Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hofsaak begin teen ‘korporatiewe boelies’
’n Lugfoto van ’n deel van die Tormin-myn in Namakwaland waar ’n krans in 2015 ineengestort het. Foto: groundUP

’n Groep burgerlike organisasies span saam om intimidasie deur maatskappye teen te staan.

Dit spruit uit die skynbare boelietaktiek wat maatskappye toenemend in Suid-Afrika, asook in die buiteland gebruik om kritici se monde te snoer of openbare protes teen hul bedrywighede te probeer smoor.

Volgens die Sentrum vir Omgewingsregte het die Australiese mynmaatskappy Mineral Resources Commidities (MRC) eise van sowat R9,25 miljoen ingestel teen omgewingsaktiviste, prokureurs, ’n joernalis en ’n koerant wat volgens die maatskappy sy reputasie geskaad het weens hul uitsprake.

MRC is bekend vir sy poging om titanium by Xolobeni aan die Wildekus in die Oos-Kaap te ontgin. Hy bedryf die Tormin-myn aan die Namakwalandse kus naby Koekenaap en Lutzville. Omgewingsgroepe beweer egter hy oortree omgewingswetgewing en doen nie genoeg moeite om die omgewing te beskerm waar hy sy bedrywighede uitvoer nie.

Die spanning in die gemeenskap by Xolobeni oor die mynprojek het in 2016 uitgeloop op die sluipmoord op Bazooka Rhadebe, voorsitter van die Amadiba Crisis Committee, wat teen die mynprojek gekant was. Niemand is nog vir Rhadebe se moord in hegtenis geneem nie.

’n Lastersaak wat MRC teen die omgewingsregteprokureur Tracy Davies van Just Share en teen die gemeenskapsakticis Davine Cloete gemaak het, kom Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad voor.

Dit het gespruit uit kritiek wat Davies en Cloete uitgespreek het oor MRC tydens ’n lesing by die Universiteit van Kaapstad (UK) se gewilde Somerskool in Januarie 2017.

Davies het Dinsdag gesê daar was dié dag net sowat 20 mense, meestal bejaardes, wat die lesing as deel van die Somerskool bygewoon het. Prof. Lesley Green, ’n professor in antropologie en linguistiek by die UK, het gesê ’n verteenwoordiger van MRC was egter ook in die gehoor en het sonder die UK of die sprekers se medewete die lesing opgeneem. ’n Paar maande later het Davies en Cloete die dagvaardings oor die lastersaak ontvang.

MRC, omgewingsregte
Van links is Tracey Davis, Davine Cloete en Christine Reddell, wat deur die Australiese myngroep MRC vir laster gedagvaar word. Cloete is 'n gemeenskapsaktivis en Cloete en Reddell is prokureurs wat in omgewingsreg spesialiseer.

Die hofsaak Woensdag gaan eers oor die respondente wat toegang wil hê tot dokumente van MRC om hul verdediging voor te berei. MRC weier om die dokumente te gee en voer aan die respondente kan nie bewys dat MRC enige omgewings-, mynbou- of beplanningswette oortree het nie. MRC voer aan die respondente se versoek om dokumente is bloot ’n “visvangekspedisie”.

Asina Loyiko

Die veldtog wat die burgerlike organisasies begin het word Asina Loyiko genoem. Dit is Xhosa vir “ons het geen vrees nie”. Dit is bedoel om bewustheid te verhoog oor sogenaamde SLAPP-hofsake. Dit staan vir “Strategic Litigation Against Public Participation”.

Melissa Fourie van die Sentrum vir Omgewingsregte sê dié soort hofsake word voorgedoen as gewone lastersake, maar is eintlik bedoel as ’n boelietaktiek om omgewingsaktiviste te stuit, ’n boodskap aan ander burgerregtegroepe of die publiek uit te stuur om nie die betrokke maatskappy teen te staan nie, en om die hulpbronne van sy teenstanders uit te put.

Die meeste van dié soort hofsake word van die hand gewys, maar die maatskappye behaal deels hul doelwit daardeur omdat dit ’n uitgerekte hofproses verg wat hulpbronne uitput. Die doelwit is nie om geregtigheid te laat geskied nie, maar om weerwraak of vergelding te kry, sê Fourie.

Van die organisasies wat deel is van die Asina Loyiko-veldtog sluit in Right2Know, Open Secrets, Global Environmental Trust, Oxfam Suid-Afrika en groundWork.

Ghalib Ghalant, adjunkkoördineerder van Right2Know, sê vryheid van spraak, mediavryheid en die reg om protes aan te teken is fundamentele en grondwetlike regte. Maar dié regte het in die afgelope dekade toenemend van sowel die regering as private maatskappye onder druk gekom.

Die omgewingsprokureur Cormac Cullinan is deur MRC gedagvaar nadat hy in 2016 op ’n paneelbespreking oor die Xolobeni-projek beweer het die hoofman in die gebied is omgekoop om die projek te steun, en dat die maatskappy “neokoloniale verdeel-en-heers taktiek” gebruik. Dit was sowat ’n week ná die moord op Rhadebe, en Cullinan meen sy opmerkings was billike kommentaar.

Meer oor:  Tormin  |  Korporatiewe Beheer  |  Omgewingsbewaring  |  Omgewingsake  |  Boelies  |  Mynbou  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.