Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
In moderne Game kan jy tot jou inkopies self oplui

Die kettingwinkelgroep Game se omkeerstrategie maak vordering met die bekendstelling van sy nuwe voorkoms in sy winkel in die Mall of Africa in Midrand, Gauteng.

Die nuwe voorkoms van die Game in die Mall of Africa in Midrand. Die veranderinge is die afgelope jaar in fases gedoen en is nou voltooi. Die winkel word op 23 September amptelik geopen. Foto: Verskaf

Volgens Andrew Stein, hoof van Game, word die winkelkonsep nou hier uitgetoets, maar nog twee word beplan voor die einde van die jaar.

Hy het aan Finweek gesê Game was histories een van die genoteerde Massmart-groep se bestendige presteerders, maar sy prestasie het die laaste paar jaar agteruitgeboer en verlede jaar tot ’n verlies gelei.

Boonop het Game se verlies in die halfjaar tot einde Junie vanjaar verdiep weens die impak van die staat van inperking. Sy verkope het met byna 12% tot R8,3 miljard gedaal.

Aggressiewe promosies is verminder omdat ’n strategie gevolg gaan word om “deurgaans lae pryse” te bied, het Mitch Slape, uitvoerende hoof, onlangs gesê.

Hy het gesê Game se omkeer gaan nie oor ’n “heel nuwe formaat of blink doelwitte nie” maar om die basiese dinge van kleinhandel reg te kry.

Hy het in Januarie aangekondig vars produkte gaan van Game se rakke gehaal word en klere word teruggebring.

“Dit is belangrik, want klere het ’n hoër winsmarge en dit verminder ook die koste van ’n winkel ten opsigte van elektrisiteit en toerusting wat nodig is.”

Outomate waar klante produkte kan koop is ook nuut. Foto: Verskaf

Teen einde van die halfjaar in Desember wil Game klere in 51 van sy winkels hê en binne ’n jaar in al 122 winkels.

Stein het in Januarie op ’n aanbieding gesê die handelsnaam het minder relevant geword en sy produkaanbieding is deurmekaar. Hy het ook gemeen die bedryfsmodel is te afhanklik van promosies. Ander probleme is voorraad van belangrike produkte wat opraak en lang rye by kasregisters.

Hy het gesê die swak kategorieë word uit Game gehaal soos vars en bevrore kos, musiek en flieks.

Nuwe winkelformaat

Stein sê die Game in die Mall of Africa is ’n nuwe winkelkonsep met ’n meer moderne gevoel en voorkoms. “Dit toon die nuwe rigting waarin ons wil beweeg met die hele omkeer van die onderneming,” sê hy.

Kasregisters waar klante hulself kan bedien is bekendgestel. Foto: Verskaf

Die nuwe voorkoms is die gevolg van konsultasie met belangrike rolspelers in die onderneming, marknavorsing en ’n interne hersiening van wat Game relevant maak in die kleinhandelsektor in Afrika.

Hy sê internasionale en plaaslike tendense en beste praktyk is ook ondersoek om klante weer die spilpunt te maak van die aanbieding.

Game het pryssensitiewe klante, wat ’n wye reeks produkte teen “onverbeterlike pryse” soek.

Innovering

Van die innoverings wat in die winkel getoets word, is masjiene waar pryse nagegaan kan word, outomate met monsters van produkte, elektroniese etikette op winkelrakke en gratis Wi-Fi vir klante.

Die winkel het ook ’n speelplek vir kinders, digitale aanrakingskerms waar klante inligting oor produkte kan nagaan asook interaktiewe plekke waar verbruikers produkte soos fietse en elektroniese produkte kan uittoets.

Volgens Stein verander Game die manier hoe hy sy winkels bedryf, die winkeluitleg, produkreekse en kliëntediens.

Bedryfsdoeltreffendheid

Hy sê die doel van die veranderings is om klante se totale ondervinding te verbeter.

Die idee fokus daarop om klante “tyd en geld te bespaar”.

Tyd is bestee om spesifieke kopsere wat klante het met die winkels te ondersoek en uit te pluis hoe om dit op te los.

“Te midde van die pandemie wil verbruikers veilig en naatloos inkopies doen en minder tyd in die winkel bestee, lang rye vermy en minder winkels besoek.”

Van die innoverings is verandering aan die ontwerp sodat dit vir klante makliker is om produkte te vind en kasregisters waar klante self hul produkte kan oplui. Dit is ’n loodsprojek om die reaksie van Suid-Afrikaanse klante te toets.

“Dit beteken nie poste gaan verminder word nie. Dit is bykomend tot kasregisters wat deur personeel beman word.”

Sekere bykomende tegnologie is bekend gestel om bedryfsdoeltreffendheid te verbeter. Dit sluit in:

  • QR-kodes op produkte laat klante toe om dit te skandeer om inligting oor die produk te kry.
  • ESL-tegnologie gee personeel inligting oor verkope, hoeveel dae se voorraad beskikbaar is op die vloer en hoeveel voorraad in die stoorkamer is.
  • Slimetikette maak dit makliker om voorraad in die stoorkamer op te spoor en te bestuur.
  • Trackmatic-tegnologie laat Game toe om die vragmotors wat voorraad vervoer na te spoor en dit gee groter sigbaarheid aan die winkelgroep oor watter voorraad op pad is en hoeveel voorraad vervoer word; en
  • Slimkameras: Dit help Game om lang rye klante in winkels te bestuur.

Volgens Stein het Game onlangs ook na ’n nuwe stelsel verskuif (SAP S4/HANA) wat die winkelgroep se vermoë ten opsigte van dataontleding wesenlik verbeter terwyl dit bedryfsdoeltreffendheid verbeter en integrasie met die aanlyn winkel verseker.

Stasies waar klante interaktiewe tyd met die produkte kan hê is bekendgestel. Foto: Verskaf

Dié dataontleding verseker dat die optimale verskeidenheid produkte volgens elke winkel se verbruikersdemografie verseker kan word.

Kategorieë uitgebrei

Die winkelgroep stel ook nuwe kategorieë bekend en brei van die bestaande produkkategorieë uit as deel van sy omkeerstrategie, insluitende klere, produkte vir partytjies, ouerskap, kinderboeke, sekuriteit en welstand.

Een uit elke vier groot huishoudelike toestel en TV word in Suid-Afrika by ’n Game verkoop, sê Stein. Daarom gaan die winkelgroep voort om dié gunstelinge aan te bied.

Massmart se private-etiketprodukte vir DIY gaan ook verkoop word, soos FiredEarth, Powerworx en Lightworx.

Klere is terug op Game se winkelrakke as een van die nuwe kategorieë wat bekend gestel word. Foto: Verskaf
Die Game-winkel in die Mall of Africa het kasregisters waar klante hulself kan bedien. Foto: Verskaf
Van die produkkategorieë is uitgebrei. Foto: Verskaf
Die uitleg van winkels is ook verbeter.Foto: Verskaf
Die ou gunstelinge is nog steeds op die vloer. Foto: Verskaf
Die vloerplan maak dit makliker om produkte te vind omdat klante midde die pandemie minder tyd in winkels wil bestee. Foto: Verskaf
Welstandprodukte is ‘n nuwe kategorie wat bekendgestel word. Foto: Verskaf
Meer oor:  Massmart  |  Game  |  Mitch Slape  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Klerekleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.