Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Honderde bedank by Denel soos staatshulp sloer
Denel sal moontlik nie tot Maart 2021 kan oorleef nie. Foto: Denel

Denel verloor honderde “kritieke werkers” te midde van sy voortslepende likiditeitskrisis.

Die vakbond Solidariteit is oortuig die staatsonderneming sal sonder ’n reddingsboei teen Maart 2021 vou.

Solidariteit het Donderdag ’n ope brief aan Denel en verskeie ministers, waaronder Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Tito Mboweni, minister van finansies, geskryf.

Hierin skryf Solidariteit dat 296 personeellede in die afgelope tyd die maatskappy verlaat het – 116 net van Denel Dynamics, ’n sleutelafdeling vir die land se verdediging.

“Hoewel die afdelingshoof van Denel Dynamics gesê het baie werknemers het aangedui dat hulle na Denel sal terugkeer as Denel sy huidige stryd kan uitsorteer, sukkel ons om dit te glo, aangesien hulle geen behoorlike opname gedoen het nie en geen skriftelike bewys van die aansprake kan lewer nie.

“Dit is kommerwekkend met betrekking tot nasionale veiligheid aangesien Denel Dynamics, soos ons dit verstaan, een van die entiteite is wat die departement van verdediging geïdentifiseer het as van kritieke belang vir sy soewereine vermoëns.

“Ons is van mening dat dié vermoë met die verlies van 116 tegniese en ingenieurswerknemers reeds tot niet is en dat die idee deur Dynamics se afdelingsbestuur dat dit herstel kan word, onrealisties is.”

In die brief beskuldig Solidariteit die ministers daarvan dat hulle mekaar en Denel slegs in die openbaar ondersteun, maar dat hulle nie die daad by die woord voeg nie.

Hulle tree nie in die beste belang van Denel en sy werknemers of in die openbare belang op nie.

Die beskuldiging word gemaak omdat Denel steeds nie uitvoering gegee het aan ’n hofuitspraak wat hom verplig om sy werknemers se agterstallige salarisse en ander statutêre aftrekkings te betaal nie en omdat sekere divisies steeds versuim om volle salarisse te betaal.

Die arbeidshof het reeds op 28 Augustus ’n dringende aansoek ingevolge ’n aanklag van minagting van die hof teen Denel aan Solidariteit toegestaan omdat Denel die uitspraak teen hom op 4 Augustus verontagsaam het.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat die staat nie verantwoordelikheid vir sy entiteite wil aanvaar nie. Dit is weens historiese foute van wanbestuur en wanadministrasie wat juis deur die staat en sy trawante in Denel begaan is dat Denel vandag finansieel nie kop bo water kan hou nie,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit.

“Dit is egter nie die staatsamptenare en hul kaders wat hieronder ly nie, maar lojale werkers wat met onder meer hul salarisse hiervoor moet boet.”

Die enigste manier wat Solidariteit en ander belanghebbendes glo Denel gered kan word, is deur staatsondersteuning, asook strategiese ekwiteitsvennootskappe in verskeie afdelings van die maatskappy.

Denel het blykbaar aangedui dat daar reeds gekyk word na sulke vennootskappe, veral by Denel Dynamics. Die party wat belangstel, wil dit reeds teen Maart 2021 finaliseer, maar Denel is nie seker of sy prosesse vir die transaksie teen dan al klaar sal wees nie.

Solidariteit sê hy het min vertroue in Denel se vermoëns om die prosesse betyds af te handel.

“Dit is uiters kommerwekkend, want sommige afdelings sal sukkel om te oorleef tot Maart 2021 en ander is nie seker of hulle selfs genoeg kontant kan genereer om die netto salarisrekening te betaal nie,” skryf Solidariteit.

“Denel is vinnig besig om ineen te stort, maar daar is maniere om die situasie te red as alle belanghebbendes teen dieselfde tydsbestek in dieselfde rigting trek.

“Ons ondersteun die huidige plan om strategiese ekwiteitsvennote te betrek om kapitaal in te samel, maar ons betwyfel of julle as belanghebbendes van die regering die prosesse sal kan voltooi en die nodige goedkeurings kan gee om Denel steeds te red.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Uasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.