Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hof: Denel moet Jan Taks binne 5 dae betaal

Denel moet lag en betaal, en dringend ook, maar daar is geen aanduiding waar hy die geld vandaan moet kry nie.

Die staatsbeheerde wapentuigvervaardiger het vyf dae om miljoene rande in agterstallige betalings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) te doen, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdagoggend gelas.

Denel se kantoor in Pretoria. Foto: Reuters

Inkomstebelasting en WVF-bydraes is sedert April van Denel-werknemers se salarisse verhaal, maar nie aan die SAID en die WVF oorbetaal nie weens Denel se kontantvloeiprobleme. Dis nie bekend wat die bedrag ter sprake is nie.

Solidariteit, wat baie van Denel se 3 700 werknemers verteenwoordig, het die dringende aansoek by die hof ingedien om te keer dat werknemers sélf in die pekel kom by Jan Taks of die WVF. Hy beweer Denel “vervals” betaalstrokies al sedert April.

Regter Hans Fabricius se uitspraak het skaars minute geduur.

Denel het geskitter in sy afwesigheid. Geen verteenwoordiger van die firma was in die hof nie, wat beteken die aansoek is nie teengestaan nie.

Denel het vantevore gesê hy het ’n “ooreenkoms” met die SAID, maar nie Jan Taks of Solidariteit kon of wou dit bevestig nie. Deur op betaalstrokies aan te dui die geld is vir die SAID en WVF afgetrek, pleeg Denel dus bedrog, het Solidariteit in hofstukke aangevoer.

Volgens ’n ingeligte wat naamloos wil bly, het Denel nie die aansoek teengestaan nie omdat “g’n mens in die onderneming sý naam wil sit op iets wat so duidelik op bedrog wys nie”.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, het by die hof aan Netwerk24 gesê Denel sal volgende week bewyse moet verskaf dat die gelde wel oorbetaal is.

“Daarsonder het ons ’n baie sterk hand vir strafregtelike vervolging. Ons sal hulle vir minagting van die hof pak,” het hy Dinsdag buite die hof gesê. “Nou is dit als op hulle.”

Die vakbond het ná die uitspraak in ’n verklaring gesê hy is “verheug”: “Dit is ’n groot oorwinning vir Solidariteit en die Denel-werknemers. Dit is egter betreurenswaardig dat ons ons na die hof moes wend net om Denel te wys op betalings wat hy reeds geruime tyd gelede moes gemaak het,” sê Van der Bijl.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele bedryf in Solidariteit, sê hoewel dit ’n groot stap in die regte rigting is in die groter stryd teen die misbruik van belastingbetalers se geld, is Solidariteit steeds bekommerd oor Denel se voortbestaan.

Solidariteit sê dat die Denel-stappe deel vorm van 'n veel groter veldtog – dié van Solidariteit se wettige belastingprotes. Dié protes sluit minstens ses regsaksies teen staatsondernemings en belastingplunderaars in.

Denel kon nie Maandag aan Netwerk24 bevestig of hy genoeg geld het om Augustus se salarisse te betaal nie. Die maatskappy het vantevore gesê salarisse sal ’n probleem bly totdat die maatskappy ’n reddingsboei van die staat ontvang om sy kontantvloeikrisis op te los.

Werknemers het in Junie hul salaris in twee paaiemente ontvang. In Julie was daar aanvanklik vrese dat dit weer sou gebeur, maar Denel het toe betyds oorbruggingsfinansiering gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.