Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
In te veel direksies? Nog nooit!

As jy sukkel om kop bo water te hou met jou voltydse werk en persoonlike lewe, dink ’n bietjie aan die sakelui wat ’n voltydse toppos het én in die direksie van nege verskillende maatskappye dien.

Jannie Durand van Remgro. Hy dien in agt direksies.

Maar dié tendens om soveel ysters in die vuur te hê, word toenemend veroordeel deur aandeelhouers wat voel daar is nie behoorlike toesig in direksies nie.

Internasionaal word daarna as “over­boarding” verwys en dit is so ’n probleem dat die Europese Unie ná die finansiële krisis in 2008 regulasies ingestel het om mense se direkteurskappe te beperk. Onlangse skandale soos die Steinhoff-debakel waar die direksie gelaai was met van die land se mees gerespekteerde sakelui wat nie die skrif aan die muur kon sien nie, het die kollig op direkteure verder verskerp.

Cy Jacobs, medestigter en direkteur van 36ONE Asset Management, het die kwessie weer die afgelope week aangeroer toe dit as een van die grootste risiko’s vir beleggers geïdentifiseer is. “Hulle kan nie by alles uitkom nie,” het Jacobs aan Moneyweb gesê.

Die ouditfirma PwC se jaarlikse verslag oor nie-uitvoerende direkteure wat verlede maand uitgereik is, sê daar is nou effens minder sakelui wat hulself aan etlike maatskappye verbind.

Verlede jaar was daar 1 persoon wat in die direksie van 10 genoteerde maatskappye gedien het. Vanjaar was daar net 2 persone wat in 7 direksies gedien het, 7 mense in 6 direksies en 13 in 5.

“Dis ’n gesonde tendens,” lui die verslag.

Data wat deur Who Owns Whom verskaf is vir die City Press Wealth Index wys egter ook verskeie ander besige sakelui uit.

Chris Seabrooke sê die 10 direksies waarop hy tans dien, is te veel. Foto: Massmart

Chris Seabrooke is die uitvoerende hoof van die beleggingsmaatskappy Sabvest. Benewens sy voltydse werk, dien hy in nege direksies van openbare maatskappye. Vir drie van dié maatskappye – Metrofile Holdings, Net 1 en Transactional Capital – is hy boonop die voorsitter met bykomende verpligtinge.

Seabrooke het aan Rapport gesê hy besef hy het te veel hooi op sy vurk en gaan afskaal. Een van die maatskap­­pye in wie se direksies hy dien, Torre, gaan gedenoteer word, terwyl hy ook kennis gegee het hy gaan teen einde September bedank uit die direksies van Mass­mart en Datatec.

“Dus sal ek net in ses direksies wees teen die einde van die jaar. Dis rêrig vir die individu om te besluit wat die werkslading is wat hulle kan hanteer,” sê Seabrooke.

“Ek het seker gemaak dat ek genoeg tyd het om behoorlik aandag aan die vergaderings te skenk. Maar ek het gevoel dat ek op die oomblik te veel verpligtinge het en dis hoekom ek inkort.”

John Copelyn, uitvoerende hoof van die beleggingsgroep Hosken Consolidated Investments (HCI), is ’n direksielid van sewe genoteerde maatskappye.

John Copelyn meen dis nie te veel druk om oor sewe maatskappye gelyk wag te hou nie.

Copelyn sê omdat hy die baas is van ’n beleggingsgroep wat in ander genoteerde maatskappye belê, is dit kritiek belangrik om in die direksies te dien van die maatskappye waarin HCI ’n belang het.

Volgens hom is daar ander beleggingsmaatskappye se base wat in nog meer private maatskappye se rade sit. Copelyn sê dis heeltemal haalbaar om in sewe direksies te dien.

“Om voor te berei vir die vergaderings is nie moeilik nie. Die idee dat jy nie behoorlik kan voorberei nie omdat jy in sewe direksies dien, is net nie geldig nie.

“As jy vier keer per jaar vergader, met miskien drie subkomiteevergaderings by, is dit sewe vergaderings (per direksie). Dus ’n vergadering elke twee maande. Selfs al het jy ’n vergadering elke twee dae, dink jy dis baie druk?”

Seabrooke sê die werkslading vir direkteure het die afgelope jare toegeneem en dat dit amper ’n voltydse werk is. Die reis, veral na vergaderings, neem ook baie tyd in beslag.

“Die werk wat ’n direkteur insit, is baie meer as om net by ’n vergadering op te daag.”

Seabrooke stem saam dat beleggingsmaatskappye se hoofde ’n spesiale geval is, maar hy sê hulle moet ook ander mense benoem om die maatskappy te verteenwoordig wanneer dit te veel raak.

Piet Mouton van PSG dien in ses direksies.

Ander Suid Afrikaners wat van een direksievergadering na die ander jaag, sluit in Remgro se Jannie Durand (agt) en die PSG-groep se Piet Mouton (ses).

In die PwC-verslag word bereken dat ’n direkteur wat in vyf direksies dien, minstens 40 vergaderings per jaar bywoon. Elke direksie het minstens vier vergaderings per jaar.

’n Direkteur is ook lid van minstens een direksiekomitee in elk van die vyf direksies, wat nog 20 vergaderings per jaar vereis.

Seabrooke se persoonlike siening is dat vier tot ses rade die optimale getal is vir direkteure om in te dien. Op 30 November 2017 was daar altesame 2 257 nie-uitvoerende direkteure op die JSE, nege meer as verlede jaar, en die meerderheid (1 930) was net in een genoteerde raad.

Meer oor:  Pwc  |  John Copelyn  |  Korporatiewe Beheer  |  Direksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.