
Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag getuienis gehoor oor hoe Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie, ingemeng het by ’n ruiltransaksie met Airbus.Foto: Bloomberg
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), “het sonder om enige proses te volg, probeer om ’n raadgewer wat nie nodig was nie, aan te stel”.
So het Thuli Mpshe, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, Maandag in die hooggeregshof in Pretoria getuig in die verhoor waarin die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) vra dat die hof Myeni tot misdadige direkteur verklaar.
Outa beweer onder meer sy het in 2013 onwettig ingemeng by die kontrak met Airbus om 20 nuwe A320-200-vliegtuie aan die lugdiens te verskaf.
Maandag is veral fokus op Myeni se poging om Quartile Capital as raadgewer vir dié transaksie aan te stel en om die transaksie te wysig.
Mpshe het getuig nie net het die SAL glad nie ’n raadgewer nodig gehad nie, dit was ook uiters onreëlmatig dat ’n lid van die direksie regstreeks betrokke geraak het by die aanstelling van ’n diensteverskaffer. Daarby is geen verkrygingsproses gevolg nie.
City Press het voorheen berig ten tyde van dié gebeure was Quartile in ’n hofstryd gewikkel met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weens beweerde uitstaande belasting van R1,8 miljoen. Dit is beleid dat ’n staatsentiteite nie sake met ’n maatskappy mag doen wat belasting skuld of wat in ’n geskil met die SAID oor uitstaande belasting is nie.
Nhlanhla Nene, destyds minister van finansies, het ’n stokkie gesteek voor die aanstelling van Quartile.
Mpshe het ook getuig hoe Myeni probeer het om die voorwaardes van ’n ruiltransaksie tussen die SAL en Airbus te verander nadat daar reeds ’n ooreenkoms hieroor was.
Die SAL het verliese gely op ’n kontrak om 20 A330-200’s te koop en toe ’n ruiltransaksie onderhandel waarvolgens die koop van die oorblywende tien gekanselleer sou word en hy eerder vyf A330-300’s sou huur.
Daar was verskeie voordele aan die ruiltransaksie en in Julie 2015 het Nene, op die direksie se aanbeveling, die transaksie goedgekeur.
Myeni het egter daarna in ’n brief aan Nene gesê die direksie het die transaksie se struktuur hersien met die oog daarop om dit te wysig. Die nuwe voorstel was dat die SAL die A330’s sou koop en ’n verkoop-en-terugverhuur-transaksie sou aangaan met ’n plaaslike verhuurder sodat die verhuring in rand gedenomineer sou wees.
Die tesourie het egter bevind die SAL het nie bewys dat die gewysigde transaksie hom in ’n beter posisie sou laat nie. Inteendeel, dit het geblyk dat die veranderde transaksie hom in ’n slegter posisie sou laat.
Nene het nie die wysigings goedgekeur nie en die SAL beveel om die ooreenkoms wat reeds goedgekeur was, in werking te stel.