Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hof hoor drankverbod te laat hier, te vroeg daar

Die verbod op drankverkope was te gou vir sommige provinsies en te laat vir ander. Daarom moet die Wes-Kaap in die vervolg sélf oor die instelling van ’n verbod kan besluit.

Drankverkope is slegs in Gqeberha ingeperk omdat dit tot brandpunt verklaar is. Foto: Jaco Marais

Dit was een van die argumente wat Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad in die dringende interdikaansoek van die wynbedryfsliggaam Vinpro aangevoer is.

Vinpro vra onder meer dat die hof bevind dat Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, in staat moet wees om van die nasionale drankverbod te kan afwyk.

Die liggaam vra ook dat die premier toegelaat word om te besluit oor die verkope van drankprodukte in die provinsie vir verbruik in restaurante en kroeë en ook om tuis te geniet.

Regter Noluthando Nziweni het uitspraak voorbehou.

Adv. Johan de Waal, namens Vinpro, sê die regering kies elke keer met ’n landwye drankverbod om die “hoofskakelaar af te sit”.

Hy voer aan ’n gefokusde benadering, waarin elke provinsie afsonderlik hersien word voordat ’n drankverbod ingestel word, is meer effektief en nodig.

De Waal wou eintlik hê dat die regering dit as ’n feit moet aanvaar dat die verskillende vlae van infeksies elke provinsie op verskillende tye getref het en dat die druk op hospitale se kapasiteit dus op enige gegewe tydstip nie dieselfde was nie.

“Die regering se algehele verbod wat in al nege provinsies geld, was vir die derde vlaag in sommige provinsies te vroeg en in ander weer te laat.”

De Waal verwys na die Noord-Kaap en Vrystaat, wat reeds kritieke tekorte aan hospitaalbeddens gehad het nog voordat die regering die onlangse algehele drankverbod ingestel het.

Aan die ander kant was die verbod voortydig in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

In die Wes-Kaap was daar en is daar steeds genoeg hospitaalbeddens, maar steeds is die drankverbod hier ook ingestel.
Adv. Johan de Waal, namens Vinpro

“In die Wes-Kaap was daar en is daar steeds genoeg hospitaalbeddens, maar steeds is die drankverbod hier ook ingestel.”

Die regering se besluit om elke keer ’n algehele drankverbod in te stel wat in alle provinsies geld, is besig om by te dra tot die verlies van lewens en mense se lewensmiddele, volgens Vinpro.

Die staat meen weer ’n benadering waar die drankverbod “soos nodig” in sekere provinsies ingestel en aangepas word, sal onder meer tot die onwettige smokkel van drank oor provinsiale grense heen bydra.

Al het Vinpro aangebied om geld beskikbaar te stel om byvoorbeeld padblokkades tussen provinsies op te rig, is dit volgens die staat nie so maklik en prakties nie.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Volgens die staat bevat Vinpro se aansoek fundamentele foute, en hy het tot sover gegaan om dié aansoek as onbenullig te beskryf.

Die staat sê verder die aansoek is eintlik ’n kleedrepetisie vir die verhoor wat op 23 Augustus voor ’n volbank regters aangehoor word.

Die staat sê ook die land beleef ’n nasionale ramp en nie ’n provinsiale ramp nie, en volgens die Rampbestuurswet is dit die minister se plig om oor regulasies te besluit – die outoriteit daarvan val op die skouers van die aangewese minister, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Sou Vinpro se aansoek slaag, sal dit beteken dat ’n regeringsentiteit van sy konstitusionele bevoegdhede gestroop word, het die staat geargumenteer.

Die staat se regspan betwyfel verder of Vinpro se peiling onder sy lede geldig is, en wou weet of die vyf weke wat oor is tot die finale verhoor op 23 Augustus regtig so ’n groot verskil gaan maak.

Die peiling waarna verwys word, is onder 549 Vinpro-lede gedoen.

LEES OOK: Wynbedryf op randjie van afgrond

Die staat het ook beswaar aangeteken daarteen dat Vinpro se dringende aansoek voor net een regter aangehoor word, aangesien hy meen die uitspraak verreikende gevolge kan hê op die regering se vermoë om die ramp en pandemie vorentoe te bestuur.

Vinpro sê sy benadering gaan lewens red, en al word die interdik toegestaan, kan dit weer op 23 Augustus deur die volbank regters tersyde gestel word. Intussen sal die vergunning die bedryf baie help.

Vinpro sê indien sy aansoek suksesvol is, sal hy voortgaan om soortgelyke verligting vir ander provinsies te vra.

“Ons is hoopvol op ’n positiewe uitkoms en wag gretig op die uitspraak oor dié belangrike beginsel, wat besluitneming oor ’n toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal,” het Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, in ’n verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het ook op 9 Julie ’n dringende aansoek ingedien om die drankverbod tydelik op te hef. Uitspraak in dié saak is ook voorbehou.

Vinpro en SAB se tussentydse aansoek kon nie saam aangehoor word nie aangesien Vinpro spesifiek vra vir vrystelling op provinsiale vlak en SAB se aanslag vir vrystelling op nasionale vlak is.

LEES OOK: ‘Kommersiële belang’ SAB se rede vir aansoek – minister

Intussen word alom verwag dat pres. Cyril Ramaphosa die land Sondag gaan toespreek. Die groot vraag sal wees of die vier weke lange algehele verbod op drankverkope gelig gaan word.

Meer oor:  Vinpro  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.