Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Imperial brei uit voor hy self oorgeneem word

Die logistiekgroep Imperial gaan die J&J Group vir R4,4 miljard oorneem.

Die hawe van Beira in Mosambiek.

Dis ’n geval van ’n middelgrootte vis wat nou eers ’n klein vis insluk voordat ’n nog groter vis hóm binnekort gaan insluk, want Imperial self gaan binnekort deur die Dubaise logistiekgroep DP World vir R12,7 miljard oorgeneem word en van die JSE denoteer.

Volgens Imperial het DP World ingestem tot sy jongste transaksie om J&J oor te koop.

J&J is meestal betrokke in die vervoer van losmaatvrag, vraghouers, brandstof, projekvrag en abnormale vrag in die Beira- en Noord-Suid-vragkorridor tussen Mosambiek, Zimbabwe, Zambië, Suid-Afrika, Malawi en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Die Beira-korridor verbind die hawe van Beira in Mosambiek via ’n pad-, spoor- en pypleidingnetwerk met Zimbabwe, Malawi, Zambië en die DRK.

Die Noord-Suid-korridor verwys na die pad- en spoorverbindings tussen die DRK en die ander genoemde lande tot in Suid-Afrika. Albei dié vragkorridors is van strategiese belang vir die lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.

Die oorname sal Imperial help om sy oorgrens-vervoerdienste in Afrika te verbeter, het Mohammed Akoojee, uitvoerende hoof van Imperial, Donderdag in ’n verklaring gesê.

Die J&J Group het goedgevestigde roetes in die betrokke vragkorridors wat hy bedien, asook hawevermoëns, ’n vloot vragmotors, pakstoorgeriewe van 45 000 m², asook ’n gevestigde klantebasis.

Hul strategiese bates sal bydra tot Imperial se aanbod en sal die groep se toegang help uitbrei na kritieke handelsnetwerke, wat Imperial se reikwydte in Afrika sal konsolideer, volgens Akoojee.

Imperial sal die transaksie uit sy kontantbronne en bestaande leningsgeriewe finansier en sal in drie fases betaal. In die eerste fase sal hy 51% van J&J se aandele koop, daarna 46,5% en dan 2,5%. J&J het in die boekjaar tot einde Desember 2020 ’n nabelaste wins van R193,6 miljoen behaal.

J&J is in 1995 gestig. Een van sy ondernemings is Beira Logistics Terminals wat in 2012 begin is om vragte kunsmis en minerale deur die hawe van Beira te verwerk. Hy het drie pakstore in Beira.

Meer oor:  Imperial  |  Infrastruktuur  |  Logistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.