Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hoe lank nog, vra drankbedryf oor verbod

Die drankbedryf het die regering gevra om ’n meer besliste datum te gee vir die einde van die verbod op die verkoop van alkoholiese drank.

Robertson Winery
Parstyd begin voor einde Januarie in die wynbedryf en 'n goeie oes word verwag maar nou sit die bedryf met die meeste jaareind voorraad nog en sukkel met stoorplek. Foto: Robertson Winery

Dis ’n vraag op almal se lippe, veral die wynbedryf wat in die komende twee weke met parstyd begin en sukkel met bergingsplek.

Talle betrokkenes in die wynbedryf het Vrydag aan Netwerk24 oor die probleem met bergingsplek terwyl die nuwe oes gepars word, gesê dit is onseker of die verbod begin Februarie, 15 Februarie of selfs later eers opgehef sal word.

Elke week wat verbygaan, word mense se lewensbestaan verder in gevaar gestel. Ons bedryf is verantwoordelik vir tot 1 miljoen poste, wat tans in gevaar is. Ons kan dit nie bekostig om meer as die 165000 werksgeleenthede te verloor wat reeds verlore is nie.
Moore

“Dit is soos iemand wat jou kop onder die water druk en jou nie waarsku vir hoe lank hy dit gaan doen nie," het Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van KWV, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

“As jy weet die verbod geld vier weke kan jy voorbereidings tref om te oorleef. Maar as jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, is dit ’n massiewe verskil en moet jy drastiese stappe doen om te oorleef. Dit is daai geweldige onsekerheid wat dit amper onhoudbaar maak.” 

Pieter Cronjé, bemarkingshoof van UniWines Vineyards in die Breedekloof, beskryf die onsekerheid soos volg: “Die kristalbal is duister. Die onsekere tye maak dit baie moeilik om te beplan.”

Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Vereniging van Eienaars van Drankhandelsname (Salba), wat lede insluit soos Distell, Vinimark, DGB, Heineken, Diageo, KWV en Spier, sê die drankbedryf het geen aanduiding ontvang van hoe lank die verbod gaan duur nie.

“Wat ons weet, is wat die president op 11 Januarie aan die land gesê het, naamlik dat die beperkings op 15 Februarie hersien sal word.

“Ons bly hoop dat die president die beperkings nie later nie as 15 Februarie sal ophef en die voorstelle sal aanvaar wat deur die bedryf voorgelê is.”

Hy sê die besorgdheid van die regering oor die virus en die tweede golf van infeksies is verstaanbaar, maar daar is minder drastiese maatstawwe om “lewens en mense se broodwinning te red”.

“Dit is nie gevaarliker om alkohol te koop vir verbruik tuis as wat dit is om kruideniersware in ’n supermark te koop nie," sê Moore.

“Elke week wat verbygaan, word mense se lewensbestaan verder in gevaar gestel. Ons bedryf is verantwoordelik vir tot 1 miljoen poste, wat tans in gevaar is. Ons kan dit nie bekostig om meer as die 165 000 werksgeleenthede te verloor wat rééds verlore is nie.”

Hy sê terwyl die regering kyk na hoe die entstowwe wat verkry moet word, deur hom gefinansier gaan word, “word die staatskas van R2,5 miljard per maand se aksyns ontneem”.

Die regering is vir ’n besliste datum gevra van wanneer die verbod opgehef word.

Lucky Ntimane, sameroeper van die National Liquor Traders Council, sê die onbepaalde verlenging van die verbod “toon weer die kommerwekkende tendens van die president om besluite te neem op grond van halfgebakte standpunte”.

“Dit toon in watter haas die besluit geneem is en dat daar nie ’n datum gegee is van wanneer ons weer kan oopmaak nie.”

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het vroeër met die aankondiging van die regulasies gesê dit is onmoontlik om presies te sê wanneer die aangepaste vlak 3-inperking verby gaan wees. Die verlenging is dus prakties gesproke onbepaald.

Ramaphosa het met die aankondiging van die aangepaste vlak 3-inperking op 28 Desember gesê dit geld tot 15 Januarie wanneer dit hersien sal word op grond van die stand van die pandemie. Verlede Maandagaand het hy gesê dit is nodig om die vlak 3-maatreëls te handhaaf totdat die kruin van die vlaag van nuwe infeksies verby is en die regering seker is die koers waarteen die virus versprei, het genoeg gedaal dat dit veilig is om die regulasies te verslap.

Die enigste aanduiding van ’n datum was toe Dlamini-Zuma gesê het kragtens die Wet op Rampbestuur mag die ramptoestand net vir ’n maand op ’n slag verleng word. Dit is dus tot 15 Februarie verleng.

“Dit beteken egter nie die syfers gaan op 15 Februarie laag wees nie. Dit sal afhang van die infeksies, wat die stand van hospitale is, of hulle onder druk is en hoeveel mense sterf. Dit is nie moontlik om te sê teen dié of daardie datum gaan die regulasies weg wees nie,” het Dlamini-Zuma gesê.

Meer oor:  Salba  |  Heineken  |  Distell  |  Drankverkope  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.