Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
IDC red, skep meer poste as voorheen

Nagenoeg 14% van die finansiering wat die staatsbeheerde Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) in die afgelope boekjaar toegestaan het, was aan ondernemings wat in die nood was, in baie gevalle weens die pap ekonomie en swak handelsomgewing.

Die grootste deel van die 2018-finansiering was vir 74 transaksies in die metaal- en mynbou-waardekettings. Daarna volg R2,6 miljard vir 28 kliënte in ander vervaardiging, toerisme en dienste. Foto: Pixabay

Só sê Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof. Hy het die afgelope week in Bloemfontein die korporasie se finansiële syfers bekend gemaak.

Finansiering ter waarde van R16,7 miljard is in die boekjaar tot einde Maart goedgekeur; 9% hoër as in 2017.

Die totale uitbetalings vir die 2018-boekjaar was R15,4 miljard – 40% hoër op ’n jaargrondslag.

Die volle goedgekeurde bedrae word weens redes soos transaksie-kansellasie of uitstel van projekte nie altyd in dieselfde jaar uitbetaal nie. Van dié R15,4 miljard is:

  • 39% gebruik vir kapasiteitsuitbreiding;
  • 33% vir beginnerondernemings; en
  • 14% vir verandering in eienaarskap of eienaarskap-uitbreiding.

Nonkululeko Dlamini, finansiële hoof, sê hoewel waardedalings met 178% opgeskiet het tot R2,65 miljard en ’n negatiewe invloed op die IDC se syfers gehad het, het die korporasie steeds ’n netto wins van R3,2 miljard vir die jaar getoon. Die netto wins is 47% hoër as in die vorige boekjaar.

Die korporasie se bates het ook met 5% tot R137 miljard gegroei. Opgehoopte waardedalings as persentasie van die IDC se totale finansiering het van 16,7% tot 17,4% gestyg.

Dlamini sê hoewel die waardedalings onder die 20%-ratio is wat die direksie stel, het die IDC intussen ’n eenheid toegewys wat net op strategiese bestuur vir sleutelfiliale en -beleggings sal konsentreer om die situasie dop te hou en om te draai.

Die IDC moes onder meer R1,8 miljard afskryf weens die swak prestasie van Foskor, een van sy filiale en ’n rolspeler in die kunsmismark. Dié onderneming is baie sensitief vir skommelinge in die wisselkoers, sê Dlamini.

Volgens Gert Gouws, hoof van transaksie- en post-beleggingsteun, is die aard van hul beleggings dat sekere ondernemings deur sakesiklusse gaan. Die IDC se ekwiteitsportefeulje word drie keer per jaar geëvalueer en as die waarde minder is as die koste, word voorsiening gemaak vir waardedalings.

In ’n sikliese onderneming kan dit egter binne drie tot nege maande omkeer. In die vorige boekjaar het sowat R1 miljard se waardedalings weer herstel. Waardedalings is dus nie ’n permanente verlies nie.

Die korporasie het die afgelope boekjaar R2,4 miljard aan finansieringskoste betaal vir geld wat op die kapitaalmark geleen is. Volgens Dlamini is dit meer as die vorige jaar en iets wat goed beheer moet word.

Busi Mabuza, voorsitter van die IDC-direksie, sê ondanks uitdagende ekonomiese toestande het die korporasie goed presteer en deur sy finansieringshulp ’n geskatte 29 885 werkgeleenthede geskep of gered, teenoor 21 949 in die vorige boekjaar.

Die grootste deel van die 2018-finansiering, naamlik R8,7 miljard, was vir 74 transaksies in die metaal- en mynbou-waardekettings. Daarna volg R2,6 miljard vir 28 kliënte in ander vervaardiging, toerisme en dienste. Net meer as R2 miljard was vir 29 ondernemings in die chemikalieë- en farmaseutiese waardeketting.

Qhena sê finansiering aan die vervaardigingsektor, ’n pilaar vir die land se industrialiseringsdoelwit, het 46% uitgemaak van die toekennings.

Die tekstielbedryf het die afgelope boekjaar finansieringshulp van sowat R600 miljoen ontvang. Gouws sê baie kliënte besef dit is nie ideaal om tekstiel van China in te voer nie, want die modebedryf verander vinnig en afstand tussen kliënte van vervaardigers en hul verskaffer is teenproduktief.

Die IDC se inkomste vir die jaar was R14,2 miljard. Dit is laer as die vorige jaar. Volgens Dlamini is gekonsolideerde syfers van die metaalonderneming Scaw nie ingesluit nie, omdat die onderneming intussen verdeel is en die IDC ekwiteitsvennote daarvoor gevind het. Vir een van die eenhede is die proses nog nie afgehandel nie.

Qhena sê die IDC sal in die toekoms sy fokus in Afrika verskerp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.