Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hof: Markus Jooste móét sy verweer indien

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, sal waarskynlik nou voor einde Oktober sover bekend vir die eerste keer sy verweer op die beweringe teen hom op skrif moet stel.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Getty Images

Dit volg nadat regter Matthew Francis, waarnemende regter in die hooggeregshof van Kaapstad, Maandag sy aansoek afgewys het om eksepsie aan te teken teen ’n eis teen hom. Jooste het aangevoer die eis se besonderhede is vaag en verwarrend.

Die aansoek is gebring in die eis van R740 miljoen wat die trustees van die Le Toit Trust, ingesluit Jaap du Toit, stigterslid en jare lange voormalige direkteur van die PSG-groep, teen hom gebring het.

Riaan Meintjes van Hayes Ing., wat die eisers verteenwoordig, sê die hof het bevind die eis is voldoende en bevat genoeg inligting.

Volgens hom kan Jooste nie teen dié besluit appelleer nie en is die volgende stap dat hy moet pleit.

Dit is sover bekend die eerste keer wat Jooste sy saak in ’n verweerskrif sal moet stel.

Jooste moet binne 20 werkdae sy verweerstukke indien.

Meintjes sê dis een van die min eise wat regstreeks teen Jooste gebring is om hom te dagvaar.

Die trust het aanvanklik ’n eis teen Steinhoff en Jooste as tweede verweerder asook die voormalige finansiële direkteur, Ben la Grange, gebring.

Steinhoff en La Grange het reeds einde Oktober verlede jaar hul pleitstukke ingedien.

Die eisers het in Maart dié saak teen Jooste teruggetrek en ’n vars eis teen hom as alleenverweerder gebring.

La Grange het begin Mei weer vir Jooste as ’n derde party tot die eerste eis gevoeg.

Jooste het later onderskeidelik in Mei en in Junie ingevolge die hofreëls aansoeke gebring om eksepsie teen die besonderhede van albei eise aan te teken.

Meintjes het gesê die uitspraak beteken die eis hoef nie in enige van die twee aksies gewysig te word nie.

In die eerste eis voer die eisers aan hulle het skade gely weens die beweerde wanvoorstellings wat deur Jooste en La Grange gedoen is. Die eerste eis is gegrond op bedrieglike wanvoorstelling en op die beweerde oortreding van verskeie bepalinge van die Maatskappywet van 2008.

In die tweede aksie teen Jooste geld dieselfde omstandighede wat tot die skade gely het en word ook aangevoer dat hy sy fidusiêre pligte as direkteur versuim het.

In albei sake voer die eisers aan as dit nie vir die onregmatige gedrag van die verweerders was nie, sou hulle nie hul aandele in die PSG-groep vir aandele in Steinhoff geruil het nie. Dié aandele is nou bykans waardeloos.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.