Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EKSKLUSIEF: Hamleys ry R1 m. per trein na geldknyp

Daar is ’n goeie kans dat Suid-Afrikaanse kinders nog lank hul gunsteling-speelding by een van Hamleys se speelgoedwinkels sal kan koop.

Dít ondanks die feit dat Hamleys Suid-Afrika op die oog af rot en kaal besteel is.

Lees ook: Hamleys: SA baas vat glo pad met miljoene

Ensolor, die maatskappy wat die franchiseregte besit om Hamleys in Suid-Afrika te bedryf, is op 22 Februarie in sakeredding geplaas.

Hamley’s se winkel in die V&A Waterfront in Kaapstad.Foto: Hamleys

Hy het reeds twee van sy winkels – die een in die Mall of Africa in Midrand en die ander een in Nelson Mandela Square in Sandton – gesluit. Daar is nog sewe Hamleys landwyd.

Die groep se skuld beloop sowat R144 miljoen.

“Die groep was van die begin af swak bestuur,” sê Stefan Steyn, sakeredder van Business Rescue Practitioners, wat aangestel is om die sakeredding van Hamleys te behartig.

“Winkels is te vinnig en te na aan mekaar oopgemaak,” sê Steyn.

Philip Paphitis, uitvoerende hoof van Ensolor, het die franchiseregte vir Hamleys gekoop.

Hy het reeds die groep Aladdin’s Cave-speelgoedwinkels in Suid-Afrika besit, maar het Aladdin’s Cave stelselmatig gesluit toe hy Hamleys oopgemaak het.

Paphitis het nie geskroom om groot uitgawes aan te gaan om die Hamleys-winkels oop te maak nie. Elektriese treintjies is vir al die winkels gekoop.

Kinders kan dan met dié “Hamley-treintjie” deur die winkelsentrum ry, waarna hulle dan hopelik die winkel self sou besoek. Die treintjies word steeds gebruik.

Luidens die sakereddingsplan is die treintjies teen R1 miljoen elk ingevoer.

Terra Consultants waardeer dié ses treintjies nou saam op R1 miljoen.

Hamleys se winkel in Mall of Africa kort nadat hy sy deure gesluit het. Foto: Elvira Wood

Paphitis het die Gateway-winkelsentrum oortuig om R2 miljoen te bestee om ’n winkel met ’n glybaan en mallemeule oop te maak. Paphitis skuld na bewering nog dié geld.

“As ons tot ’n vergelyk kan kom met krediteure en verhuurders, behoort die groep binnekort weer volhoubaar te wees,” sê Steyn in ’n onderhoud met Netwerk24.

Die sakereddingsplan stel voor dat Standard Bank, by wie Hamleys bank, óf ’n nuwe belegger ’n kredietgerief van R10 miljoen aan Hamleys verskaf. Dit sal die winkels in staat stel om hul deure oop te hou.

“Voorraad het gedaal sedert daar met die sakeredding begin is. Dit is kritiek dat voorraad vir die winkels aangekoop word,” lui die sakereddingsplan.

Die plan is om daarna ’n nuwe eienaar vir Hamleys Suid-Afrika te kry.

Die plaaslike speelgoedgroep Toy Kingdom het wel ’n aanbod gedoen om Hamleys te koop, maar die krediteure het dit van die hand gewys.

“Hulle meen die aanbod was te laag. Die krediteure het my nou ekstra tyd gegee om te kyk of ek ’n nuwe aanbod vir die groep kan kry,” sê Steyn.

Die voorstel is dat Derek Kohler, afgetrede direkteur van kleinhandelbedrywighede by Truworths, aangestel word as uitvoerende hoof van Hamleys.

Aki Oikonomopoulos en Costa Constantinides, die twee senior bestuurders van Hamleys, is glo ten gunste van die plan.

Die maatskappy het 167 mense in sy diens. Daar is egter nie sekerheid oor presies wat die invloed van die sakeredding op werknemers kan hê nie en ’n art. 189-proses luidens die Arbeidswet is reeds by die maatskappy begin.

Alle salarisse is tot op hede betaal.

Indien ’n geskikte koper vir Hamleys gevind kan word, is die plan om die winkel wat in Fourways beplan word, wel in September vanjaar sy deure gaan oopmaak.

  • Paphitis het Vrydagaand op 'n navraag deur Netwerk24 oor die beweringe wat in die sakereddingsplan gemaak word gereageer. Hy ontken alle beweringe. Hy sê in 'n e-pos die bewering wat in die sakereddingsplan gemaak word is "vol gate". Pathitis gee geen verdere besonderhede nie.
Meer oor:  Hamleys  |  Philip Paphitis  |  Maatskappye  |  Speelgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.