Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hoekom Steinhoff se boete met 97% verlaag is

Die reuseverlaging in Steinhoff se boete tot net 3% van wat dit was, spruit onder meer daaruit dat “aandeelhouers nie onnodig gestraf moet word nie”.

Steinhoff het Donderdagoggend aangekondig die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het ’n verklaring uitgereik waarin gesê is hy word met R1,5 miljard beboet.

Nicky Newton-King, uitvoerende hoof van die JSE, en Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep, in September 2017 tydens die notering van 'n plaaslike filiaal op die JSE. Regs agter staan Johan van Zyl, voorsitter van Sanlam, wat toe nog ‘n lid van Steinhoff se toesighoudende direksie was.

Die FSCA het egter besluit om weens talle redes ’n gedeelte van die boete te vergeef sodat Steinhoff net R53 miljoen hoef te betaal. Ten spyte daarvan bly dit nog steeds die grootste boete wat die FSCA tot hede gehef het vir so oortreding.

Die FSCA sê in die verklaring dit volg nadat hy sy ondersoek oor die beweerde oortredings van die wet op finansiële markte deur Steinhoff afgehandel het.

“Die veelvuldige, wesenlike heraangewing van sy syfers ná Desember 2017 ondersteun die gevolgtrekking dat Steinhoff in gebreke gebly het om sy verpligtinge onder die wet na te kom,” lui die verklaring.

“Die FSCA het dus bevind dat Steinhoff vals en misleidende stellings, beloftes en vooruitskattings in sy openbare verklarings aan die mark gemaak het in die tydperk vóór Desember 2017.”

Die FSCA het die maatskappy ’n boete van R1,5 miljard opgelê nadat sekere versagtende omstandighede in ag geneem is.

LEES OOK: Steinhoff: Boetes kom gou oor binnehandel, misleiding.

Die redes vir die verlaging van die boete daarna, behels:

  • Steinhoff se huidige finansiële posisie;
  • Om te voorkom dat onskuldige Steinhoff-aandeelhouers verder benadeel word;
  • Omdat die bedrog deur voormalige personeel en beamptes van die maatskappy gepleeg is; en
  • In erkenning van die samewerking van die bestuur tot op hede met die FSCA en Steinhoff se verbintenis daartoe om ook in die toekoms ten volle met die owerheid saam te werk.

Die FSCA glo die gebeure ná Desember 2017 het getoon watter kloof tussen die groep se openbare verklarings van voorheen en die finansiële werklikheid by die maatskappy bestaan het.

“Die omvang van die hoofboete weerspieël die omvang en erns van die oortreding,” sê die owerheid.

“Hoewel ons in die lig van Steinhoff se huidige finansiële posisie besluit het om ’n wesenlike gedeelte van die boete te vergeef is dit selfs nadat dit verminder is die grootste enkele boete wat tot nog toe deur die FSCA opgelê is.”

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, sê daar is geen verdere wetstoepassing van die FSCA teen die groep uitstaande nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Fsca  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Meubels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.