Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
IDC se slegte skuld styg
Die IDC se kantore in Sandton, Johannesburg.

Die Industrial Development Corporation (IDC), ’n staatsbeheerde finansierder, het in 2018 tot R3,1 mjd. se slegte skuld afgeskryf.

Dít blyk uit sy jaarverslag wat Dinsdag in Bloemfontein bekend gestel is.

Die metaalonderneming Scaw Metals wat die laaste paar jaar soos ’n albatros om die IDC se nek hang, is die vernaamste rede vir dié groot verlies.

Die IDC het Scaw Metals in 2012 vir R3,4 mjd. van Anglo American gekoop, maar sedertdien sy belang aansienlik verminder. Scaw het in die 2016-boekjaar ’n verlies van R1,1 miljard gely en in 2017 R787 miljoen.

Die IDC moes ook R1,8 mjd. afskryf weens sy betrokkenheid by Foskor, ’n staatsbeheerde verskaffer van grondstowwe.

Afskrywings as persentasie van die IDC se portefeuljekoste het van 16,7% in die vorige boekjaar tot 17,4% in die huidige boekjaar gestyg.

“Die ingrypings tans by die twee ondernemings wat albei hoër verliese gely het as wat verwag is, asook die instelling van ’n toegewese departement om dié instelling en ander groot beleggings dop te hou, sal na verwagting die kwessie aanpak,” het Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, in die verslag gesê.

Ondanks die hoër vlak van afskrywings het die IDC tog sy netto wins vir die jaar tot R3,2 miljard opgestoot, teenoor die vorige boekjaar se R2,2 mjd.

Die IDC het in dié boekjaar 202 transaksies ter waarde van R16,7 mjd. goedgekeur.

Dit is 9% meer as die R15,3 mjd. wat in die vorige boekjaar goedgekeur is.

Finansiering vir swart nyweraars het in 2018 met 59% gestyg tot R7,8 miljard.

Die befondsing van vroue en jeugentrepreneurs het egter gedaal omdat “daar nie baie groot projekte met aandeelhouding deur die twee groepe was soos wat daar in 2017 was nie,” lui die verslag.

In 2017 was die IDC in die nuus weens sy lening aan Oakbay Resources en volgens Patel, onder wie se toesig die IDC val, was die IDC in November verlede jaar die eerste openbare instelling wat ’n eis by die hof ingedien het om geld van die Gupta-beheerde Oakbay te verhaal.

Die eis is vir R287 miljoen wat die IDC aan Oakbay geleen het.

Patel sê die IDC het ’n reeks maatreëls ingestel om deursigtigheid en goeie beheer te versterk.

“Dit sluit die openbare bekendmaking van al die IDC se begunstigdes sedert April 2017 in en die vervanging van KPMG as ouditeurs.”

Meer oor:  Industrial Development Corporation  |  Idc  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.