Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Huis opknap al hoe meer ’n luukse – Italtile
Jan Potgieter, wat in Desember van bedryfs- tot uitvoerende hoof van Italtile bevorder is. Foto: Italtile

Verbruikers van alle inkomstegroepe beskou besteding aan hul huis al hoe meer as ’n luukse.

Indien hulle wél geld aan huisverbeteringe bestee, doen hulle eers omvattend navorsing.

Brandon Wood, finansiële hoof van Italtile, sê ondanks dié uitdagende omstandighede kon die groep markaandeel wen danksy sy kombinasie van “goeie produkte, goeie diens en sy gerespekteerde handelsname”.

Italtile besit die winkels CTM, Italtile en Top T, wat teëls en ander vloerbedekkings en badkamerprodukte verkoop, asook belange in die teëlvervaardigers Ceramic Industries en Eeze Tile.

Die groep kon daarin slaag om stewige tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Desember te lewer.

Top T, wat op die laerinkomstemark gemik is, het veral geskitter. Tien nuwe winkels is in die halfjaar oopgemaak, Top T het sy eerste, baie suksesvolle televisieadvertensie bekend gestel en heelwat nuwe produkte en produkreekse is in die winkels bekend gestel.

In syfers
  • Omset styg met 14% tot R3,5 miljard
  • Handelswins styg met 12% tot R594 miljoen
  • Dividend styg met 14% tot 16c per aandeel
  • 11 nuwe winkels; groep het nou 156 winkels, 16 van hulle in die res van Afrika
  • Verkope in winkels wat ook in dieselfde halfjaar van 2015 oop was, het met 8,8% gegroei, effens beter as die gemiddelde prysstygings van 7,6%.
  • Die basiese wesensverdienste per aandeel styg met 15% tot 51,1c en wesensverdienste per aandeel met 7% tot 46,6c.

Italtile waarsku dat die eerste helfte van sy boekjaar gewoonlik beter is as die tweede, grootliks omdat Desember daarin val. Dit is wanneer baie mense bonusse kry of hul stokvel uitbetaal, en hulle probeer voordeel trek uit feestydpromosies.

Boonop gaan die tweede helfte van die boekjaar unieke uitdagings bied.

Een van die mededingende voordele waarop Italtile hom die afgelope paar jaar kon roem, was dat hy nie oorgelewer was aan die wisselvallige rand nie omdat nagenoeg 80% van sy teëls en badkamerprodukte plaaslik vervaardig word.

Wood sê in die afgelope halfjaar het “opportunistiese invoerders sowel as gevestigde mededingers voordeel getrek uit sporadiese randkrag” en heelwat produkte ingevoer. Wood sê dit beteken daar is baie meer produkte op die mark as wat die vraag regverdig, wat “prysmededinging oor die volgende paar maande sal laat toeneem”.

Dis dalk goeie nuus vir gewone verbruikers wat opknappings oorweeg, maar nie juis vir die maatskappy nie. Wood verwag dat hul winsgrens onder druk gaan kom.

Die maatskappy het in die halfjaar drie CTM-winkels en drie Italtile-winkels ’n kontemporêre nuwe voorkoms gegee en tegnologie geïnstalleer wat verbruikers se ervaring kan verbeter.

Top T, wat op die laerinkomstemark gemik is, het sy eerste TV-advertensieveldtog bekend gestel en Wood sê die resultate daarvan was bevredigend.

In die tweede halfjaar sal Italtile bedryfskoste probeer verminder en die verskaffingsketting selfs doeltreffender probeer maak. Groot klem sal daarop geplaas word om diens aan verbruikers te verbeter “om markaandeel te behou en te wen”.

“Ons het ’n optimistiese langtermynvooruitsig vir die toekoms van die onderneming in Suid-Afrika en vir die geleenthede wat nog bestaan.”

Dit is die laaste stel syfers wat grootliks voor Nick Booth se deur gelê kan word. Booth tree einde Februarie af, maar het reeds in Desember die leisels oorgegee aan Jan Potgieter, wat van bedryfshoof tot uitvoerende hoof bevorder is.

Die halfjaarsyfers is egter net onder Wood se naam uitgereik.

Booth het 15 jaar by Italtile en sy filiale gewerk, twee daarvan as uitvoerende hoof.

Meer oor:  Italtile  |  Huisverbeterings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.