Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
IDC wil Oakbay-sage agter die rug kry
Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het die aanbieding van die IDC se resultate bygewoon en gesê sedert Junie is al die name van die entiteite met wie die IDC sedert April sake doen openbare inligting.

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) wil “so gou moontlik” die kwessie rondom sy lening aan die Gupta-maatskappy Oakbay Resources uitsorteer, het Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof van die IDC, Maandag gesê.

Die IDC het in 2010 R250 miljoen aan Oakbay Resources geleen. Die lening is later in ekwiteit in Oakbay omgeskakel.

Oakbay Resources het teen R9 op die JSE genoteer, maar sy notering is onlangs opgeskort met die aandeelprys op R5.

Qhena sê die IDC is in gesprek met Oakbay Resources om seker te maak hy kry steeds waarde uit die transaksie. Hy gee toe die situasie het sedert 2010 tot nou verander.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het ook die aanbieding van die IDC se resultate bygewoon en gesê sedert Junie is al die name van die entiteite met wie die IDC sedert April sake doen openbare inligting. “Hoewel vertroulikheid tradisioneel belangrik is vir finansieringsinstellings, is dit belangriker om die boodskap uit te stuur dat die IDC ernstig is oor integriteit en deursigtigheid, omdat hy met openbare geld werk.”

Patel het oor korporatiewe bestuur en met verwysing na die Oakbay-transaksie gesê dit is natuurlik ongemaklik om vrae hieroor te kry, maar “as die media nie die rol speel om die moeilike vrae te vra nie, sal ons as samelewing nie daarby uitkom om goed reg te stel wat verkeerd is nie”.

Thandi Orleyn, voorsitter van die IDC se etiekkomitee, sê die IDC-direksie kyk strenger na transaksies met politiek-blootgestelde persone en sal meer uitgebreide noulettendheidstudies doen.

Die IDC het in die boekjaar 3% minder leningsgeld uitgekeer as in die vorige jaar, teen R11 miljard.

’n Totaal van 175 nuwe transaksies is egter goedgekeur, wat 6% meer is as die vorige jaar en R15,3 miljard se beleggings verteenwoordig.

Die IDC het só geleen:
  • R4,7 miljard vir swart nyweraars.
  • R10,1 miljard vir swartbemagtigde maatskappye.
  • R7,7 miljard vir vervaardiging.
  • R3,2 miljard vir ondernemings waar vroue meer as 25% van die maatskappy besit.

Superwins

Die IDC se netto wins ná belasting is in die boekjaar ’n hele 887% hoër op R2,2 miljard ná die vorige jaar se wins van net R223 miljoen. Qhena verduidelik dit spruit uit ’n skerper fokus op die prestasie van sy beleggings, wat tot ’n omswaai van sekere afskrywings gelei het. Afskrywings is van R3,7 miljard tot R2,1 miljard verlaag, en die afhandeling van die eerste fase van ’n bemagtigingstransaksie vir Exxaro het kapitaalwins van R1,7 miljard bygedra.

Aandeel-gedrewe beleggings het ’n toename van 73% in wins aangeteken danksy die herstel in kommoditeitspryse, wat R963 miljoen tot die wins bygedra het.

Nonkululeko Dlamini, finansiële hoof, sê ondanks die onlangse kredietafgradering het die IDC steeds beweegruimte om sy lenings uit te brei. Sy het toegegee die afgradering beteken die IDC moet hoër rente betaal vir finansiering wat hy by banke kry.

Groenkrag

Die IDC is een van die groot finansiers van hernieubare-energieprojekte. Qhoma sê Eskom se vertraging met die sluit van kragkoopkontrakte met nuwe groenkragprojekte raak sowat R8 miljard van sy lenings aan dié projekte.

Oor die IDC se teiken om R100 miljard oor ’n vyfjaartydperk uit te leen om veral swart nyweraars te help ontwikkel, het Patel toegegee dié teiken sal nie gehaal word nie want die interne vermoë by die IDC was net nie daar om R20 miljard per jaar te kan uitleen nie.

Qhema het ontken dat die IDC onlangs deur die nasionale tesourie genader is om enige IDC-bates te verkoop om ander sukkelende staatsondernemings te steun.

Coega:

Oor vertragings met die bou van die nuwe Chinese voertuigmonteringsaanleg by Coega in die Oos-Kaap het Qhema gesê nadat bouwerk begin is, is dit gestaak omdat die IDC nie tevrede was met die proses om meer plaaslike inhoud te verseker nie.

Die aanleg sal nou eers teen Junie 2018 voltooi word, hoewel dit aanvanklik teen einde April 2018 klaar sou wees.

Meer oor:  Nywerheidsontwikkelingskorporasie  |  Oakbay Resources  |  Idc  |  Nok  |  Maatskappye  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.