Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hospitaal wil mense sonder medies só help
Dr. Shrey Viranna (42), wat in Februarie die uitvoerende hoof van die Life Healthcare-groep geword het.

Die hospitaalgroep Life Healthcare beplan om teen 2020 ook in radiologie in Suid-Afrika uit te brei om te deel in die R8,8 miljard se besteding aan dié dienste in die private gesondheidsorgbedryf.

Dr. Shrey Viranna, uitvoerende hoof van die Life Healthcare-groep, het op ’n aanbieding aan beleggers oor die groep se resultate vir die halfjaar tot einde Maart uitgewei oor die planne om na dienste buite gewone hospitaalversorging uit te brei.

Life Healthcare het 50 gewone hospitale waaruit hy R7,7 miljard se inkomste verdien.

Daarbenewens verdien hy R503 miljoen uit sewe rehabilitasiesentrums; agt psigiatriese eenhede; 26 dialise-eenhede en vyf onkologie-eenhede.

Gesondheidsdienste wat insluit kontrakte met die staat om gesondheidsdienste te lewer, en beroepsgesondheidsdienste wat aan groot maatskappye gelewer word, verskaf R609 miljoen se inkomste.

Die groei waarin Life Healthcare gaan belê, fokus op die versekerde mark van 8,8 miljoen lewens, asook op die sowat 11 tot 13 miljoen werkendes wat nie lid van ’n mediese fonds is nie.

In die versekerde mark word op aanvullende gesondheidsdienste buite hospitale gefokus. Die groei daar is baie vinniger as sy tradisionele hospitale. Dit sluit in eenhede wat dienste vir geestesgesondheid, fisiese rehabilitasie en dialise verskaf.

Volgens Viranna het Life besluit om ook die oorsese kennis wat hy met Alliance Medical in radiologie opgedoen het, hierheen te bring.

Hy sê Life wil in die R8 miljard-besteding deur die private sektor op radiologie deelneem.

“Omdat die aantal versekerde lewens nie groei nie, kyk ons na nuwe geleenthede vir groei daar.”

Die hospitaalgroep Life Healthcare is besig om geleenthede in die onversekerde mark te ondersoek.

Viranna sê Life wil ook geleenthede in die onversekerde mark ondersoek. Hy sê daar is wêreldwyd ’n besef dat weens die koste van gewone hospitale daar na behandeling buite hospitale verskuif moet word.

“Ons besef ons moet daar begin terwyl ons steeds suksesvol is met ons gewone hospitale.”

Volgens hom gaan hulle egter daarmee na ’n “heel nuwe marksegment” kyk.

“Ons wil nie dié versorging in ’n statiese versekerde mark aanbied nie, maar wil kyk hoe ons die res van die verbruikers in Suid-Afrika kan bereik.”

Viranna sê omdat tradisionele primêre gesondheidsorg nie noodwendig die opbrengs op kapitaal gee wat die groep tradisioneel lewer nie, kyk hulle daarna om ’n sakemodel te ontwerp wat verskil van die “tradisionele sakemodel van fisiese infrastruktuur waar dokters leiding gee” na ’n meer “analitiese en verpleër-geleide model”.

Volgens hom is dit ’n sakemodel wat vinnig uitgebrei kan word en terselfdertyd gaan dit ’n opbrengs op kapitaal bied wat aantrekliker is omdat minder kapitale besteding nodig is om die eenhede op te rig.

Die kombinasie daarvan en dat verpleërs gebruik word om die versorging te lei, maak dat dié dienste teen pryse gebied kan word wat 50% tot 70% onder die soortgelyke dienste is wat gewoonlik in primêre gesondheidsorg buite hospitale gelewer word.

Hy sê hulle wil ook dié nuwe model vir versorging buite tradisionele hospitale en radiologie aan die staatsdiens probeer lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.