Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hof gooi Dudu Myeni se aansoeke uit
Dudu MyeniFoto: Argief

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), mag nie haar pleit verander in die hofsaak om haar as misdadige direkteur van die SAL te laat verklaar nie.

Sy mag ook nie al diegene wat gedurende haar ampstermyn as direkteure van die SAL gedien het, by haar saak insluit nie.

Regter Ronel Tolmay het Maandagoggend dié twee aansoeke van Myeni in die hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

Tolmay het ’n breedvoerige verduideliking gegee vir hoekom sy dié uitspraak lewer.

Dit volg nadat Myeni in November ’n aansoek by die hof ingedien het waarin sy beweer haar vorige regsverteenwoordiger het nie haar instruksies behoorlik gevolg nie en het haar ook nie ingelig wat die implikasies van haar pleit is nie. Sy het gesê haar nuwe regsverteenwoordiger, Nqabayethu Buthelezi, het haar aangeraai om haar pleit te verander.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging, wat die saak teen haar gebring het, het egter geargumenteer dat dit onsin is.

Hulle het ’n beëdigde verklaring van George van Niekerk van ENSafrica, wat haar voorheen verteenwoordig het, as bewysstuk ingedien.

ENSafrica het reeds op 29 Januarie 2019 vir Myeni kennis gegee dat hulle haar nie meer gaan verteenwoordig nie.

Van Niekerk kon skriftelik bewys hoe hy óf male sonder tal probeer het om Myeni sover te kry om terugvoering te gee, óf ure lank met haar vergader het of oor die telefoon gepraat het om vir haar te verduidelik wat gedoen moet word.

Regter Tolmay sê gegewe Myeni nie “jou gemiddelde leke persoon” is soos wat sy in haar getuigskrifte voorgee nie, maar eerder ’n uiters ervare sakevrou is wat in die direksie van verskeie groot maatskappye dien, is dit “ondenkbaar” dat sy nie die implikasies van haar pleit kon verstaan nie.

Tolmay sê daarbenewens stel die wet dit duidelik dat ’n beskuldigde nie ’n pleit kan verander as dit ’n beduidende invloed op die saak gaan hê nie.

In Myeni se geval is dit juis wat sy wou doen.

Die regter het ook gesê net omdat ’n beskuldigde van regsverteenwoordiger verander, gee dit die persoon nie dan die geleentheid om ook sy of haar pleit te verander nie.

Myeni het reeds in Junie 2017 haar pleitstukke by die hof ingedien.

Wat betref die byvoeging van al die persone wat ooit saam met haar as direkteur van die SAL gedien het, sê Tolmay dat hoewel hulle as getuies in haar saak geroep mag word, is daar geen regverdigbare rede vir hoekom hulle nou by die saak gevoeg moet word nie.

Die hof sal Maandag Myeni se aansoek aanhoor om Outa se betrokkenheid by die saak te staak.

Myeni was nie Maandag self in die hof nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.