Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Infrastruktuur ‘is in ’n krisis’ – Aveng

Die Suid-Afrikaanse mark vir infrastruktuur is in ’n krisis, sê Aveng, wat laatmiddag sy droewige resultate vir die ses maande tot einde Desember uitgereik het.

Aveng sê die grootste rede daarvoor is die trae ekonomiese groei, maar dis nie al nie.

’n Konstruksieperseel in Sandton, Johannesburg, waar Aveng-Grinaker LTA bedrywig is.

“Dit word vererger deur ongeëwenaarde en verspreide dreigemente van geweld, gemeenskapsonrus en betogings by konstruksiepersele wat werkgewers oënskynlik verwag kontrakteurs moet as die nuwe normaal aanvaar.”

Dié opmerkings kom van die maatskappy wat in regsaksie gewikkel is met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) omdat Aveng en sy vennoot, Strabag International, hulle onlangs onttrek het aan ’n kontrak van miljarde rande om die Mtentu-brug in die Oos-Kaap te bou. Gewelddadige betogings op die bouperseel het bouwerk volgens Aveng onmoontlik gemaak, maar Sanral beweer dinge het genoeg bedaar vir bouwerk om hervat te word.

Aveng het in die ses maande ’n wesensverlies van R770 miljoen gely, meer as dubbeld die verlies vir 2017 van R335 miljoen. Sy netto verlies van R920 miljoen was teenoor 2017 se verlies van R346 miljoen.

Mtentu, sanral
’n Argiteksvoorstelling van die Mtentu-brug, een van ’n paar brûe wat beplan word as deel van Sanral se Wildekus-tolpad. Die brug van 1,1 km lank sal die Bloukransbrug in die Tsitsikamma onttroon as die hoogste padbrug in die Suidelike Halfrond met ’n hoogte van 220 m teenoor die Bloukransbrug se hoogte van 217 m. Die konstruksiegroep Aveng en die Europese brugbouer Strabag sou dit bou. Foto: Sanral

Die groep is besig met grootskeepse herstrukturering, wat beteken hy verkoop stuk-stuk alle filiale met die uitsondering van McConnell Dowell en Moolmans.

Aveng Rail, Aveng Water en Aveng Infraset is onlangs verkoop en dit lyk asof Aveng kopers het vir Aveng Grinaker-LTA, Trident Steel en vervaardigers soos Duraset.

Aveng hoop om al sy nie-kernfiliale teen die einde van sy boekjaar, Junie 2019, verkoop te hê.

Aveng sê die sentiment in Suid-Afrika se mynbousektor is besig om te verbeter, wat Moolmans kan bevoordeel.

Dié filiaal se bedryfsverlies van R166 miljoen word toegeskryf aan probleme met twee kontrakte en koste vir die vroeë voltooiing van die kontrak om die Karowe-myn van Lucara in Botswana uit te brei.

Aveng halfjaar in syfers:
  • Inkomste daal met 17% tot R13,4 miljard.
  • Bedryfsverlies van R484 miljoen gely, teenoor wins van R94 miljoen.
  • Wesensverlies styg met 130% tot R770 miljoen.
  • Wesensverlies per aandeel daal tot 6,1c (teenoor 62,2c).

Verskeie ingrypings, onder meer bestuursveranderinge, is by Moolmans gedoen as deel van ’n omkeerplan. Die groep is versigtig optimisties dat hy vier langtermynkontrakte en een nuwe tweejaarkontrak verleng sal kan kry.

McConnell Dowell het ’n bedryfswins van R55 miljoen gemaak.

Die filiaal doen veral sake in Australië, Nieu-Seeland en Suidoos-Asië en die groep is optimisties oor vooruitsigte oor die volgende drie jaar. Die Australiese konstruksiebedryf gaan na verwagting oor die volgende drie jaar met 3% per jaar groei.

In sowel Australië as Nieu-Seeland is daar hoop op kontrakte vir paaie en spoorweë.

Politieke onsekerheid in sekere Suidoos-Asiatiese lande maak dinge minder onseker daar, volgens Aveng.

Aveng se aandeelprys is net 4c werd. Dit het Maandag met 33% gestyg, maar dit verteenwoordig slegs 1c.

Meer oor:  Aveng  |  Konstruksiesektor  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.