Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Batsa se hofsaak oor sigarette eers later in Junie
An illustration picture taken in Paris shows cigar
British American Tobacco Suid-Afrika se hofsaak oor sigaret-verkope gedurende die staat van inperking sal eers later in Junie gehoor word. Foto: Reuters

Rokers gaan waarskynlik nie voor die einde van die maand die uitspraak in die hofsaak hoor wat die tabakgroep British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa), wat Peter Stuyvesant besit, teen Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, pres. Cyril Ramaphosa, en die nasionale Covid-19-bevelsraad gebring het nie.

Die saak gaan waarskynlik eers teen 22 Junie aangehoor word.

Batsa en agt ander applikante het Maandag by die hooggeregshof in Kaapstad hul kennisgewing ingedien van die aansoek wat op ’n dringende grondslag gebring word.

Die applikante vra vir ’n hofbevel om regulasie 45 in die regulasies vir vlak 3 van die staat van inperking, wat die verbod op sigaretverkope plaas, ongrondwetlik en ongeldig te verklaar, dit te hersien en ter syde te stel.

Die aansoek word op 'n dringende grondslag gebring.

Dlamini-Zuma en die respondente moet voor Vrydag 17:00 aandui of hulle die aansoek gaan teenstaan. Hul eedsverklarings moet 12 Junie aan die applikante verskaf word. Die applikante se reaksie daarop moet teen 18 Junie ingedien word. Batsa voorsien dat hulle op 22 Junie in die hof sal wees. 

Kostebevel gevra teen Dlamini-Zuma

Die hof word ook gevra vir ’n kostebevel teen die eerste respondent, Dlamini-Zuma, of anders dat sy saam met enige ander respondente wat dit teenstaan vir die koste moet opdok.

André Joubert, uitvoerende hoof van Batsa, voer in sy eedsverklaring aan Batsa verloor sowat R350 miljoen aan inkomste elke week.

Wie is die partye?

British American Tobacco South Africa (Batsa), wat as die grootste vervaardiger van tabakprodukte in die land beskryf word en produkte soos Peter Stuyvesant, Dunhill, Kent en Rothmans vervaardig, het die saak saam met nege ander applikante gebring insluitende Japan Tobacco International (JTI) Suid-Afrika, wat Camel verkoop.

Die ander applikante sluit in die verbruikers Melinda Ferguson en Keoagile Molobi en die tabakwinkel JJ Cale.

Tabakboere is ook applikante soos verteenwoordig deur die Limpopo Tobacco Processors, South African Tobacco Transformation Alliance NPC, Black Tobacco Farmers Association en die Southern African Informal Traders Alliance.

Joubert sê die maatskappy het geraam die verlies aan verkope het van die begin van die inperking af tot einde Mei R2 miljard beloop.

Die maatskappy het reeds die afgelope jaar 200 personeel om bedryfsredes afgelê.

“Batsa word minder mededingend, veral weens stygende arbeidskoste. Hoe langer die verbod duur, hoe waarskynliker is dit dat nog afleggings kan kom," sê hy.

“Die staatskas verloor miljarde rande se aksynsbelasting wat deur wettige sigarette se verkope verdien word.”

Batsa alleen vorder op sy eie R214 miljoen se aksynsbelasting per week in wat aan die staatskas oorbetaal word en meer as R900 miljoen maandeliks.

Die regulasies vir vlak 3 is op 28 Mei gepubliseer.

Batsa het Vrydagoggend ’n prokureursbrief aan die minister gestuur waarin geëis is dat regulasie 45 geskrap moet word. Die staatsprokureur is tot 1 Junie gegee om te reageer, maar daar het niks van gekom nie.

Die applikante word deur Webber Wentzel se Mike Evans verteenwoordig.

Meer oor:  Bat  |  British American Tobacco  |  Nko­Sazana Dlamini-Zuma  |  Cyril Rama­Phosa  |  Vlak 3  |  Rook  |  Sigarette  |  Rokers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.