Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hokaai, SAL, nie so vinnig, waarsku sakeredders
Die SAL sê hy is reg om binnelandse vlugte in Junie te hervat, maar sy sakeredders sê daar is geen sprake dat dit gaan gebeur nie.Foto: Bloomberg

Daar is tans geen sprake dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) teen die middel van Junie weer binnelands gaan vlieg nie.

Wel, nie as dit van die sakeredders Les Matuson en Siviwe Dongwana afhang nie.

Dié twee het vroeg Woensdagoggend in ’n verklaring gesê die lugdiens het glad nie die reg gehad om Dinsdagmiddag in ’n verklaring te sê dat hy “uitsien om binnelandse vlugte te hervat” nie.

Luidens dié verklaring, wat deur die SAL self uitgereik is, gaan hy sy binnelandse vlugte (wat tans net tussen Kaapstad en Johannesburg is) teen middel-Junie hervat.

“Almal by die SAL sien daarna uit om ons kliënte weer te verwelkom en te bedien. Ons bedryfsgereedheid word onderstreep deur die belangrike rol wat die lugdiens in wêreldwye repatriasies na en van Suid-Afrika gespeel het, en deur ons begeerte om die binnelandse mark te dien,” sê Philip Saunders, die SAL se bedryfshoof, in die verklaring.

Die SAL se aankondiging volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand gesê het dat beperkte plaaslike vlugte vir veral sakedoeleindes op vlak 3 toegelaat sal word. Hierdie vlak van die inperking tree op 1 Junie in werking.

Die sakeredders draai geen doekies om in hul verklaring nie en sê reguit die SAL se verklaring is uitgereik in stryd met die sakeredders se kommunikasieprotokol wat glo juis geskep is om te keer dat verklarings uitgereik word voordat dit goedgekeur is.

“Die verklaring dui verkeerdelik aan dat daar teen middel-Junie weer ’n hervatting van binnelandse dienste sal wees,” sê die sakeredders.

Die verklaring dui verkeerdelik aan dat daar teen middel-Junie weer ’n hervatting van binnelandse dienste sal wees.
SAL-sakeredders

“Die posisie rondom die staking van vlugte bly net soos dit is totdat die SAL ’n beter begrip het van wat die regulasies onder vlak 3 beteken met betrekking tot binnelandse lugreise.”

Die sakeredders sê die lugdiens gaan eers moet kyk wat die invloed van dié regulasies gaan wees op hoeveel passasiers vervoer mag word, en of dit kommersieel sin maak.

Hulle wys verder daarop dat die staat dit duidelik gestel het dat hy nie verder geld vir die SAL gaan gee nie.

Enige planne om dienste te hervat moet dié feit in ag neem.

“Dit is jammer dat die verklaring ’n onregverdige verwagting by ons belanghebbendes, insluitend die kliënte van die SAL, sowel as werknemers, geskep het,” sê die sakeredders.

Die sakeredders sê hulle is besig om ’n sakereddingsplan vir die lugdiens saam te stel.

Die SAL se werknemers is tans almal op onbetaalde verlof aangesien die lugdiens nie geld het om salarisse te kan betaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.