Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hoftwis oor Steinhoff se SA skikking warm op

Miljarde is op die spel in 'n skikking wat Steinhoff met sy skuldeisers wil bewerkstellig, maar nie almal is tevrede nie. Die eerste plaaslike regsgeding oor die skikkingsvoorstel het vandeesweek opgewarm toe 'n party toestemming van die hooggeregshof gekry het om toe te tree tot die saak.  

Christo Wiese
Christo Wiese einde Januarie 2018 in die parlement oor die Steinhoff-debakel. Ongelukkigheid heers onder sommige partye wat minder as hy uit die skikking kry. Foto: Nellie Brand-Jonker

Trevo Capital se hofaansoek is in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor en gee insae oor waaroor die regsgeding oor Steinhoff se skikkingsvoorstel gaan wat die groep onlangs ingevolge artikel 155 van die Maatskappywet begin het.

Trevo Capital het die hofaansoek gebring om verlof te kry om toe te tree tot ’n hofsaak van Hamilton – ’n party wat ’n klomp batebestuurders in Suid-Afrika verteenwoordig wat geld verloor het toe Steinhoff se aandeelprys ineengestort het. Hamilton verteenwoordig batebestuurders soos Allan Gray en Coronation in 'n skadevergoedingseis teen Steinhoff. Dit is dus pensioenfondsgeld en gewone beleggers se geld wat ter sprake is. 

Trevo is ook 'n party wat 'n eis teen Steinhoff International Holdings (SIPHL) ingestel het vir skadevergoeding.

Groepering grief

Hamilton wil in sy hoofaansoek oor die skikkingsvoorstel ’n verklarende bevel kry oor hoe die skuldeisers in groepe verdeel word. 

Steinhoff verdeel die skuldeisers in twee groepe vir die doeleinde van die skikkingsvoorstel, naamlik:

  • Kontraktuele eisers aan wie die maatskappy aandele uitgereik het ingevolge ’n kontrak as vergoeding vir hul ondernemings of ander aandele wat aan hom verkoop is.
  • Dié wat aandele in Steinhoff in die mark gekoop het (markaandeel-kopers).

Hamilton is in die markaandeelkoper-klas opgedeel.

LEES OOK: Steinhoff-skikking: Húlle is vies oor 5c in rand

Hamilton het nie Trevo Capital se intervensie-aansoek teengestaan nie, maar Steinhoff het.

Regter Lee Bozalek het Trevo Capital se aansoek om as party toe te tree, goedgekeur.

Die regskoste van beide Hamilton en Trevo is aan Steinhoff toegewys.

Advokate Werner Lüderitz SC en Paul Farlam SC, bygestaan deur Hendrik Pretorius en Jo-Ann Moodley, het in Hamilton se betooghoofde gevra Steinhoff moet sy koste van twee advokate dra in dié aansoek omdat die maatskappy “onbehoorlik en verkeerdelik probeer het om Trevo se ingrypingsaansoek te gebruik as ’n forum om bevindings te maak wat baie negatiewe gevolge sou hê vir Hamilton in die hoofaansoek”.

Verdeling nie volgens wet

As die voorstel aanvaar word deur skuldeisers, maar uiteindelik nie deur die hof goedgekeur word nie, gaan daar nie net aansienlike tyd en uitgawes verspil wees nie, maar SIHPL sal waarskynlik gelikwideer moet word, gegewe sy haglike finansiële posisie.
Hamilton

Volgens hulle handel die verklarende bevel wat Hamilton soek in wese oor die wettigheid van die klas-afbakening in die skikkingsvoorstel. Die ongelukkigheid daaroor handel daaroor dat:

• Skuldeisers wat gelyk in aanspraak is (konkurrente skuldeisers), wat ’n eis teen SIHPL ingestel het as gevolg van finansiële wanvoorstellings en statutêre oortredings deur die maatskappy, in twee aparte klasse verdeel word.

• Markaandeel-kopers afsonderlik in die skikking moet stem en dié skikkingsvoorstel “aansienlik gunstiger is” vir kontraktuele eisers.

(Die skikkingsvoorstel is in dié stadium dat kontraktuele eisers sowat 29c uit die rand kry en markaandeel-kopers 5c. ’n Spesiale skikking is met die grootste aandeelhouer, Christo Wiese, voormalige voorsitter, aangegaan wat hom sowat 18c uit die rand gee, volgens Steinhoff.)

Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch van waar hy bestuur is selfs al was sy hoofnotering sedet einde 2015 oorsee en die beheermaatskappy in Nederland opgerig. Foto: Edrea du Toit

Hamilton voer aan die voorstel diskrimineer op irrasionele en onbillike wyse teen dié klas is en dat die klassifisering nie ingevolge die betekenis van artikel 155 van die Maatskappywet gedoen is nie.

“SIHPL het skuldeisers nie geklassifiseer op grond van die benadering dat hul regte soortgelyk is nie, maar volgens sy siening van wat die vooruitsigte van die eisers is om hul eis te bewys.”

Hamilton voer aan die artikel 155-voorstel is grondliggend en onherstelbaar gebrekkig en dat dit geen doel dien om met die duur en tydrowende proses voort te gaan nie.

“Dit is in alle partye se belang dat die grondliggende aangeleentheid wat in die hoofaansoek geopper word (naamlik die wettigheid van die klasafbakening in die artikel 155-voorstel) beslis word voordat wesenlike tyd en geld bestee word.”

Geen regseis nie

SIHPL sê in sy betooghoofde die markkoper-aandeelhouersklas is dié wat nie regsgronde het vir hul eis nie, maar wat ingesluit is om finaliteit te bereik. Spesifiek word aangevoer die markkoper-aandeelhouers is eisers wat nie ’n kontraktuele verhouding met SIHPL het nie.

“As Steinhoff werklik dink markkoper-aandeelhouers het geen wettige eis nie, sou SIHPL nie aangedui het hy is bereid om die eise van die lede van die groep teen €266 miljoen plus ’n bedrag vir kostevergoeding te skik nie," sê Lüderitz en Farlam egter. 

Steinhoff het beraam sowat 35 000 van die aandeelhouers wil deelneem aan die artikel 155-proses.

Steinhoff het in verwysing na die uitspraak van regter David Unterhalter in ’n klasaksiesaak teen die groep ook aangevoer dat Hamilton se eis volgens die reg sleg is.

Die twee prosesse wil ook die kontinuïteit van die groep se bedrywighede verseker ten einde die poste van duisende mense te beskerm in Steinhoff se onderliggende ondernemings. Dit is slegs gegriefde markkoper-aandeelhouers soos Hamilton en Trevo wat die proses in die hof gebring het in ’n poging om die artikel 155-proses te ontspoor.
Steinhoff

Die Dorethea de Bruyn-hofsaak in die Gautengse hooggeregshof het probeer om ’n klasaksie (groepsgeding) teen Steinhoff N.V., SIHPL, verskeie voormalige direkteure van die maatskappye, Deloitte en ander te sertifiseer.

Dit is deur die hof afgewys.

SIHPL voer aan daar is geen waarneembare verskil tussen die gronde vir Hamilton en Trevo se eise en die een wat De Bruyn wou verteenwoordig nie.

Lüderitz en Farlam sê egter die De Bruyn-uitspraak kan nie ’n presedent skep vir Hamilton se saak nie.

Volgens hulle het Unterhalter net ’n gemenereg-eis op grond van nalatige wanvoorstellings aan De Bruyn oorweeg, terwyl Hamilton s’n gegrond is op bedrog.

“Die onderskeid tussen ’n eis gegrond op bedrog en een wat op nalatigheid gegrond is, is van deurslaggewende belang omdat die regsbeginsels wat van toepassing is op die kriteria van onregmatigheid in ’n eis op grond van nalatigheid anders is as wat van toepassing is op onregmatigheid in ’n eis gebaseer op bedrog.

Hamilton sê boonop is die meriete van sy skadevergoedingseis teen SIPHL nie relevant vir die verklarende bevel wat gesoek word nie.

Voortydig gebring

Die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff Markus Jooste, tydens sy gedwonge verskyning in die parlement in 2019. Foto: GALLO

Steinhoff het in sy betooghoofde sy teenkanting op twee hoofredes gegrond. Die ander is dat Hamilton se aansoek voortydig is en dus ook Trevo s’n.

Arnold Subel SC en André Smalberger SC, wat namens SIHPL opgetree het, sê in hul betooghoofde dit het maande se onderhandelinge geverg om tot die punt te kom waar die artikel 155-skikkingsvoorstel en ’n hofproses in Nederland begin is.

“Hierdie prosesse is bedoel om ’n volle en finale skikking van die meeste van die eise mee te bring. Dit is tweeledige, onderling afhanklik en intervoorwaardelike prosesse wat gevolg word.

“Die artikel 155-voorstel het direkte gevolge, nie net vir SIHPL nie, maar vir die wyer groep wat byna 8 780 winkels bedryf in 30 lande en waar daar byna 110 000 mense werk. Miljarde rand en moontlik tienduisende poste is op die spel.”

“Die doel van die tweeling-proses is om die Steinhoff-groep verder te stabiliseer en dit wat beskikbaar is om te versprei, te maksimaliseer," lui sy betooghoofde.

“Die twee prosesse wil ook die kontinuïteit van die groep se bedrywighede verseker ten einde die poste van duisende mense te beskerm in Steinhoff se onderliggende ondernemings.

Wil proses ontspoor

“Dit is slegs gegriefde markkoper-aandeelhouers soos Hamilton en Trevo wat die proses in die hof gebring het in ’n poging om die artikel 155-proses te ontspoor. Geen ander eiser het dit gedoen nie.”

SIPHL sê Hamilton en Trevo wil die artikel 155-proses ontspoor om voortydig die klassifisering aan te val.

Volgens hulle bied artikel 155 ander geleenthede vir ongelukkige partye om hul kommer uit te spreek of die uiteindelik goedkeuring daarvan in die hof te betwis.

Lüderitz en Farlam sê indien Hamilton korrek is dat sy voorstel oor die klassifisering van die eise nie ooreenkomstig die bepalings van artikel 155 is nie, dan jaag SIHPL ’n voorstel na wat nie die wet nakom nie.

“As die voorstel aanvaar word deur skuldeisers, maar uiteindelik nie deur die hof goedgekeur word nie, gaan daar nie net aansienlike tyd en uitgawes verspil wees nie, maar SIHPL sal waarskynlik gelikwideer moet word, gegewe sy haglike finansiële posisie.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Hamilton  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Regsgeding  |  Hooggeregshof  |  Skikking  |  Hofaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.