Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hotelle, motorgroepe en myne ent nou in

Werknemers van talle ondernemings, hul families en omliggende gemeenskappe kan nou by verskeie werkgewers as deel van die nasionale inentingsveldtog ingeënt word.

FOTO: Carina Roux

Sun International het Donderdag bekend gemaak hy is die eerste onderneming in die gasvryheidsbedryf wat nou inentings sal begin doen by sy Sun City-vlagskiphotel in Noordwes.

Volgens Brett Hoppe, hoofbestuurder van die Sun City-hotel, sal die werknemers van die hotel voorkeur geniet met die inentings.

Selfs diensverskaffers en konsessiehouers sal by Sun City ingeënt word en daarna sal familielede asook die breër gasvryheidsbedryf se werknemers in die streek ingeënt word.

Sun City mik om 750 mense per dag by die hotel in te ent. In totaal wil hy al 7 500 mense wat vir inenting in die betrokke fases geoormerk is binne twee maande ingeënt hê.

Sun City het 15 verpleegsters tot sy beskikking wat elk 50 mense per dag kan inent.

Die hotel het ook aangekondig dat die inentingsprogram ’n uitreikprogram sal insluit om ander inwoners van die onmiddellike omgewing in te sluit.

“Ons wil natuurlik ons personeel beskerm, maar dit is vir ons net so belangrik om te sorg dat daar na mense omgesien word wat in ons plaaslike gemeenskappe woon,” sê Hoppe.

Die inentings sal Saterdag by Sun City begin.

Intussen het Nissan Suid-Afrika ook aangekondig dat sy werknemers in ’n soortgelyke program by sy Rosslyn-aanleg in Pretoria ingeënt sal word.

Nissan mik om 5 000 mense by sy inentingslokaal in Rosslyn in te ent. Die maatskappy sal benewens sy werknemers ook diensverskaffers hier inent.

Die geregistreerde lokaal sal mense ingevolge die nasionale inentingsprogram inent, dus tans mense van ouer as 35.

Dit volg op die aankondiging van die myngroep Sibanye Stillwater wat in Junie gesê het sy mediese geriewe by vier van sy myne het akkreditasie gekry om werknemers te mag inent. Die myngroep wil ook die familielede van sy mynwerkers en lede van die omliggende gemeenskappe inent.

Sibanye sê die vier persele is die Marikana-myn in Noordwes, die Libanon- en Driefontein-myn in Gauteng en die Beatrix-myn in die Vrystaat.

Inentings sal ook volgens die nasionale inentingsprogram geskied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.