Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Iata smeek regerings om lugdiensgeld te gee

Die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) het regerings in Afrika gevra om lugdienste se geld wat hulle terughou vir hulle terug te gee.

Alexandre de Juniac, uitvoerende hoof van die Internasionale Lugvervoervereniging, by die vereniging se jaarvergadering vandeesweek in Sydney, Australië.Foto: Iata

Volgens Iata, wat sowat 290 lugdienste wêreldwyd verteenwoordig, was daar teen einde verlede jaar $4,9 miljard se geld van lugdienste wat regerings geblokkeer het.

Angola, Zimbabwe en Soedan hou saam $632 miljoen of sowat R8 miljard se inkomste terug wat lugdienste uit kaartjieverkope in dié lande ingesamel het en weier dat dit gerepatrieer word.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is een van die lugdienste wat onder dié gebruik ly en daar is sowat R1,5 miljard van die SAL se geld nog in Angola vasgekeer.

Alexandre de Juniac, uitvoerende hoof van Iata, het by die vereniging se jaarvergadering vandeesweek in Sydney, Australië, ’n beroep op regerings gedoen om dié geld beskikbaar te stel. Daar was onlangs sukses, met $600 miljoen se geld in Nigerië wat losgekom het, en $120 miljoen van meer as $500 miljoen wat reeds uit Angola gerepatrieer kon word. De Juniac het die Angolese regering gevra om saam met lugdienste te help om die agterstand verder af te werk.

In Zimbabwe word $76 miljoen en in Soedan nog $170 miljoen teruggehou.

'Moenie oorhaastig wees'

Iata het terselfdertyd regerings wêreldwyd gemaan om nie oorhaastig te wees om lughawens te privatiseer nie. Iata-lede het eenparig op ’n resolusie besluit om regerings te vra om die langtermyn- ekonomiese en sosiale voordele van doeltreffende lughawens voorop te stel eerder as die korttermyngeldvoordele van ’n swak beplande privatisering.

De Juniac sê dis verkeerd om aan te neem die private sektor het al die antwoorde. “Lughawens is kritieke infrastruktuur en om lughawebates te verkoop net om die staatskas aan te vul, is ’n fout.”

Volgens hom het navorsing van Iata gewys private lughawens is duurder, maar sonder enige verbetering in doeltreffendheid of meer belegging. Dit is anders as met die privatisering van lugdienste waar groter mededinging tot laer pryse vir verbruikers lei.

“Ons aanvaar nie dat lughaweprivatisering tot hoër koste moet lei nie. Lughawens het aansienlike markkrag. Doeltreffende regulering is nodig om die misbruik daarvan te vermy.”

Volgens hom is vyf van die topses lughawens in Skytrax se passasierspeilings in staatsbesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.