Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
HomeChoice sien geleenthede op digitale platforms
HomeChoice se nuwe vertoonkamer in Soweto se Maponya Mall is in Mei vanjaar geopen.Foto:

’n “Gogo” wat op die openingsdag van HomeChoice se vertoonlokaal in Maponya Mall op haar iPad inkopies doen, het Shirley Maltz, uitvoerende hoof, se oog gevang.

“Die vrou moes al in haar 70’s gewees het, maar sy was aanlyn op ons mobiele webtuiste aan die koop,” sê Maltz, wat in 2013 die leisels van dié genoteerde kleinhandelaar en mikrolener oorgeneem het.

HomeChoice se nabelaste inkomste het in die halfjaar tot einde Junie met 16,1% tot R260 miljoen gestyg.

“Toe ek sien hoe ’n Gogo gemaklik nuwe tegnologie gebruik, het dit my weer onder die indruk gebring van die omvang en potensiaal van die digitale mark daar buite.”

Sy sê die maatskappy se digitale voetspoor het binne ses maande van 36% tot 39% opgeskiet.

Tot 78% van alle leningstransaksies is digitaal gedoen en Maltz sê tot ’n derde hiervan is buite die normale handelsure gedoen.

Krediet wat via digitale kanale verleen is, het met 54,7% tot R792 miljoen toegeneem. Dit beloop 39,1% van die totale krediet wat verleen is.

Die maatskappy se digitale verkope het in dieselfde tydperk met 46,7% gestyg en verteenwoordig nou 18,5% van al sy kleinhandelverkope.

HomeChoice is in 1985 as ’n posbestellingsonderneming gestig om kookware op krediet aan die massamark te verkoop.

Maltz, sê die groep het ondanks die moeilike toestande ’n goeie vertoning gelewer.

“Ons sien die voordeel van ons deurlopende belegging om klante se koopervaring te verbeter en ons digitale transformasie te versnel.”

Verbruikers veerkragtig ondanks druk

Sy sê daar is geen twyfel dat die verbruiker onder druk is en die ekonomie op die randjie van ’n resessie huiwer nie.

Maar sy sien tog heelwat positiewe faktore wat HomeChoice se klante, van wie 85% vroue is, se koopkrag ondersteun.

“Ons moet ook die groter prentjie sien. Ons klante se lewensomstandighede het die afgelope 25 jaar ná politieke verandering drasties verbeter.”

Tot 70% van ons klante het ’n tweede inkomste, hetsy deur die verhuring van kamers, spyseniering of ’n haarkappery oor die naweek.
Shirley Maltz

HomeChoice se gemiddelde klant is 40 jaar oud, verstedelik en sy verdien sowat R10 500 per maand.

Die infrastruktuur en behuising van ’n tipiese klant lyk beter as 25 jaar gelede, sy het haar eerste motor gekoop en haar kinders kan uitsien na beter geleenthede as wat sy gehad het, verduidelik Maltz.

Nóg ’n positiewe faktor wat dikwels buite rekening gehou word, is hoe lewendig die informele ekonomie in townships is.

“Tot 70% van ons klante het ’n tweede inkomste, hetsy deur die verhuring van kamers, spyseniering of ’n haarkappery oor die naweek.”

Die groep het in die oorsigtydperk ’n belegging van 37 miljoen in ’n nuwe verspreidingsentrum in Gauteng gedoen, wat die afleweringstyd aansienlik verkort.

Nuwe vertoonkamers word ook in verskeie sentra opgerig. Só is HomeChoice se nuwe vertoonkamer in Soweto se Maponya Mall in Mei vanjaar geopen.

Die inkomste uit kleinhandel het met 17% tot R1,16 miljard gestyg.

HomeChoice se kleinhandelverkope het met 18,9% toegeneem onder meer vanweë die sterk vraag na die beddegoed wat hy verkoop en die sterk styging in sy digitale klantebasis.

Finansiële dienste

Sy afdeling vir finansiële dienste se inkomste het met 13% tot R357 miljoen gestyg, veral danksy ’n stewige styging van 30% in lenings wat toegestaan is.

“Inkomste uit versekering het ook toegeneem en klante het ons nuwe mobiele kredietgerief, MobiMoney, sterk ondersteun,” sê Maltz.

Die maatskappy sal voortgaan om hom as ’n voorste digitale vennoot in die massamark te posisioneer en brei sy aanlyn dienste nou uit tot selfs die verkope van lugtyd en data.

“Ons voeg dit as ’n gerief vir ons klante by. Niemand het lus om laat in die aand in die township straataf te loop om te gaan lugtyd koop nie.”

Die maatskappy het ’n tussentydse dividend van 95c per aandeel (15,9% hoër) aangekondig.

Meer oor:  Resultate  |  Kleinhandelaar  |  Digitaal  |  Kleinhandelverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.