudu haar enorme regskoste?

Iemand is besig om buitensporige regskoste van Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), in haar saak teen die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) te dek. Die lys kandidate is kort, maar hoogs omstrede.

Dudu Myeni
Dudu Myeni, 'n vorige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, op 'n argieffoto saam met oudpres. Jacob Zuma. Foto: Argiewe

Myeni is tans gewikkel in ’n peperduur hofsaak om ’n tussentydse bekragtigingsbevel deur regter Ronel Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria om te keer.

Volgens haar regspan ontneem die tussentydse bevel haar van haar “reg” om, hangende ’n appèlaansoek teen haar verklaring tot misdadige direkteur, in die tussentyd in direksies te dien en ’n inkomste te verdien.

Myeni het in haar beëdigde verklarings verlede jaar in die verhoor aangevoer dat sy te arm is om in die hof te verskyn en nie petrolgeld het om van Richardsbaai in KwaZulu-Natal tot in Pretoria vir die verhoor te reis nie.

Sy sê sy is werkloos – sy meen haar posisie op vier direksies in daardie stadium tel nie as indiensneming nie – en haar vergoeding is “straks ’n hongerloon”.

Volgens adv. Carol Steinberg, SC vir Outa, se argumente in die hof het Myeni haarself egter daarna skuldig gemaak aan meineed deur toe later aan te voer sy kan nie tot misdadige direkteur verklaar word nie omdat sy “afhanklik is” van haar inkomste uit die vier direksies waarop sy dien.

Dis toe duidelik nié so ’n klein bedrag dat dit nie saak maak nie.

Myeni het in Mei haar regspan vervang, net toe oudpres. Jacob Zuma ook sy regspan vervang het. Sy word nou verteenwoordig deur dieselfde mense wat Zuma verteenwoordig.

Haar vorige prokureur was die omstrede Daniel Mantsha, wat Zuma ook in sy korrupsie-saak verteenwoordig het.

Sowel Zuma as Myeni het Eric Mabuza toe aangestel as prokureur en adv. Dali Mpofu se dienste as advokaat bekom.

Netwerk24 verneem van ’n onberispelike bron dat Mpofu, wat Myeni nou al amper ’n jaar lank verteenwoordig, sowat R60 000 per dag vir sy dienste vra, en R6 000 per uur vra vir werk wat in die aanloop tot die hofverrigtinge gedoen word.

Maar Mpofu is nie alleen op Myeni se regspan nie.

Hy het ook twee juniors wat nagenoeg die helfte as Mpofu verdien, wat beteken saam met Mabuza se tariewe dok Myeni tans meer as R100 000 per dag op vir haar regspan, wat sedert Mei 2020 al keer op keer in die hof verskyn het.

“Daar is geen aanduiding dat Mabuza en Mpofu tans die werk pro bono (dus verniet) doen nie,” sê ’n vertroulike bron na aan die saak.

Mabuza was nie Dinsdag self beskikbaar vir kommentaar nie.

Mantsha, Myeni se vorige prokureur, het in April 2020 aangedui dat hy wel sy werk vir Myeni sonder vergoeding gedoen het, maar dat dit moeilik geraak het om aan te hou namate die hofsaak voortgesleep het.

Dali Mpofu
Adv. Dali Mpofu

Mpofu het nog geen só ’n aankondiging in die hof gemaak nie.

Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van Outa se afdeling vir aanspreeklikheid, sê aan Netwerk24 dat daar duidelik ’n bron van finansiering ter sprake is by Myeni en dat Outa geen benul het wie dit is nie.

“Dit is die groot vraag.”

Die vertroulike bron na aan die saak sê egter Myeni, ten spyte van haar getuienis dat sy platsak is, het na bewering “sakke vol geld” vir haar aandeel in die proses van staatskaping en haar noue verbintenis met Zuma ontvang.

“Daar is baie sprake van sakke vol geld wat sy tot haar beskikking het.

“Die probleem met haar en Zuma is dat hulle toegang het tot miljoene, miskien miljarde, rande, maar dat die geld nie likied is nie. Iemand leen dus waarskynlik vir haar geld.”

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê Myeni het net soos haar eweknieë Zuma, Supra Mahumapelo, Ace Magashule en Malusi Gigaba oor die jare “hordes geld” opgegaar en niemand weet waarheen dit is nie.

“Dit kan wees dat dit geld is wat sy persoonlik iewers wegsteek, of dit kom van Zuma self af,” sê Venter.

Myeni is blykbaar nog steeds voorsitter van die Jacob Zuma Foundation, waartoe niemand nog toegang tot die finansiële resultate kon kry nie.

Op die vraag of dié stigting dalk Myeni en Zuma se regskoste aan hul prokureur, Mabuza, betaal, sê Venter dit is ’n groot moontlikheid.

“Die mandaat van die stigting is om onder meer onderrig te finansier, maar aangesien niemand weet waarvandaan die geld kom of waarheen dit gaan nie, is dit dalk wel hul persoonlike bankrekening.”

Myeni is ’n groot vertroueling van Zuma, nes Mahumapelo, Magashule en Gigaba.

Mpofu, voorsitter van die EFF, het ook verlede naweek die “teepartytjie” tussen Zuma en die EFF-leier Julius Malema bygewoon.

Drie dae later was hy in die hof om Myeni te verdedig –teen R60 000 vir die dag – en ’n platsak Myeni het weer eens vir die behoud van haar inkomste gepleit.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.