Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hou Charles King se hande van Tegeta af, sê Gwede
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne. Foto: Lisa Hnatowicz

“Julle gee Optimum nie aan daardie skurke nie.”

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het Dinsdag op ’n platinumkongres in Johannesburg gesê hy het dié opdrag aan die sakeredders van agt Gupta-maatskappye gegee met verwysing na die verkoop van Tegeta Exploration & Resources aan Charles King.

Oakbay Resources, die beheermaatskappy van Tegeta, het in Augustus aangekondig die Switserse maatskappy Charles King gaan Tegeta vir R2,97 miljard koop.

Tegeta besit onder meer die Optimum-steenkoolmyn wat steenkool aan Eskom lewer.

Mosebenzi Zwane, toe nog die minister van minerale bronne, het die transaksie op dieselfde dag verwelkom.

Nou sê Mantashe Charles King is net die Guptas in “ ’n ander gedaante”.

Charles King

Volgens registrasiedokumente wat van die Switserse handelsregister Zefix verkry is, is Charles King op 17 Februarie 2011 as ’n maatskappy geregistreer.

Luidens die registrasie is die maatskappy se doel om “enige produk plaaslik en/of internasionaal te skep, te vervaardig en te versprei en om aandele in nywerheids- en/of handelsmaatskappye te besit”.

Amin al Zarooni word as eienaar aangedui.

Die ondersoekende joernaliste van amaBhungane het berig luidens die #GuptaLeaks-e-pos het Zarooni ’n familielid van die Guptas gehelp om ’n onderneming in Dubai te registreer.

Tegeta is intussen op 19 Februarie saam met Optimum en die Koornfonteinmyn in sakeredding geplaas met Louis Klopper en Kurt Knoop as die sakeredders.

Die transaksie met Charles King was in Februarie nog nie afgehandel nie.

Klopper het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê dit lyk nou, nadat hulle al hoe meer vrae oor die transaksie begin vra het, of die Gupta-maatskappye iets het om weg te steek.

Die sakeredders is nou skielik toegang tot alle persele van die agt maatskappye in sakeredding geweier, asook toegang tot verdere dokumente.

Hiersonder kan die sakeredders nie hul werk doen nie en hulle het dus by die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om ’n dringende interdik sodat hulle toegang tot die persele en die dokumente kan kry.

Klopper sê hulle vermoed die skielike besluit om toegang te weier, spruit uit die toenemend ongemaklike vrae wat die sakeredders oor die Charles King-transaksie begin vra het.

Gevaarligte

Dit is nie die eerste keer dat gevaarligte oor dié transaksie flikker nie. Charles King het glo reeds ’n eerste betaling van R66 miljoen gedoen.

Die Reserwebank het die transaksie egter bevries.

Die bank sê in ’n brief (wat deel vorm van die sakeredders se hofaansoek) wat op 29 Maart vanjaar aan Tegeta gestuur is dat “geen aandele, bates of belange wat deur of namens Tegeta gehou word sonder die bank se spesifieke goedkeuring verkoop, oorgedra of andersins van ontslae geraak mag word nie”.

Die bank vra ook dat die maatskappy binne 14 dae alle inligting oor enige bestaande of beplande ooreenkomste wat verband hou met die “verkoop, oordrag of verplasing van aandele, bates of belange” aan hom moet verskaf.

Hy wil ook alle inligting oor die betaling van R66 miljoen in die hande kry.

Toekoms

Die sakeredders het intussen ’n plan gemaak om te verseker dat bedrywighede by Optimum en Koornfontein vir minstens die volgende jaar sal voortgaan.

Klopper het Dinsdag gesê die sakeredders het ’n kontrak van een jaar onderteken waarvolgens 200 000 ton steenkool per maand deur die Britse maatskappy Vitol via Burgh Group Holdings uitgevoer gaan word.

Klopper het dit baie duidelik gestel dat die myne nie verkoop is nie.

Dié kontrak sal egter help om die myne weer aantreklik genoeg te maak sodat dit moontlik later verkoop kan word.

Bykomende bron: Mail & Guardian

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.